Bokomo-brekfisbrief; 28/11/08: Vir almal wat nié van swaar operamusiek hou nie: La Tosca in New York ... en in Afrika

  • 0

 

 

'n Sekere diva in die hoofrol van La Tosca in New York was tog so hoitie-toitie. Haar mede-sangers, die dirigent en selfs die personeel backstage het gereeld onder haar skerp tong deurgeloop.

In hierdie bloed-en-derms drama word Tosca se lover kastig tereggestel, met die belofte aan haar dat hy nie rêrig geskiet sou word nie. Wanneer sy sien dat hy wel dood is, spring Tosca op die einde van die opera met 'n hemelhoë gil van die hoë fortmuur af. (Veral in operas help dit die toeskouer om 'n helse ryk verbeelding te hê.) Eintlik is hierdie afgrond skaars menshoogte en buite sig van die gehoor waar sy dan saggies op 'n groterige opblaasmatras agter die skerms tot ruste kom.

Nadat die beduiwelde NY-diva die vorige aand weer haar gewig so rondgegooi het, besluit die back-stagers om haar eens en vir altyd 'n lessie te leer. Hulle vervang toe die matras met 'n trampolien.

Toe Tosca die volgende aand al gillend van die fortmuur na haar dood afspring, sien die verbaasde gehoor haar weer en weer verskyn - eerste haar kop met welige haredos, toe sonder haar pruik en dan in al haar glorie met die stertkant na bo.

Daar word vertel dat dié diva nooit weer gesig by die Metropolitan gewys het nie.

In my vierde jaar by UK se College of Music het ons Opera-skool na Windhoek en Bloemfontein getoer met einste La Tosca. Ek, as enigste harpstudent, was verantwoordelik vir die harpdele sowel as die basdrom in die orkes. Die medestudent wat die res van die slaginstrumente bewerk het, was die begaafde Gordon Jephtas wat later opera-repititeur by New York se operageselskap geword het.

In ons opera was Désirée Talbot 'n pragtige, vurige Tosca. Maar o alle magtag, jy't elke greintjie van jou verbeelding nodig gehad om te glo dat sy hoegenaamd op hierdie hero van haar verlief kon wees. So 'n koeëlronde boepens ou met dunnerige beentjies, alles behalwe 'n oil painting, maar met 'n hemelse tenoorstem.

Met ons aankoms in Windhoek, waar die heel eerste "lewendige" opera toe opgevoer sou word, was die gehoor uitstekend voorberei. Een of ander Duitse musiekonderwyser het die opera-gangers voor die tyd bymekaar gekry en lesings daaroor gegee. Onder andere vir hulle vertel dat komponis Puccini spesiaal na Rome gereis het om die kerkklokke op 'n Sondagoggend te hoor, sodat hy dit aan die begin van die derde bedryf in sy partituur kon inwerk.

Wat hierdie onderwyser nie geweet het nie, is dat prof Erik Chisholm, ons dirigent, juis daardie deeltjie wou uitlaat. Gevolglik moes ek toe inderhaas die klokkespel ook baasraak. Die klokke was daar, maar geen hamer in sig nie. Ek's toe doodeenvoudig beveel om na die naaste slaghuis te gaan en 'n houthamer by hulle te gaan bedel. Met die repetisie die oggend voor ons eerste optrede was dit duidelik dat 'n slaghuis-hamer nie die trick sou doen nie. En prof Chisholm, ook nie links nie, beveel my doodernstig om my pantie uit te trek en dit om die hamer te draai. 'n Stoflap het darem tot die redding gekom.

Op Bloemfontein was almal gaande oor ons eie Suid-Afrikaanse Tosca, maar haar gewigtige minnaar het nie so lig daarvan afgekom nie. Twee boere-tannies wat spesiaal stad toe gegaan het vir hierdie groot okkasie, het meer van die lewe op die plaas as van airy-fairy opera geweet. Toe Tosca se lover uitgestrek op sy rug en morsdood op die verhoog lê, laat hoor die een kliphard: "My magtag, daai ou man lyk soos 'n gevrekte bees wat al drie dae innie veld lê. Kyk hoe opgeswel is sy pens!"

Só het die dramatiese hoogtepunt van die aand in die Vrystaat geëindig. Met meer as die helfte van die gehoor helaas nie snikkend bewoë nie, maar proesend van ingehoue lag.

Ellen Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top