Ek sit vandag en dink vreeslik aan my ouma, ek het haar so lanklaas gesien, die dat sy op Standerton bly, ek dink ek moet gaan kuier, sommer volgende naweek.
Sy is werklik die een mens wat die grootste impak op my lewe gehad het. Sy versinnebeeld alles wat goed is, sterk is, onwrikbaar in geloof, sagmoedig, standvastig en volhardend, uithou- en deursettingsvermoë.
Sy is al deur so baie, ek weet nie hoe een mens so sterk kan wees nie. Al die jare het sy alleen geboer op haar twee plase naby Greylingstad, en nog skoolgehou op Val ook.
My oupa, en twee van haar kinders is dood in ‘n motorongeluk op die plaas. In ‘n oogwink het sy haar man en helfte van haar kinders verloor. Dit was so halwe jaar voor ek gebore is, so ek het nooit my Oupa geken nie.
Maar sy het steeds geboer, vrou alleen. Dit was ‘n plaas met alles, enige kind se droom. Daar was mielies, koring, sonneblomme, lusern, beeste, skape, varke, ganse, honde, katte soms al die kleinkinders, 7 van ons. Elke vakansie en vir lang tye voor ek skool toe is.
Daardie jare, toe ek so klein was, het ek saam met haar skool toe gegaan op Val waar sy ‘n Grade juffrou was. Ek onthou hoe die "groter kinders" (dis nou die St 2's en 3's) na my gekyk het pouses en my opgepas het. Dit was ‘n ongelooflike tyd.
Ek het ‘n kosblik gekry elke oggend voor ons in die ou bruin Isuzu bakkie geklim het, met broodjies, ‘n stuk sjokolade koek en koeldrank. Dan het die groter kinders ook vir my goed aangedra. Ek het oral "explore" saam met my nuutgevonde oppasser maatjies. Agter die gordyne op die verhoog is ‘n "magical" plek. Allerhande ou goed wat daar lê, donder gate, gangetjies en dies meer.
Op die plaas self het ek sommige oggende gaan "help" met die melkery, nog met die hand gedoen daai tyd. Ek het lammertjies help vang en rekkies om hul stertjies gesit, en die heel lekkerste was om vir die hanslammers melk in ‘n bottel te gee, jy moes jou vat ken, daai lammer is gulsig en gryp sommer die bottel uit jou hand.
Dit was vreeslik opwindend as my ouma oor die radio geroep is in die nag, daar is ‘n brand êrens. Dan bondel sy my in die bakkie, jaag na die statte toe, kry vir Jim en sy helpers, en jaag na die lande toe waar die brand is. Daar het sy saam met die swart mans, met goiingsakke, die brand probeer blus, ek moes in die bakkie wag, mag nie uitgeklim het nie.
Ek is mos dol oor perde, sy het net twee Shetland ponies gehad. Die een meer beduiweld as die ander, en niks lus vir ‘n 5 jarige wat op sy rug wil klim nie. Die swart plaaswerkers het my bedags opgepas, waar ek ook al rondgedwaal het op die plaas, het hulle ‘n ogie gehou. Ou Jim het my gehelp om op die een ponie se rug te klim en my rondgelei met ‘n halter. Dit was natuurlik nie goed genoeg nie en ek het die perdjie so skoppie gegee en daar trek ons! Oor die veld, ek gillende, Jim skreeuende agterna, en toe hy my eventually optel in die veld tussen die klippe waar ek afgeval het, het ek hard gehuil. Hy het my maar teruggedra plaashuis toe dat Ouma die knieë kan dokter.
Daar was ‘n ongebruikte kuilvoergat sonder ‘n hekkie, wat soos ‘n pleister was. Ek kon nie genoeg kry om af te loer na die donker dieptes, waar groen donker water doodstil lê nie, wie weet hoe diep dit werklik was.
