Dankie vir jou briefie, Herman. Ek hoor wat jy sê: hoe weet ons dat plante nie ook gil nie? Dalk kan ons hulle net nie hoor nie ...
Jy is reg: ons denke is mens-sentries. En om ons eiebelange kring die belange van diere. En om dit die belange van plante en die res.
Jou vraag kom neer op Waar stop die reg op lewe? Lewe word deur baie bioloë gedefinieer as behorende tot iets met DNS, gekodeer vir lewe. ʼn Geelwortel leef.
My antwoord op jou vraag is dat die feit dat ons nie weet waar om te stop nie, nie rede daarvoor is dat ons nie iewers hoef te begin nie.
Toe Mary Wollstonecraft, voorloper van latere feminisme, haar boek, Vindication of the Rights of Women, in 1792 gepubliseer het, is haar idees afgelag en is daar gereageer met "Women's rights? They will be telling us animals have rights next!"
Vandag lok ʼn gesprek oor diereregte ʼn soortgelyke reaksie uit: "Diereregte? Die volgende wat hulle ons sal vertel, is dat plante regte het!"
Ek weet nie of plante kan voel of ly nie. Maar ek weet dat diere kan. My verantwoordelikheid is om verantwoordelik te handel op grond van die inligting tot my beskikking.
Dalk roep die kennis van die geelwortel se lyding uit die toekoms na my hede, maar ek hoor hom nog nie. Etics is ever-shifting in the direction of the future. Mag ek die genade en alternatiewe voedingsbronne hê as ek hom die dag hoor.
Katrien Deneuve


