Ai, al die geskrifte aan die mure wat almal in groener gras gebou is ... oom Daan en FW, en al die ander wat so aangaan oor die Ozzers dít en die Kiwi’s dát en die Pommies só en die Yanks sus:
Ek is nou nie juis ervare as dit kom by die plekke waarna meeste ekspat-Saffers hulle wend by die horde nie; ek vermy maar daardie (bogenoemde) bestemmings van massa-leemte (die groteske gebrek aan kultuur), en behalwe vir 'n kuier of wat (en twee jaar in Engeland) kan ek my nie veel laat geld oor die lewe daar nie, so ek lees en luister maar en dink my eie dink.
Vir mý persoonlik was dit veel beter om as deel van die brain drain massa uit te wyk na 'n plek waar die son heeltyd skyn, die strande ongelooflike tropiese paradyse is, en die mense nie kyk wie met die blinkste kar in die nuutste snyerspak rondjaag van vergadering tot vergadering sodat hulle moeg en uitgeput op 65 met 'n kierie oor hulle nuwe golf-estate drumpel in 'n aftree-oord kan sukkel nie. 'n Plek waar daar ook sosiale, politiese en opvoedkundige probleme is, 'n plek waar ek die taal van scratch of moes aanleer, 'n plek waar nie Afrikaans of Engels op straat hoorbaar is nie.
Dié plek het my soveel meer geleer as die skool, die varsity, of my tien jaar op drie ander kontinente. Hierdie mense was waaragtiglik mens. Hulle het min tyd, geld of waarde vir karre, mooi groot huise, of ingevoerde kak uit Indonesiё of een of ander (veronderstelde) eksotiese land. Hierdie ouens spandeer hulle tyd, ja by die werk, maar ook op die strand, in 'n park, op 'n plaza waar Mariachi’s óú romantiese liedjies sing, of in 'n cantina, tussen ander mense; oud, jonk, klein, groot, arm of ryk. Hulle drink tequila sonder die Amerikaanse sout en suurlemoen, en hulle eet tortillas en tacos sonder om dit te verkrag met goedkoop cheddar en bolle suurroom. Hier vind jy dat families daagliks ure lank aansit vir etes, en almal om die tafel lag en gesels en ja, fight ook dat die wyn spat, maar alles word met passie gedoen, en die vergifnis nademaal is vinnig en dramaloos.
Ek is Afrikaans, ek hou van bobotie en braaivleis en ek is lief vir die bos en vir die see. Ek dink Afrikaans is 'n pragtige taal en ek vind steeds groot ooreenkomste met Spaans: die uitdrukkings, die gebare, die passie waarmee gepraat word. Maar in Meksiko is daar oneindige kultuur, 'n ryk geskiedenis, 'n pragtige taal, en mense wat net soos ek, die lewe geniet vir wat dit is, nie vir wat mens dit wil maak, hoe jy dit wil hê of wil verander nie. Dis eenvoudig te kort. Geld is 'means to an end' en nie andersom nie.
Ons Saffers is maar lekker materialisties. Ons is grootgemaak met die "goeie werk, goeie pensioen, spaar, aftree, spaar, aftree aftree" sindroom, of jy nou sielsongelukkig is of nie, solank jy net nie afsteek by die bure of jou baas of jou eweknieё by die werk nie. Asof ons jaag om by daardie laaste paar jaar van rus en vrede uit te kom, voor ons in 'n vroeggebore graf val en die klap van die kluit ons laaste herinnering in geel papawers en eikehout besing. Dit alles terwyl die blou lug, die geur van jasmyn, die sterre op 'n wintersaand, die seesproei op 'n winderige dag, die gesigte van familie en vriende en die smaak van wyn alles verby ons sweef soos in 'n illusie, soos 'n storie op die silwerdoek.
Die gras lyk altyd groener: partykeer is dit, ander kere nie. Kry jou stukkie gras en sit daarop, geniet dit sonder om die ander s'n te kritiseer of te wil verander. Jou kunsmis werk nie altyd so lekker op 'n ander tipe gras nie, so hou maar by jou eie. En as jy 'n ander grasperkie loop soek, en hulle laat jou daar wei, eet en wees dankbaar. Herkou in weelde en dink aan die 80% van die wêreldbevolking wat in armoede leef.
Arno


