Jy is reg. Waar ek ookal in Afrika of die Ooste was, is ouetehuise en oues wat nie deur hul naastes versorg word nie, iets vreemd. Ditto kinders.
Die oues het klaar hard gewerk, maar hulle het nie opgehou werk nie. Hul pligte is nou meer edel: Hulle moet nou help om die nuwe generasie die pad te wys. Die kennis wat in die gemiddelde ouetehuis lê en vergaan, kan baie biblioteke vol maak. Ons steek ons oues weg en hoop dat iemand anders na hulle sal omsien. Ons het so besig geraak dat ons nie meer tyd het nie.
Onthou egter ook dat daar soms eenvoudig nie genoeg fasiliteite is om na veral verswakte bejaardes om te sien nie. Wel, ek byt ook nie lekker daaraan nie, maar dis wat baie jonger mense sê. Ons het met Mavenster se siekte en geleidelike verswakking deur dieselfde oefening gegaan. Maar so het ons elke dag geleer: geleer om die regte kosse vir 'n diabeet voor te berei, geleer hoe om die diabetes-seerplekke te versorg. So het ons, onder andere uit desperaatheid, agtergekom dat die vlies in 'n volstruiseierdop die enigste ding was wat Mavenster se pyn verlig het. Hoekom en hoe dit werk, weet ek tot vandag toe nie.
Ek moet egter bysê dat ons gelukkig genoeg dat ons iemand soos Dok Terry gehad het wat letterlik elke oggend gebel het en drie, vier keer per week kom inloer het. Ek glo nie aan 'n hiernamaals of Nirvana of soortgelyke goete nie, maar as daar so iets was, sal Dok Terry verseker daar wees. En dit, om jou aan te haal, is 'n feit.
Wat kinders betref: Wat is die eerste woorde wat mense sê? "Ons kan dit nie bekostig nie." Ek sê: Daardie kind het nie noodwendig gevra om daar te wees nie. As hy oor jou pad kom, het jy geen keuse nie, ongeag of jy dit kan bekostig of nie.
Die mees basiese voordeel om na jou eie bejaardes om te sien is dat jy enige oomblik by hulle kan instap en loop raad vra. Ouetehuise en weeshuise is 'n teken dat mense nie meer vir mekaar tyd het nie. Wie en wat is die volgende waarvoor daar nie tyd of geld gaan wees nie? Dis is wat my laat wonder.
oester


