... en ek was van middel '71-'73 pêlle en kollegas. Ek was vroeg in die twintigs en hy so 'n jaar of drie ouer. Ons het daar in Skinnerstraat Pta in 'n staatsgehuurde woonstelblok gebly.
Hy het 'n liggroen Datsun 1600 SSS met chroom mags wat so breed was dat dit 'n paar mils verby die bakwerk uitgesteek en met 'n 'chroom baffle' op die 'exhaust' wat dit uitgeblaker het dat 'jy nie by my sal verby kom nie', gery. Ek met 'n bottelgroen '68 VW 1500 wat ek 'uit die boks' vir R1499 gekoop het, natuurlik ook met mags en twee baffles op die exhaust en twee 'blokkies' elk op die twee 'bumpers'. Nie so 'n aggressiewe voorkoms soos die SSS nie, maar darem ook soos iemand dit gestel het, "lekker op die oor en oog".
Ons het meeste smiddae na werk in die 'can' (kantien) 'n tap of wat gemaak voordat ons gaan eet en dan verder met die aand gehandel het. Jorrie het begin '72 deur middel van sy vriendin Christi (as ek reg onthou was dit haar naam) my aan Rhona voorgestel. Ek en Rhona se verhouding was simbioties, oppervlakkig. Eintlik het ons mekaar net aangehou vir die "Drive-in"-ekskursies weg van haar Normaalkollege studieboeke af, bv vir Fonteinedal-braaierye en 'Die Bron' by Warmbad oor naweke.
Middel ' 72 kondig Jorrie aan dat hy en Christi verloof is. Sy - korterig, blonde hare wat blink tot op haar skouers, blou oë. Hulle gaan trou na voltooiing van haar studies einde '’73. En Jorrie blom.
'n Rukkie in '73 in sê hy my een middag iets, terwyl hy met sy wysvinger sy Bloody Mary (dubbeltot Pushkin, twee blokkies ys en 'tomato cocktail' in 'n 'goblet') aanhoudend roer, "Jy weet, ek is baie particular oor wie van my hou".
Geskok het ek hom in die oë gekyk en aan hom gesê, "Fok man, ek is net jou vriend!". "Ek praat nie van jou nie man", het hy op sy beurt my toegesnou. En ek het nie gevra nie, want kon toe dat sien iets nie lekker is nie. Hierdie woorde egter het ek deel van my lewensuitkyk gemaak en dit aan my eie kinders oorgedra. Dit werk goed, nou nog.
Dit was 'n paar maande later toe Jorrie een aand by my kamer aankom, soos bleek soos 'n lyk, glad nie homself nie. "Ons trou nie meer nie, daar's 'n ander fokker!"
Jorrie het sy SSS verkoop en 'n 'seven-fifty' Honda aangeskaf. Op my vraag hoekom? was die antwoord "omdat ek dit nie meer nodig het nie". Ek het al minder van hom begin sien en sy seven-fifty was selde by die woonstel.
Volgens hoorsê uit Rhona se vriendekring was dit al 'n hele tydjie bekend dat Neels, 'n medestudent, in Jorrie se slaai krap. Na die verbreking van die verlowing was dit toe 'n vreeslike gekuiery op Christi se ouers se plaas iewers in die Vrystaat. Bykans ieder en elke naweek.
Tot een naweek. Die Maandagaand sê Christi se 15jarige boetie iets soos "Moekie, Neels lol met my."
Na ek verneem het, het die skok so hewig op Christi se gestel ingewerk dat sy feitlik oornag 'n insulien-afhanklike geword het. Sy't vir 'n maand lank klasse gemis.
Intussen het ek vir Jorrie hier en daar gesien. Hy't merkbaar agteruitgegaan. Toe een Sondagaand 'n klop aan my kamer deur.
"Jorrie is dood, hy't vanmiddag op die Brits-pad van agter af teen 'n bakkie vasgery".
Hoorsê uit Rhona se kring het dit gehad dat Christi hom die Saterdagoggend gevra het om hul verhouding te hervat.
'n Paar dae later nog 'n klop aan die deur, "Daar is mense hieronder in die 'lounge' om jou te sien". Met die eerste oogopslag kon ek sien dat dit sy ma en pa was. Ek het hulle gehelp om sy goetertjies in die kar te laai. Sy ma het gegroet met, "Hy sou jou nog vra om sy strooijonker te wees".
Groetnis,
Raed-na-Gael


