Liewe Swys en Angus,
Dis ook net jý wat sou agterkom dat ek daai woord met 'n hele letter nóg langer gemaak het, Swys! Baie interessant wat die naam beteken, dankie vir die inligting. Dankie ook vir jou ritmies-gevatte Nuwejaarswensie wat ek sowaar gemis, en vanoggend eers met waardering raakgelees het.
Nee, in Llanfairpwllgwyngyllgogerychwyrndrobwlllantysiliogoggogoch sien ek ook nêrens 'n Maria nie, net 'n mengelmoes van Afrikaans en Engelse woorde soos "fair," "wyn", "gery" "rob" "will, "ant" en "ys," op die ry af so tussen die "ogoggoch" deur. (Sien jy kans vir 'n tweetalige limerick hiermee?)
Angus, jy't my lelik in die skande gesteek, jong. Probeer toe mos maak soos jou Walliese oom beduie het hoe om daai mondvol uit te spreek. Maar dit raak so deurmekaar met die geblaas tussen die kiestande, die tong en die onaardse geluide wat uitkom, dat my ou darling ontsteld kom kyk wat aan die gang is. Net betyds om te sien hoe die halwe gebit uit my mond deur die lug trek en op die vloer land.
Het julle al gehoor van die Groot Moddergat in Houtbaai? Die plek was deel van 'n ou wynplaas en is gereeld vir onthale gebruik. 'n Dierbare Walliese vriendin, Beti (uitgespreek Bettie) moes op 'n keer daar gaan harp speel. Sy vra toe hot en haar of enigeen van ons dalk weet waar die "Groot Moedergat" is.
Dis seker gepas om julle liewer meer stigtelik met 'n "yebo gogo" te groet!
Liefde, met die tong terug in die kies.
Antie Ellen B


