Bokomo-brekfisbrief; 27/09/2010: Ronald Aronson: Living without God

  • 0
'n Verwysing in Victor Stenger se The new atheism (SêNet, 12 Maart 2010) het my bewus van Ronald Aronson se boek, Living without God: new directions for atheists, agnostics, secularists and the undecided (Berkeley: Counterpoint, 2008, 245p), gemaak. Stenger beskou dit as 'n onnodige boek terwyl ek meen dat 'n boek oor hierdie onderwerp waardevol kan wees vir diegene wat van religieuse geloof na ongeloof vorder. Maar dan moet die boek sy titel gestand doen.
 
Naas die groepe genoem in die newetitel verwys Aronson in die inleiding ook na skeptici, humaniste, ongelowiges en vrydenkers. Hy vind aansluiting by nuwe ateïste (SêNet, 12 en 30 Maart 2010) soos Richard Dawkins, Daniel Dennett, Sam Harris, Christopher Hitchens en Stenger. Religie word as 'n natuurlike verskynsel, 'n skepping van die mens, beskou. Tereg word geestelikheid/spiritualiteit as baie wyer as religieusheid/godsdienstigheid geag.
 
Aronson probeer aantoon dat die inwoners van die VSA nie so oorheersend godsdienstig is as wat dikwels beweer word nie en dat stilswyende ("tacit") ongeloof groot afmetings in Brittanje, Europa en elders in die Eerstewereld aanneem. "Today, even intensely religious lives are mostly secular most of the time" (p 29). Hans Kung beskryf sekularisering as "a shift of consciousness from the hereafter to the here and now, from life after death to life before death, from yearning for heaven to fidelity to earth" (p 231). Getalle help egter nie as ons moet besluit of gelowiges of ongelowiges reg het nie. Die meerderheid mense het voorheen gemeen die aarde is plat en dat die son om die aarde draai.
 
In die titel word "new directions" belowe maar hiervan kom min tereg. In die tweede hoofstuk, "Gratitude," word die naaste hieraan gekom. Gelowiges spreek dikwels hulle dankbaarheid uit, terwyl ongelowiges nie daardie drang teenoor 'n bonatuurlike iemand voel nie. Aronson toon tereg aan dat dit vir almal sielkundige voordele kan hê om opreg dankbaar vir talle mense en dinge te wees en dit ook uit te spreek. Die lewe en die wêreld is nie 'n wonderwerk nie, maar wonderbaarlik of bewonderingswaardig. "We belong to an order, a life system, which, however blind and indifferent to us as individuals, gives us our collective and individual possibilities" (p 46). 
 
Die sesde hoofstuk, "Dying without God," is waarskynlik die oortuigendste. Aronson het dit in 2007 geskryf terwyl hy in die hospitaal kankerbehandeling ontvang het. Hy merk tereg op dat geloof in onsterflikheid "distracts us from the life that we do have" (p 151). Maar dit is misleidend om te beweer "death is, after all, the essential precondition of living" (p 152). Hy is nader aan die waarheid met die volgende stelling: "There is nothing but this world, this life, the present" (p 157). Maar dan ook die onvermydelike: "death is" (p 159). "It may be correct to say that we can never really know death while we are alive and once dead we cannot know it either" (p 160). Epikuris (341-270 vC) het dieselfde reeds lank gelede beweer. "Death, this nothing that conditions everything" (p 165).      
 
My hoofprobleem met Aronson is dat sy oriëntasie wesenlik die van 'n sekulêre humanis is; iets wat te wagte kan wees van iemand wat Herbert Marcuse as leermeester gehad het. Linkse politiek oorheers in die teks pleks daarvan om aan al die bogenoemde groepe ongelowiges leiding te verskaf. Soos by ander groepe is daar groot onderlinge verskille in die politieke oortuigings van ongelowiges. Die teks steun sterk op politieke uitsprake wat Aronson reeds elders gepubliseer het. In hierdie opsig is sy eensydige betoog vir baie ongelowiges sekerlik misplaas en maak dit van die boek, inagenome die titel, nogal 'n misleiding.
 
In 1987 en 1990 was Aronson 'n gasdosent aan die Universiteit Natal. Hy het hom teen apartheid en ten gunste van meerderheidsregering uitgespreek en hy was tot oorlopens toe vol hoop. In 2002 het hierdie universiteit 'n ere-doktorsgraad aan hom toegeken. In sy boek en elders assosieer Aronson apartheid telkens met naziïsme. Hy verwerp slawerny, segregasie en rassisme en bepleit vryheid, gelykheid, menseregte en menswaardigheid. Hy noem dat die regering in die ou Suid-Afrika andersdenkendes vermoor het, terwyl die ANC op "minimizing violence" ingestel was (p 202). "The Freedom Charter promises the end of adult illiteracy, work for all, sharing the wealth of the country, restoring the land to those who farm it, and returning the mineral wealth to the people as a whole" (p 205).
 
Wat het van hierdie ANC-ideale en Aronson se hoop geword? "Today postapartheid South Africa is far less democratic, more unequal, more impoverished, and more insecure than the society envisioned in the Freedom Charter and imagined by many of those who suffered and died for it. Nearly one in four workers is unemployed, the country is riddled with crime and Aids, most workers continue to commute long hours from the townships, the land and the mineral wealth are still owned overwhelmingly by whites - in other words, in many ways it looks like the old South Africa, despite the spectacular rise of a small black business class and no less striking appearance of a poor white underclass. Perhaps, then, wresting the state from white control, implementing "One Person, One Vote," doing away with the apartheid system, and creating a new black elite were the limit of possibility. Perhaps other changes can come only long afterward, if ever" (p 205-206).
 
Intussen het die oorverligte Aronson iets gedoen wat ons ingevolge die ANC se beleid van verswelging (gedwonge integrasie) al hoe minder sal kan doen, tensy ons landuit gaan. Die Aronsons het uit 'n oorwegend swart na 'n oorwegend wit buurt uitgewyk; van die middestad van Detroit, waar hy doseer, na die "safety" van 'n beter woongebied met "decent neighborhood schools" (p 194).
    
Johannes Comestor
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top