Bokomo-brekfisbrief; 29/11/2010: Laaste dag

  • 0

As jy nou uitvind jy het nog 24 uur op hierdie aarde, wat sal jy eerste doen? Tot watter uiterstes sal jy gaan om jou laaste dag ʼn belewenis te maak? Wie sal jy bel? Waarheen sal jy gaan? Wat sal jy wens jou laaste daad moet wees? Wie wil jy hê moet langs jou sit of staan of lê in daardie oomblik?

Ek wonder dikwels as ek die mense se grafte toegooi of hulle wense vervul is. Of hulle tevrede dood is. Ek wonder dikwels of hulle gesê het wat hulle wou en of daar mense was wat bereid was om te luister. Anderdag moes ek graf maak vir ouma ... en ek klim in die graf in en sit die beton op die kis en voor ons toemaak beduie die seun vir die kleinkinders oor die dood en wat met die liggaam gaan gebeur. Hy het beduie vooraf dat hy die klogoete wil leer dat aan alle goeie en slegte dinge daar tog ʼn einde is. En ek wonder: Het hulle vir ouma gaan dag sê of het hulle maar gedink dat ʼn 93 jarige niks met ons in gemeen het nie? Niks in gemeen nie? Wel, sy het ʼn hele paar kinders verwek so sy moes ʼn idee gehad het van dans en in donker hoekies skelm vrytjies vang. Dalk, wie weet, meer gedoen? Soos ʼn ou vrind van my dikwels beduie: "Ek is saam met my pa na die inry toe en is saam met my ma huis toe." En dit was ook al ʼn leeftyd terug.

Ek vir een sou graag die mense in my sirkel by my wou hê. Sodat hulle kan praat en mens weer vir oulaas kan luister. Ek sou graag met ʼn glasie iets in my hand wou sit en chill met Meatloaf of Mozart of AC/DC of Koos Doep of Tony G se musiek wat saggies speel. Ek sou graag na SARS toe wou stap en vir die amptenaar ʼn amptelike/official vinger wou wys, en les bes, soos my vriendin Antjie met haar skoolhoof gedoen het: Op my bankbestuurder se tafel ʼn lekker bol los. Kans is egter goed dat hy dit in die kluis gaan bere so ek gaan nie veel bereik nie. Ek sou graag die vetste Karoo-skaap se gerookte rib op die kole wou sit en die reuk van die vet wou inasem en my menthol aansteek en soos al die filosowe van ouds af wil sit en wonder oor die sin agter alles. Ek sou graag ʼn paar manne wat nou nie meer hier is nie en wie destyds as uitvaagsels beskou is weer om my tafel wou hê.

Ek wil nie om verskoning vra nie want dit help niemand om jammer te sê nie, net jouself. Maar ek sou vir die onbekende manne wat maar net opdragte uitgevoer het vir wesens wat nie verdien om asem te haal nie ʼn stywe brandewyn of goeie Kubaanse rum of sommer net ʼn Cuca-bier wou gooi. Ek sou graag wou hê dat ons afstap na my geliefde Blou Dam toe en dat ons kan sit en ganja rook tot ons mof is en dat ons dan na die branders kan sit en kyk en wag vir die Groot Geel Ene om op te kom. Ek het gedink aan ʼn paar moeders wat mens moes om verskoning vra vir hul dogters, maar die dogters het nooit gekla nie.

Ek onthou ʼn man op ʼn stoel en ek kan my sweerlik verbeel hy wou nog iets sê so met die uithardloop. Maar daai praat was op en die woorde is vir ewig gebalsem. Want wat help woorde as daar nie iemand is wat bereid is om te luister nie? As die tyd inderdaad gemeet kan word aan rand en sent?

Ek sou my GS opvat tot by Angela se graf bo in Montague-pas en vir haar die see wys. Want dit is ʼn belofte. Ek sal vir iemand graag weer wou vat na die Docks toe. En kort voor die einde sou ek soos die dag van my geboorte wou wees saam met daardie Ene. Solank sy ook haar geboortepakkie aan het.

Ons het die ganse wêreld onder ons voete en ons weet dit nie. Ons leef in die beste minute duskant die groot knal. Ons besef nie wat ons het nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top