Vir die eerste keer in ’n jaar besluit ek en my boesemvriendin om te gaan fliek. Ons trek toe vanoggend hier weg in slegs ’n ligte motreëntjie, wat skaars ’n ruitveër regverdig. Pretoria is in ons fisier ... lekker kunsfliek en ete agterna is die plan. Opgewonde en al kletsende trotseer ons die vroegoggend-verkeer deur die dorp tot op die snelweg noorde toe. Hier en daar lewer ons kommentaar oor die klomp “sotte” op die pad, se gedrag.
Die pad lê oop voor ons. Die baie nuwe bane maak dit ’n absolute plesier en ons laat wip met petrolpedaal op die regte spoed ingetrap. Hoe verder ons ry, hoe donkerder word dit en die reën begin al hoe harder val. Naderhand is dit só donker en die sig só sleg dat almal met flikkerende noodligte begin ry. In al die jare wat ek in reën gery het, het ek nog nie so iets beleef nie. Dit was asof die wolke oor ons uitgedop is.
Ons ploeter toe maar stadig voort met die besef dat dit chaos gaan wees as ons by Fonteinesirkel kom. By Fort Klapperkop se afdraai gooi ons net daar ’n U-draai terug Benoni toe. Dié keer voel dit of ons deur die Augrabies-waterval ry en ons bespreek allerhande verdrinkstories en planne van aksie soos oop vensters en so aan. Naby Benoni raak die wolkmassa dunner en ons “vaar” ’n kurkdroë dorp met verbasing binne.
Uiteinde ... ons drink tee en eet ons knuppeldik aan croissants by ons plaaslike Muggie en Boon-handelaar, neffens Great North Road ... skaars twee kilometer van die huis af! Dus na ’n stormagtige vaart van sewentig kilometer eindig ons amper waar ons begin het. Uit en tuis het minder as ’n uur en ’n half geduur!
Ons sit altwee met ’n moewiese nekspasma en peins oor die feit dat ons wragtig nooit gaan fliek nie en dat Oom Murphy vandag alles kom bederf het!
Groetnis (met my nek in traksie!)
Perdebytjie


