Bokomo-brekfisbrief; 28/04/2010: Aambeie

  • 0

 

So sit ek toe vanoggend en niks doen in die spreekkamer en begin myself jammer kry – waar sal die geld vir die Kombi se tweede nuwe enjin in drie maande, vandaan kom? Besluit ek om eerder ’n koerant te gaan koop en by die nuwe teetuin langsaan op hoogte te kom van die res van die land se ellendes met ’n wortelkoek en potjie tee – voordat ek weer weg sink in die longdrop van gemoedsbekakking.

Dis ’n heerlike dag en met die lente-sonnetjie op my rug begin ek vergeet van my eie dinge onder die skadunet met al die mooi blomme en visdammetjie om my en die vriendelike vrou by die tafel langsaan se ou dogtertjie wat vreedsaam speel, salig gelukkig - verbeel ek my ek is in die paradys. Die vrou bring my lekker vars wortelkoek en potjie tee in ’n mooi teestel op ’n skinkbordlappie kompleet met blommetjies – die lot – terwyl ek my koerant raadpleeg.

Skielik raak ek bewus van mev X… wat op my afpyl en haar neerplak op die stoel langs my. Sy wil vir my iets baie privaat, persoonlik en konfidensieel vra – iets waaroor sy baie skaam is en nie graag praat nie. ‘Gaan voort,’ grom ek agter die koerant met die wortelkoek in my kies terwyl ek haar so oor die rand van die koerant met my Clicks-brilletjie aangluur. Miskien gaan dit oor gesinsgeweld of depressie of iets ernstigs, dog ek.

Sy wil net graag weet of ek nie vir haar raad het met haar aambeie nie – dis uitwendig en inwendig en sy’s vreeslik hardlywig en sy voel daar in haar what-have-you sulke pynlike knoppies as sy gaan dinges en die ander dokter het al gedink hy sal haar moet opereer maar sy was te bang. Dit bloei soms en daar is ook slym in haar hoesenaam en sy wonder of sy nie ’n barsie in haar watsenaam het nie wat veroorsaak dat sy so ontsettend hardlywig is. Daar is vratjies ook, maar die merrie-go-round is nie aangetas nie, sê sy. Haar dinges is nie soos modder nie maar soos klippe en sy moet ure sit om klaar te wat-sa-mie-kol-iet. Daar waar die son nie skyn is dit so seer dat sy haar nie eers kan afvee of sit nie. Sal ek haar kan help? Of moet sy spesialis toe gaan – maar sy’t nie geld daarvoor nie. Sy hoor ek is so goed met operasies. Sy is desperaat want dit affekteer nou ook haar vruggebruik.

Die wortelkoek word dik in my mond en die tee smaak na iets anders en die rosetuin verloor sy geur en die moord en doodslag van die koerant lyk sommer ’n baie aantreklike opsie vir my. En die mense langsaan sit suutjies, aandagtig en luister en ruil boererate uit onder mekaar oor haar probleem.

Met haar waggelende wegstap sien ek toe my toekomstige inkomste vir die kombi se tweede nuwe enjin in drie maande - tussen daai gans te groot boude in die gans te klein langbroek.

Daar waar die son nie skyn nie, by onderstepoort – so met permissie gesê.

Waarom noem hulle dit ’n edel beroep?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top