Bokomo-brekfisbrief; 27/10/2010: Stadsjapie op die platteland

  • 0

9 maande op ‘n klein dorpie is te kort om gewoond te raak aan die verskille tussen die platteland en die stad. As gevolg van die Sishen-myn is hier buitengewoon baie jongmense en mens sien baie jong paartjies en hordes swanger vroue en klein kindertjies. Dis regtig so en ek wonder of die gebrek aan vermaak bydra tot die bevolkingsontploffing. Omdat party van die professionele mans goeie salarisse verdien hoef heelwat van die jong vroue nie te werk nie. Hier is nie veel vir hulle om te doen nie en almal van hulle doen vrywilligerswerk vir FAMSA, KANSA ens. Nogtans is hier ‘n ‘Desperate Housewives’-klub wat een of twee keer ‘n week sosialiseer sodat hulle mekaar kan help om hulle nie dood te verveel nie.

Ek moes leer dat dinge anders werk in ‘n klein dorpie. Jy sien dieselfde mense orals. Almal koop by dieselfde SPAR, kwekery, petrolstasie, almal drink koffie by die enigste teetuin, almal gaan na dieselfde gym en almal se kinders is in dieselfde skool. Jy moet versigtig wees wat jy sê. Jy kan glad nie oor jou man se werk (op Sishen) praat nie, want 90% van die mense werk ook daar.

’n Paar dinge wat ek hier in die Noord-Kaap ervaar en nog nie genoem het in vorige briewe nie, is:

‘n Mens kry die geleentheid om Afrikaanse sangers te sien sing. Omdat hier nooit iets gebeur nie gaan mens na elke gebeurtenis soos die Kuruman-skou of kerkbasaar, want daar word vermaak aangebied om mense te trek.

Ek en my man en dogter het die skou nogal geniet. Daar was elke soort kosstalletjie waaraan jy kan dink, ‘n pretpark met al die soorte ritte wat nogal sterk herinner aan die Randse Skou van ouds en ‘n verhoog waar Viljoen Retief en Heinz Winckler opgetree het. Ons het amper opgestaan en geloop toe DJ Ossewa opgetree het omdat hulle soos ‘n klomp idiote ge-’lip sync’ het en gemaak het of hulle kitaar en trekklavier speel, tot ons besef het dat dit ‘n plaaslike groep mense was wat die spot gedryf het. Ek het nie bokke, skape of beeste gesien nie en weet ook nie wie die melktert- of koeksisterprys gewen het nie.

Elke tweede motor het persoonlike nommerplate. Ek weet glad nie waarom die mense so lief is daarvoor nie.

Daar is geen rondlopers of trolliemense wat jou asblik deursoek nie.

Baie huise is sonder heinings en motors kan veilig in die straat geparkeer word.

Almal groet mekaar wanneer hulle met hul 4x4’s by mekaar verby ry, maar dis nie so maklik om vriende te maak met mense wat al hul lewe lank hier bly nie. Die stadsjapies en ander nuwe intrekkers maak maar met mekaar vriende.

Mens kan alleen gaan stap en hoef nie te bekommer oor motors wat jou van die pad af wil ry nie.

‘n Haarsny kos R70 (dan lyk ek soos ‘n Kathu-tannie en gaan druk my hare by die huis plat) en R25 vir my man.

Hier’s volop biltong en wildsvleis, maar water wat ondrinkbaar sleg is.

Rassisme. (Ek was nou die dag by ‘n kerkbasaar waar ‘n swart persoon wat by die kerkterrein wou inkom, gevra is om te loop!)

Slange; ‘n boomslang in my agtertuin die dag na ek ingetrek het en ‘n paar maande later ‘n pofadder op die stoep.

Ek dink ek is besig om in ‘n plaasjapie te verander, want die begeerte om die pad (of vlug) te neem stad toe raak al hoe swakker.

Vega

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top