Soos mens die manewales en die dinge van onse mense gadeslaan, kan jy net …
“Onse Mense”, dis nou breedweg die klomp wat van huis uit ongeveer Afrikaans is. Die vet weet, ek gaan nie (NIE!) hier redekawel oor die wese van die die Afrikaner nie. Of die een en ander “behoort” al dan nie.
Vir my het die “Onse Mense” baie skakeringe. Die Tantes en die Oompies, die Muisnesmodernes en die Klipkopkonserwatiewes. Plaasjapies en Stadsjape. Visters en Bosvellers. Die wat ontwerp is en die wat skeef van ontwerp is. Die Gays en die “Straights”. Sondaars en die wat al klaar hemelwaarts mik. Ateïste, Musselmanne, Onsekeres en Soekers, Doppers en Gatjaponners. Skelmslimmes en domgatastrantes. Bittereinders en verraaiers. Ingetroudes en Oerboere, Bruines en Wittes. Bankklerke en Recces. Die hele blerrie spul.
Moet ek op ‘n Saterdag ‘n groentetjie en ‘n vleisie loop koop. Klim ek en Nefie (my jongste bulhond) in die trok en vat die pad na een van die vele koopkerke in my geweste. (Dis nou ‘n “shopping mall” vir die wat nie weet nie.) Die ene is effens anders synde dat die ding nie gange met dakke het nie. Jy loop buite om. Dis hoekom Nefie kan saamgaan. Die plek het ook ‘n amfiteater. Dis ‘n plek waar mense konsert kan hou. Met ons aankoms sien ek ‘n plakkaat wat te vertelle het dat daar in die teater, ‘n paaldanskompetisie gehou worre.
“Nefie, DIT moet ons bekyk!”
Nefie is te jonk om van paaldans te weet en snork maar geduldig saam. Die spulletjie is al aan die gang en ons staan maar so agterlangs. Een groterige ou gee Nefie so ‘n kyk en sy oge sê vir my “As die brak hier pis, kak jy!” Nie dat Nefie sal nie. Ek bedoel. Hy is ‘n ordentlike hond.
Die seremoniemeisie kondig die danseressies so een na die ander aan. Hulle het ‘n staalpaal maak staan in die middel van ‘n houtverhogie. So ‘n blinke. Ek skat so drie meter hoog. Die idee is dat die skamelgeklede dogters op lekker wille musiek, hulle se lyfies om die ding draai. Soos koeksisters.
Eenkant sit drie beoordelaars. Twee dametjies en ‘n mannetjie. Die dametjies is ernstig en is ‘fensie’ uitgevat. Die mannetjie lyk benoud. So asof hy bang is syse pêlle kom agter van die ding waarin hy hom begeef het. Terloops, ek merk op dat die mannetjie elke keer dieselfde “merk” gee. Agt uit tien. Hy het duidelik besluit dat hy in hierdie storie, nie gaan kant kies nie. Nogal slim van hom.
Die ouderdomme van die paalsters wissel oor die volle spektrum van dagoud tot naby horingoud. En van rietskraal tot dik in die dif. Ek kom ook agter dat meeste van die toeskouers en paalsters familie van mekaar is. Die paalsters wriemel en wikkel en hang en swaai. Die paal raak nat van al die sweterige handjies en sommige val af. Ander klou verbete! Die gehoor doen orgasmies mee!
“Looi hom Essieee!”
“Toemaar Tiensieeee! Klim weer op Tiensieee!”
“Aita patatta! Wys hom my kiiind!”
“Mamma, jy’s ‘n champ mammaaaa!”
“Charmie, onthou jou mooove! Wikkel daai boude!”
“Altie!, pous Altie, pous!” En Altie ‘pous’… “Jirre, pappa, daai kind het potensiaal!”
Uiteindelik is die petalje verby en die seremoniemeisie maak die tellings bymekaar. Die damesbeoordelaars is duidelik vies vir die mannetjie se “merke”, maar hy het sy stoel al klaar so effens weg van die tafel geskuif. Daar is so ‘n effense paniektrek om sy bek. Die Paalsters staan almal netjies in ‘n ry. Uitasem en sweterig. Gespanne. Hier is duidelik nie gespeel nie.
“En die wenner is … “Roooo… nellllle!” Die wenner is duidelik verskriklik in haar skik, gryp die paal en “pous”. Die res bars oombliklik in trane uit.
Herre mens. Dis erger as ‘n laerskool rugbywedstryd! Almal bulder en beduie gelyk.
Die dametjiebeoordelaars is verslae. Mammies troos. ‘n Pa juig. Paalsters huil. Daar word met regstappe gedreig. Twee pappies gryp mekaar voor die bors. Die staalpaal hang skeef. Die seremoniemeisie probeer haar stemmetjie bo die lawaai verhef. Vergeettit! Die beoordelaarmannetjie hol verby. Hy weet wanneer om sy gat skraal te hou.
Ek en Nefie blaas stil die aftog. Ek het amper vergeet van die groentetjie en die vleisie. Myse mense. Kan net lief wees vir hulle.
HJ


