Ek onthou my ma toe sy jonk en mooi was. Toe sy blymoedig opgewonde “Banks of the Ohio” gesing het, getrippel-trappel het op onmoontlike hoë hakke, rooivinkbek terwille van my pa wat van die werk af op pad was. Singend het sy deur die huis gewarrel, my pa kom! Haar man kom huistoe na ’n lang ‘aflos’ in die Kaap.
Sy het altyd gesing. Dit is ’n familiegrap dat sy vir my sussie, Annamart, ‘Laat staan sulke dinge laat staan …’, gesing het as sy nie saans wou slaap nie.
“Prys die Heer”, by die wasgoedlyn en as my pa haar die slag kwaad maak: ‘Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan …’ Dan het hy onderlangs gelag en gaan verskoning vra of ’n blom aangedra of haar onwillige stywe lyfie teen hom vasgedruk en haar gesoen tot sy weer gelag het, of hy die skuldige was of nie.
Na sy dood het Ouma Marthie al minder gesing. Nie net omdat sy so hartseer was oor hom nie, maar omdat die asma en later die emfiseem elke bietjie sang van haar lippe kom steel het. ‘Sê vir almal dat sigaretrook my vermoor het. Het ons maar geweet wat ons doen toe ons op spykerhakke rondgepronk het met ’n sigaret in die mond. Pure son-en-see meisie soos in die Stuyvesantadvertensies in die fliek.’
Nou is haar stem vir altyd stil. Sy is dood. Die dood is nooit mooi nie. Ek het regtig nog nooit as geneesheer enige persoon gesien wat sterf met ’n glimlag op sy gesig nie. Sterf is nie maklik nie, maak nie saak waarheen jy dink jy gaan nie. Daar is hierdie oorstap van die bekende na die onbekende, hoe ons ookal daaroor dink, hoe opgewonde ons ookal is oor die verruiling van pyn en ongemak vir ’n beter en hoër lewe, daai een stap weg …
Douwlina du Plessis


