Bokomo-brekfisbrief; 28/07/08: Om te kus of nie te kus nie

  • 0

Ek is persoonlik nie juis gaande daaroor om ieder en elk wat aanspraak daarop maak dat hulle 'n goeie vriend of vriendin, 'n familielid, 'n onderwyseres of 'n kollega is, op die mond te soen nie. Dit blyk egter dat hierdie praktyk ingewortel is in veral ons Afrikanerkultuur. Hierdie skrywe handel nie oor die erotiese manier van soen nie. Bloot die tradisionele kus op die mond.

Die eerste vorm van soengroet waaraan ek blootgestel is was die familiesoen. Natuurlik is dit van pas dat mens jou ouers en selfs jou vader op die mond soen, veral as jy nog klein (en cute) is. Snags na die bedtydstorie word jy knus in jou duvet toegedraai en mamma en pappa soen jou 'n goeie nagrus toe. As hulle jou by die skool of kleuterskool aflaai, wens hulle jou 'n lekker dag toe en as jy presteer kry jy 'n klapsoen van beide. As jy jou kop stamp probeer hulle jou vertroos en 'n klapsoen op die mond blaas nuwe hoop en energie in 'n bedroefde kleinding se hart. 'n Familiekus toon dat liefde, respek en empatie in familieverband bestaan. Mens soen ook gewoonlik jou broers en susters. In my geval het ek net drie susters gehad, so tot vandag toe nog is hierdie gebruik van toepassing en daarmee het ek geen probleem nie.

Ek het egter reeds as jongeling 'n kleintjie dood gehad aan die ongevraagde soene wat wild en wakker op familiebyeenkomste uitgedeel word. Elke liewe tannie wat aanspraak daarop maak dat sy verlangs verwant is het my gewoonlik vasgedruk en gesoen dat die spoeg so spat. Die soene van oumas en oupas was ook met tye heel slymerig en het my tot in my tone laat ril. Ek dink menige Afrikanerkind het egter geleer om maar anderpad te kyk en al is ek byna dertig jaar oud, verduur ek steeds hierdie marteling tydens, genadiglik minder gereelde, familiebyeenkomste met 'n glimlag op die gesig.

Dan is daar my groep vriende wat ook ontsettend lief is daarvoor om soentjies en drukkies uit te deel. Elke goeie vriendin van my sal my soengroet, ongeag of hulle getroud is of nie. Die gebruik word absoluut aanvaar deur die teenoorgestelde geslag se gades. Geen jaloesie bestaan hoegenaamd nie, want die vriendskaplike kus word nie verwar met seksuele toegewings nie. Dit dien eerder as 'n teken dat beide mense mekaar as deel van dieselfde trop of kudde aanvaar. My beste mansvriende sal ek af en toe 'n drukkie gee, maar die vriendskaplike soengroet tussen broers en beste vriende word half gesien as 'n homoseksuele praktyk. Eintlik vreemd aangesien daar telkemale in die Bybel verwys word na vriendskaplike kusse tussen mans.

'n Ander vreemde verskynsel is dat onderwysers in baie gevalle leerlinge van die teenoorgestelde geslag sal soen om hulle geluk te wens met sekere prestasies. Ek onthou op skool hoe presteerders na die verhoog geroep is. Die vroulike onderwyseres sou die seuns 'n piksoentjie gee terwyl die mansonderwyser die seuns 'n handdruk sou gee. Die mansonderwyser het natuurlik die meisies met 'n soentjie gelukgewens. In daardie tye was daar nie so ʼn histerie oor moontlike molestering nie en die praktyk is deur almal aanvaar.

Ek wonder of daar iemand is wat meer lig kan werp op die norme en gebruike van die kus in die Afrikanerkultuur. Is daar dalk iemand wat 'n staaltjie of twee kan vertel aangaande 'n vreemde gebruik wat hulle al teëgekom het?

Groete

FB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top