Piet is nie sy regte naam nie so ek noem hom maar Piet. Sy regte naam klink so na aan Piet dat dit net so wel Piet kan wees. Ewenwel.
Verkoopsbestuurder. As kind sekerlik 'n nagmerrie in enige klaskamer. Hiperaktief en 'n babbelkous. Nie meer jonk nie en 'n klompie deurwinterde verkoopsmyle agter die blad. Die myle bestaan uit heelwat T-hempies en daaronder genoeg ou snye en wonde. Ervare.
En soos alle manne in dié soort bedryf, baie stories. Hy vertel my die storie as die reine heilige waarheid. Maar ek staan nie pa daarvoor nie.
Piet werk as jong verkoopsman vir 'n bekende Afrikaanse maatskappy. Nie net bekend nie, maar een van dié saligmakende ikone van weleer. (Dit beteken laaank gelede.) In die dae toe 'n verkoopsman met 'n das en baadjie in snikhete somerson sy besigheid moes doen.
Dit is waar die walvis in die prentjie kom.
Die maatskappy besluit om hulle natuurbewustheid aan die nasie ten toon te stel. Hoe sou 'mens dit doen? Die grootbaas - en hy was een van die grootbase der grootbase - trek die klomp bestuurders op 'n knop en stel die probleem. (Toe was 'n probleem nog 'n probleem soekende na 'n praktiese oplossing en nie 'n uitdaging wagtend op magiese ingryping nie.)
Hoofkantoor is in die Kaap (want dit is waar die baas bly.) Dis naby die see. Die baas besluit dat die bewustheid met die see te doene moet hê. Die see het visse in. Die manne kan net aan visse dink. 'n Transvaler stel voor dat hulle 'n klomp babers ... Nee, reken die baas, dis belaglik. Die volk hoef nie baberbewus te wees nie. Wat dan van 'n groot vis. Aha! 'n Walvis! Die
klomp besluit om 'n walvis te bou. 'n Groot blouwalvis. Die ding maak hulle staan op 'n groot lorrie en binne-in kan hulle flieks wys en bier drink. Die idee is dat hulle met die dierasie die land vol gaan ry en almal vermaak. Reuse sukses! Al wat leef en beef vergaap, hulle aan Behemot.
Land hulle en die moerse vis op 'n lorrie in die Vrystaatse platteland. Groot feeste. Braaivleis en bier en produkpakkies word aan die nasie uitgedeel. Op pad Bloem toe slaap hulle oor. Kuier die aand. Piet kuier lekker. Te vreeslik lekker.
Die volgende oggend trek die spul daar weg. Met die walvis. Almal behalwe Piet. Hy slaap 'n kuiervoos-slaap. Met die wakkerword besef hy dat die T-hempie wat hy nou gaan verdien, hom meer as die gewone wonde gaan kos. Haastig pluk hy dinge bymekaar en warrel deur-uit en in sy motor. Daar is nie tyd vir netjies maak nie en hy besluit dat hy iewers padlangs sy klerasie sal uitsorteer. Piet het 'n hemp, das, baadjie en 'n onderbroek aan. Sonder broek of skoene.
Vat hy die pad. En vat hy dit behoorlik. Na 'n wyle besef hy dat hy, vreemdeling in 'n vreemde land, nie lekker seker is hoe om in Bloem te kom nie. Waffer pad is die regte een? Piet sien 'n motor langs die pad staan. 'n Omie en sy liefie eet padkos. Onder 'n bloekomboom. Dis mos hoe dit gebeur. Koffie, wors en koue aartappels. Piet stop. Klim uit en vergeet skoon dat hy nie respektabel is nie.
"Môre oom, Tante."
"Môre. Mamma, kyk weg."
"Het oom nie 'n walvis hier sien verbykom nie?"
"ʼn Walvis?"
"Ja, oom. 'n Bloue."
"Nee, boeta, ek het nie 'n blou walvis gesien nie, maar ek weet hier onder in die vlei wei daar 'n klomp pienk olifante!"
HJ