En by die rivier, was daar die Kransies. ‘n Speelplek vir ons, en ook vir die vorige geslag. Die mooiste plaatklippe, en sandsteen rondom die rivier, ons het ure daar deurgebring.
Klokslag 12:00 moes ons aansit vir ete, regte boerekos, met rys, vleis, aartappels, wortelslaai, lekker dik vleissous vir die rys, soet pampoen, groen boontjies en ‘n glas vars yskoue melk.
Laatmiddag het ek in die sonkamer op my maag in die sonnetjie gaan lê, met ‘n boek. Sy het boeke gehad met stories in wat my op verre verbeeldingsvlugte geneem het. Ek weet nie een watter boeke dit was nie, maar daar was stories in soos die van Medusa, en Thor.
In die aande het my Ouma pannekoek gebak, so vinnig soos sy bak is dit opgevreet, sy kon nie voorbly nie. Voor ons gaan slaap het ons Milo gekry, en die lekkerste was vroegoggend, dis nog donker, dan hoor ek sy gaan maak koffie en sit die radio aan. Daardie diep stem van ‘n Afrikaanse man wat die nuus lees, ek weet nie eers watter stasie daai tyd nie, maar dit was so rustig. Dan lê ons en luister na die weervoorspelling, kom die reën, of kom dit nie?
Later het die reuk van mieliepap jou kombuis toe getrek, en as ek klaar geëet het, word die pap met melk vir die wilde katte buite gesit. Dan het ek dalk bietjie deur die groentetuin gaan dwaal, sulke grys sand. Die lekkerste was om ‘n ertjie te pluk, oop te maak en die pitte so met een vinger uit te krap en net daar te eet. So vars en soet. Of ‘n boontjie.
Ek mis daardie dae, vandag se stadsjapies, myne inkluis weet nie van plaaslewe nie. Hulle weet nie hoe voel dit om bale te gaan trap nie. Dis nou wanneer die skape geskeer word en die wol in bale gegooi word, ons is dan ingetel en moes dit trap om te kompakteer. As jy uitklim het jou voete geblink van die olie. Ek mis die kinders vir wie my ouma skoolgehou het op Val. Ek wens ek kon net een weer sien en sien hoe lyk hulle nou. My ouma het te oud geword vir boer. Die plase word uitverhuur, sy bly op die dorp.
Daar is niks oor nie. Die skool op Val het jare en jare gelede al toegemaak. Die plaashuis, wat my oupa met sy eie hande uit sandsteen gebou het, is stuk-stuk weggedra tot daar niks oorgebly het nie. My ma het altyd vertel hoe hulle as kinders pennies laat val het deur die gate in die plankvloer in hul kamers. Ek wonder of daai pennies nog daar êrens lê, tussen die bossies en ruïnes.
Die tyd stap aan, niks bly dieselfde nie, as mens net sulke tye in jou lewe kon behou, maar ons kan nie. Ek het nooit teruggegaan plaas toe nadat sy dorp toe getrek het nie. Ek wil dit nie sien nie. Ek verkies om die herinneringe aan die kosbaarste tyd van my lewe, te hou soos dit was. Die bruin sandsteen plaashuis met die rooi sinkplaatdak, omring met ‘n groot grasperk wat spierwit was in die winter, ‘n sementdam met babers in, en omhein met ‘n draadheining.
Êrens op die plaas is daar ‘n ongemerkte graf. Ons is vertel dis van iemand wat daar begrawe is tydens die Groot Trek. Sal seker nooit weet nie. Ek wens ek kon die tyd terugdra en nog een keer daar gaan loop, met die grondpaadjie af tot by die rivier en Wilgerbome, en terug deur die veld tussen die beeste, tot waar die ganse is en ‘n paar my jaag, tot by die klein hekkie na die groentetuin, dan in by die agterdeur, in by die kombuis, en gaan loer of daai sjokoladekoek met die heel neute op, nog in die spens is, en of dit al vorentoe gedra is met ‘n skinkbord vol koffie en koekies.
Altruïs


