As jy ooit iets met Oesterland of hierdie geweste te doen gehad het sal jy weet van Rob. Rob van Rooyen. As jy jou lewe of jou vrou s’n wou verseker het jy mos maar na Rob toe gekom. Hy het jou geken van jou eerste voorsaat af en het genoeg belang gestel om jou nageslag op hul naam te noem. Altyd beduie dat die kommissie wat hy verdien nie so baie is nie. En dit was nooit baie nie. Want lank voor makelaars verplig was om alles te openbaar het ou Rob vir jou elke sent beduie wat hy gaan verdien as hy jou polis geskrywe het. Ou soort makelaars, hulle word nie meer so gemaak nie, en kannie geteel of opgelei word nie.
Rob het ’n passie vir baie dinge, soos dit hoort. Hy drink nie ’n dop nie, hy teug aan hom, asof dit sy laaste is. En jy sien hy laat die Skotse waters eers ’n ruk op die tong huiwer. Al begin hy vroegdag met sy eerste. Hy praat nie Afrikaans soos ekke nie, hy het ’n passie vir Afrikaans, al is hy eintlik ’n rou Soutie. En as jy met hom verkeerde Ingels praat dan raak hy erg moerig, want mens doen nie dinge half nie, so hoekom wil jy jou taal half doen? Ek sit annerdag vroegoggend by hom terwyl hy aan sy Scottish Leader sit en teug (hy seg dis sy tweede maar ek weet dis reeds sy derde of vierde) en ons praat die tale so deurmekaar. Maar mag nooit meng nie. Nie in een sin nie in elk geval. As ons Ingels praat dan moet jy dit behoorlik doen en jou sin afsluit in behoorlike Ingels en as jy met die volgende oorslaan na Afrikaans dan moet jy dit praat soos Totius dit gewou het. Want Rob is oud genoeg om nog bewondering te hê vir die ou taalbulle. Al is hy Ingels.
Rob moes ophou rook want Dok T het hom beduie dat hy ’n ander dokter moet loop soek as hy nog een sigaret aansteek, en Rob beduie vir my: "Waar gaan ek met ’n ander dokter oor die weg kom? Ek het maar die sigarette gelos ... Het jy vir my ene?" Ek beduie dat ek self bang is vir Dok T en my hand reik na my bosak vir die pakkie Dunhill Menthols. En ons teug aan die dood en ons praat oor die lewe wat so oneindig kort is en dis eintlik hoekom ek hier by hom is. Hy sluk aan sy Scottish Leader en ons maak die kontrak vas. Rob sluk nie regtig nie, want sonder die strooitjie gaan hy alles mors. Ek maak of ek niks wis nie en ons grap oor die bewerasie en ek kyk hoe sy oge lank trek na die dae toe hy nog self dinge kon doen voor hierdie ou liggaam anders gewens het.
Ek is hier vir die Thorens en die plate en die Louther-luidsprekers waaroor hy my al maande karring. Want hy wil dit nie wegmaak nie maar kannie anders nie en het niemand wat die goete gaan waardeer nie. O, en die "valve Amp" direk ingevoer uit Japan". Hy wil net ’n HD "flat screen TV" hê vir die lot. Ek beduie hom hy is mal, want sy plate alleen is ’n fortuin werd, laat staan nog die luidsprekers, self gebou toe sy hanne nog met gevaarlike masjiene kon werk. Ek weet, want daar is goete wat nog nooit oopgemaak is nie. Van Maureen Moore tot Elvis en Beatles en AC/DC en selfs ’n Händel of ses of is dit sestien? Ons skud blad en die transaksie is vas. En dis waar die moeilikheid inkom.
Sy plate word nie net gekarwei nie. Hulle moet vervoer word. Die Thorens word nie net ingelaai in ’n voertuig nie, dit word saggies in ’n kombers toegedraai en op nog ’n kombers op die agtersitplek van verkieslik ’n Toyota of iets beter (hy glo steeds aan ’n Renault) vervoer teen ’n beskaafde spoed. En nee, jy ry nie weg met die goed nie, hy vergesel hulle. Dis sy voorwaarde, anders "no deal, because you youngsters will just fuck up my stuff" (soort van).
Ek kyk vir Rob so onderlangs en ek sien hy wil nie maar hy kannie anders nie. Ek belowe om om te sien na sy ou "vinyls" en ek weet hy gaan elke week bel, want dis hoe hy is. Hy gaan bel om te hoor of ek die goed luister maar ek weet hy wil eintlik weet of ek al die seel gebreek het. Omdat hy te heilig was om op hulle om dit self te doen. Ek bring die goed so stuk-stuk oor en ek geniet vir Rob terwyl ek nog kan want hy is ’n wyse man met ondervinding. Ons ry stadig want op die agtersitplek is kosbare goete en hy hou nie daarvan om ’n druppel te mors nie, want sien, die glas word eers volgemaak en lappie op die skoot ry ons. Stadig. Hy praat oor die onderhoud van sy geliefde plate en sy Thorens en ek willie die ding opstel nie. Ek wil nie die ding opstel en die plate luister nie want ek is bang ek moet ’n dag later langs sy oop graf staan en die kluite op sy kis hoor val. Ek is bang ek gaan hom mis want ek weet, ek sal tog nooit regtig na sy geliefde plate luister nie.
Alles is tog nou digitaal en al die lekker dinge. Musiek is nou letterlik by ons vingerpunte. Dis asof die passie weg is. Dis asof musiek en boeke en gedigte en alles nou soort van vinnige vermaak geword het. Ek skimp oor die Sennheisers want ek het tog klaar ’n Thorens en die nodige maar my Sennheisers kom nie naby syne nie. "Nee. Hulle bly!" En ek dink aan hoe die vinnige vermaak die plek ingeneem het van die man wat bloot passievol genoeg vir sy musiek is dat hy dit stoksielalleen wil luister. Hoe mens kon sien hoe die oge glasig raak van geniet en mens wonder waar hy nou veel eerder sou wou wees as hier en nou?
Nee, ek jok. Die passie sal nooit weg wees nie, want ek hang aan sy lippe en ek wens ek kon ’n paar minute uit sy lewe hê, net om ’n boek te kan skrywe. Maar ons is deesdae nie net in die tyd van vinnige musiek nie, maar ons moet altoos self vinnig op pad wees na iewers.
oester


