Bokomo-brekfisbrief; 28/07/2010: Beleefd, die dikwiel en die tante

  • 0

My tuin behoort nie aan my nie. Dit behoort aan Beleefd. Beleefd is lank en uitermate maer. Dis nie van hongerte nie maar van syse aard. Beleefd ken van tuinmaak, suip en boomrook. Vergeet om hom te bearbei oor enige van die drie dinge. Vergeet. Hy werk nou al seker vyftien jaar in my tuin. Sy ure is ongereeld. Hy daag op wanneer hy wil en verkas soos die dag hom vat. Sy kom en sy gaan, sy handel en sy wandel is sy eie. En hy kan werk. As hy die slag ’n stuk werk vat, werk hy die werke moedeloos. Sy lewe is vir hom ’n vreugdevolle lied waarvan net hy die wysie ken.

Ek vererg my daagliks vir hom. Ek vertel die klippe moet daaiplek. Hy donner dit annerplek. Ek wil dat die bedding informeel sit. Hy maak dit haaks. Ek wys die plante kom hier. Hy plant dit daar.

Ding is, sy plante groei. Die plek is skoon en netjies. Self die bulhonde kak waar hy wil dat hulle hulle se dinge doen. Die erf en die dinge daarin, is gehoorsaam aan Beleefd.

Beleefd het ook ’n fiets. ’n Dikwiel. ’n Swarte met ’n kielieklok. Ek het dit jare gelede vir hom gekoop. Met die gevaarte jaag hy met maer pompende bene, sy elmboge asof hy wil opstyg, waar hy dan nou op enige oomblik wil wees. Dat hy, in die Jozieverkeer nog nie deur ’n trok getrap is nie, of dat hy homselwers nie met ’n spoedwobbel des moers geval het nie, is bloot toe te skryf aan ingryping van Bowe of die Bose. Ek vermoed die Bose het lankal moed opgegee so dit moet die Bowe wees.

Ten einde ’n mate van beheer oor sy kome en sy gane te hê, het ek ook vir hom ’n selfoon gegee. Een van my oues. Hiermee hou hy my ingelig betreffende die dinge van sy dag. Elke oggend klokslag teen half ag, bel hy my en lig my in met ’n kortaf; “Ek kom.” Of, “Ek kom nie.” Soms, “Jy moet ’n graaf loop koop.” “Ek soek draad.”

En so.

Voel ek iets skort die oggend wat Beleefd nie bel nie. Ek bel. Niemand antwoord nie. Ek bel weer. ’n Vreemde stem antwoord “Hellooo?”

“Waar is Beleefd?”

“Hellooo?”

“Magtag, waar is die eienaar van die foon?!”

“I am sorrie. It is the accident ...”

“Waar!?”

“Just a momeent.”

’n Ander stem klink oor die eter en beduie dat daar ’n ongeluk was. Ek vra waar en so en vind uit dat die ding net ’n blok van die huis af plaasgevind het.

“Ek kom.” Jaag. ’n Beklemming om my hart. Ek sien van ’n afstand die bondel mense. Die dikwiel lê op ’n hopie eenkant en Beleefd uitgestrek op die naat van sy rug op die sypaadjie. Eenkant sit ’n tante. Groot en wyd soos die Genade vanselwers. Mense is besig om haar te lawe. Niemand gee aandag aan Beleefd nie!

“Wat het hier gebeur!”

“Wies jy?”

Ek beduie na Beleefd se rigting. “Daai man werk vir my.” Ek draf nader en sien geen uiterlike wonde nie. Beleefd is so uit soos ’n kers. Hy haal darem asem.

“Wat het gebeur?”

Een van die omstanders beduie. “Meneer, daai mens se ding het hier kom afjaag! Toe beginte syse voorwiel buckle en hy steek sy bene so wyd uit en skree net “Haaaaaaaaa!” Toe tref hy die sidewalk meneer en hy land bo-op die tante. Toe donner die tante hom meneer …”

“Die tante het hom geslaan?”

“Nee, meneer, sy het hom GEBLIKSEM!”

Die dikwiel is nou weer heel. Beleefd ry deesdae stadig.

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top