Bokomo-brekfisbrief; 29/05/09: Brood vir die geelvink

  • 0

 

 

Ek maak vroegoggend die agterdeur oop. Ek gaap lui terwyl ek my voorkop teen die veiligheidshek se tralies druk. Lekker lui en halfwakker beskou ek my klein agterplaas.

Die tuinslang lê in die een hoek en die storm het laasnag blare en takkies daarteen opgehoop. Die reën het ook opdrifsels daarteen gestoot. Die wasgoeddraad is nou wel nuut oorgeverf, maar die "PWD brown" vertoon maar lelik teen die groen van die bure se een boom wat so oor die agterplaas leun. Êrens moet ek seker vandag maar 'n plan maak, die agterplaas vee en daardie potplant se takke kort knip. Miskien later, net nie nou nie ...

Ek gaap weer en draai om om die ketel aan te skakel vir die nodige energie-inspuiting van koffie.

'n Skielike geskril laat my omdraai en ja, daar is hy. Gielie die geelvink wat in die bure se boom huis opgesit het, roep my. Ek staan nader, maar hy skrik nie en wyk nie vanaf sy posisie op die wasgoeddraad nie.

Hy fladder sy vlerkies, pof sy kleine geel veertjies uit en kwetter aanmekaar.

Ek kyk hom so en dink daaraan dat wat ek in kilogram weeg, hy in milligram weeg. Hy is skaars 'n handvol, maar het 'n attitude soos min.

Weer spring hy nader en daar is nou skaars 'n meter spasie tussen ons: hy op die wasgoedraad en ek agter die tralies. Hy roep my en vra so mooi dat ek eenvoudig nie sy blatante gebedel kan ignoreer nie.

Ek draai om, trek die brood nader en haal 'n sny uit. Ek verkrummel dit - nie te fyn nie - en neem dit in my hand. By die agterdeur strek ek so ver ek kan deur die veiligheidshek en gooi dit op die grasperk.

Gielie het in die boom se takke na sy ontbyt uitgesien en laat nie op hom wag nie. Met 'n luide geskril spring hy af tot op die struik se dun takkie, loer gou om te kyk of daar nie dalk gevaar skuil nie en wip dan tot op die grasperk. Hy gryp 'n stukkie brood in sy kloutjie en rek sy vlerke tot by die naaste boomtak. Daar hou hy die brood in sy kloue vas en geniet 'n heerlike stukkie vars brood vir ontbyt. Hy duik weer af, gryp nog 'n stukkie brood en woeps, daar sit hy weer op sy tak en geniet 'n tweede stukkie.

Klein parmant bedank my hartlik vir die ontbyt en duik af om nog 'n stukkie te gryp. Hy het egter nou kompetisie. Die mossie-gesin is altyd op die uitkyk vir 'n vinnige happie en duik saam met hom op die oorblywende krummels af. Hy verjaag die mannetjie, gryp 'n laaste happie en laat waai.

Die ontbyt was lekker, sing hy vir my, nou kan ek hard werk. Dankie, en sien jou later.

Vir seker want netnou is dit laatmiddag en dan kry hy saad vir aandete.

Miskien bederf ek hom, maar wat daarvan. Hy bring vir my pure plesier en sy attitude laat my glimlag, en dit is al wat eintlik saak maak.

Lavinia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top