Subtitel: Afrikaanse bedelaarskultuur.
Ek het myse kleintyd in die bos spandeer. Volgens Pa-HJ effens willerig grootgeword. Kyk ek na ‘n “survival” program. Die bosbewoner fluister in die mikrofoon, werskaf met sy mesapparaat, vreet spinnekoppe, al wat gogga en parra is, en hol die wêreld vol. Hy weet nie dat as jy innie bos wil oorleef, jy net hol as iets jou jaag nie.
Nou sit ek in die dorp. ‘n Groot dorp. Die grootste ene in die land. Hier praat ek nou van Jozi.
Besluit ek om die storie van naderby te bekyk en spesifiek die Afrikaanse bedelaar. Ek onthou die eerste Afrikaanse bordbedelaar. Hier in die laat sewentigs. Hy het daar by die ou skougronde met ‘n bordjie in die hand en syse dogtertjie aan sy sy gepak en gestewel gestaan. In die parkeerplek. Glo “gerightsize” en sonder heenkome en so. Almal wat verbykom was half skaam vir sy part. Dit was voorbladnuus. Rapport, as ek dit nie mis het nie. Vele aanbiedinge vir werk en hulp. Die Volk se hart het gebloei.
Sedertdien het dinge effens verander.
Hier in my omgewing is daar ‘n hele paar. Ek vat een vir ‘n bier en vra of ek mag vrae vra en skryf. Ja, reken hy solank ek net nie die familienaam noem nie. “Ek het my trots meneer”.
Klein en sonverweer. Langlippig soos ‘n voervark. Hy is ‘n ordentlike bedelaar. Hy staan hoek by ‘n robot. Dis ‘n familieding. Almal help en het ‘n beurt. Hy, sy vrouding, en die twee seuns en hulle se vrougoed. Vat shifts.
Ek bekyk sy bord. Dis nou ding wat hy soos ‘n skild teen die armoede voor hom uithou.
“Jy spel maar kak nè ...”
“Dis aspris. As ek smart woorde gebruik dink hulle vir wat bedel hy.”
“Nou hoe doen jy dit? Bedoelende van hoe maak jy mense harte lam.”
“Oogkontak meneer. Mense is skaam as jy hulle eers in die oog gekyk het. Hulle kyk dan of annerpad of gee iets. En die regte klere. ‘n Vuil sweetpak of ‘n geskeurde Pringle hemp.”
“Wie gee?”
Daar is volgens hom ‘n paar soorte gewers. Die wat glad nie, nooit nie gee nie. Die wat bietjie gee en ‘n preek afsteek. Die wat nie gee nie en ook ‘n preek afsteek. Die wat net gee. Die wat stukwerk aanbied.
“Vat jy werk?”
Hy kry so ‘n benoude kyk in die oog en vat ‘n laang sluk.
“Eks nie mal nie.”
“Is jy nie skaam nie?”
“Nee, dis ons werk.”
“Nou hoeveel maak julle per dag?”
“So tussen vyftig en tweehonderd meneer. Maal dit met die ses van ons.
“R6000 tot so R15000 per maand tussen julle? Jy betaal die volgende rondte!”
Hy lag tandloos oopbek. “Dis harde werk hierdie meneer. Ek lek die meneer se gat blink as hy ‘n dag lank hou!”
“Ken jy ander Afrikaanse bedelaars? Staan almal hoek?”
“Ja, baie. En nee jy kry baie soorte. Ons is hoekstaanders. Daar is drentelaars wat strate vat en by huise aanklop met ‘n sopstorie. Dan die regte “down en outers” wat asblikke krap. Hulle soek net zol en trein. Daar is ook die wat net sit en vrek. Hulle hou nie lank nie. Ons het ‘n familie enterpraais. Ons drink matig.”
HJ


