Sy sit voor my en haar oë is wyd en verward. Sy is sewentig jaar oud en klein as gevolg van die osteoporose. 'n Klein maer vroutjie vol blou kolle. Pers vingergrepe omsingel haar smal polse, bokant haar regteroog is haar ooglid pofferig en blou. Haar linkermondhoek trek-trek en bloed syfer uit die skeur in haar onderlip. Maar dit is die oë wat my vang.
Ek sien hoe haar oë soek-soek na antwoorde iewers bokant my kop teen die wit muur van my spreekkamer. Haar ooglede is rooi en seer, want sy vryf kort-kort trane weg uit 'n eindelose bron.
'Waar het ek gefaal, dokter? Wat het ek verkeerd gedoen?'
Wat ek ook al gaan sê, gaan leeg en sonder betekenis vir haar wees. Niemand kan 'n ma se seer wegvat as haar klein blonde krulkopdogtertjie opgroei en 'n tierende geweldenaar word nie. Hierdie ouma word deur haar dogter, en selfs haar tienjarige kleinkind, geslaan, rondgeruk, van kos ontneem en oordoseer met haar pille sodat sy tog net kan uit die pad wees. In haar eie huis. Nou het die buurvrou haar skelm dokter toe gebring.
Ek sit en kyk vir die afgematte verwese vroutjie en 'n woede groter as 'n Vrystaatse donderstorm kom in my op. Ek ken haar dogter goed en het dit nie van haar verwag nie.
Met horte en stote vertel sy 'n ongelooflike storie. Drie nagte is sy verhoed om te slaap deur harde musiek en kloppe aan haar deur as sy net insluimer. Sy mag net twee snye droë brood met swart tee geëet het en is aangerand as sy sou kla oor die geraas. Na drie dae was sy so uitgeput dat sy maar die vorms geteken het waarin sy afstand doen van haar huis en haar dogter tekenreg gee op haar bankrekening.
Ek bel die siekefonds vir 'n magtiging vir 'n hospitaalopname. Nee, hulle sal verkies dat sy in 'n staatsinrigting opgeneem word. Ek is later op die case manager se case. Dit was die afgelope week hoofopskrifte in die dagblaaie dat die Vrystaatse staatshospitale geen nuwe pasiënte kan opneem nie omdat daar nie geld is nie. Uiteindelik stem die siekefonds toe dat ek haar vir vier-en-twintig uur mag opneem.
Ek bel 'n psigiater, 'n sielkundige en 'n maatskaplike werker. Almal werk saam. Vir seker kan hierdie ouma nie huis toe gaan nie. Sy kan doodgaan. Met al die verslae in die hand spring ek weer op die case manager se case.
Haar dogter weet nie van die opname nie, maar sy gaan dit hoor en môre gaan sy aangesit kom en my kom vra oor haar ma. (Ek hoop dit is eers môre en nie vandag nie, want vandag gaan ek haar nog donner, môre sal ek dit weer kan hanteer) Sy gaan vir my vertel dat haar ma demented is en dat sy haar sake vir haar moet behartig. Sy gaan sê dat Ouma geval het.
Ek ken al die stories, ek hoor dit gereeld van mishandelaars. Hulle klink so goed en hulle lyk so goed dat jy aan jou eie oordeel begin twyfel. Dan sien jy weer die oë wat pleit om te verstaan, want op die einde is dit die oë wat jou bybly. In die spreekkamer, in die hospitaal, in die hof se vuil gange en in jou nagmerries. Die oë ...
Douwlina


