Bokomo-brekfisbrief; 27/06/08: Rugby in die woestynland

  • 0

Meeste van julle sal weet dat Namibië nie eintlik baie mense het vir die grootte van die land nie. Veel erger nog so 'n klompie jare in die verlede en om toe rugby in so 'n groot land te probeer speel het, was nie 'n ding wat sommer so gebeur nie. Is julle egter bewus daarvan dat in die Windhoekse stadion, vandag nog, agter die suidelike doodlyn, steeds karre tot teenaan die draad kan trek? Dit laat mens terugdink aan die jare toe meeste karre maar so om die rugbyveld geparkeer het en menige rugbyspeler knoppe op snaakse plekke opgetel het as hulle so by die kantlyn uit, tussen die karre en mense inboender. Ek weet nou nie van julle nie, maar 'n rugby'tjie so al teen die kantlyn af saam met jou span, is veel lekkerder as om doer in 'n hogere pawiljoen te sit en maar so effe te kan sien.

Dit kom natuurlik doer uit my kinderdae uit, toe die laerskool se rugbyveld van grond was [is ... nog steeds so!] en as ons wou rugby speel daarop, dan moes ons hom skoffel om al die duwweltjies af te kry. Elke jaar het ons seisoene mos maar begin met die atletiek na Krismis. Eers die skool se huiskompetisie en as jy goed genoeg is, dan na die streekskompetisie toe en uiteindelik SWAIKS, wat effektief die land se kampioenskappe was. Dan eers, so om en by Maart/April se kant, dan begin die manne kyk na die rugbyveld en die reënseisoen se duwweltjies. Dan skoffel ons maar so gedurende pouses en in die middag speel ons kaalvoet op daai veld tot daar uiteindelik niks meer van die dorings oor was nie! Onthou tog net, ons pote was kliphard en het in standerd 6 die eerste keer skoene skool toe gedra! Winter en somer het ons kaalvoetspore in die ryp en die stof van Windhoek se strate gelê ......

As ons êrens anders teen 'n ander skool se eerste span gaan rugby speel het, dan is die hele span sommer agterop 'n Ford F100 bakkie gelaai, dan trek ons so 6-uur die oggend weg en kom so 10:00 in Outjo aan so 'n 290km verder vir die wedstryd van 11:00. Dan kyk ons nog die res van die dag se rugby op die dorp klaar, en in die laat middag is dit weer terug Windhoek toe. Wat ek baie goed onthou, was dat die bakkie nie tralies gehad het nie en almal veronderstel was om plat te sit in die bak. Die een outjie wat agter die kap gesit het, het 'n gwel gespoeg daar van voor af en die een ou wat agter by die klap gesit het, 'potshot' in die oog gevang. Yeeaagh! Die ander ouens moes net keer of die twee het handgemeen geraak agterop daai bewegende bakkie!

Groot lekkerkry was natuurlik as ons teen Stofbakkies [Mariental] moes gaan sport maak, want dan het ons in Windhoek op Vrydagaand op 'n skooltrein geklim en deur die nag suid gery na Mariental se rigting toe en in die middel van die nag, dan word die 'skooltrokke' afgehaak op Mariental se stasie en die volgende oggend, as die son opkom, dan pak die opgewondenheid van die rugby wat voorlê jou. Hier het ons veldslae geveg letterlik tot bloed geloop het so op 'n sandveld waar die manne speel dat die stof staan. Hierdie was natuurlik 'n vrygeleentheid soos min ....

Het 'n ou ooste se kant toe gegooi, was dit natuurlik Gobabis se kant toe en dis 'n tradisionele vesting van die Afrikaner en die manne daar het alle soorte van stry ingesluit by hulle rugbypoging! Die hele blêddie dorp gaan staan stil en dan staan hulle op die kantlyn en moedig hulle spanne aan. So het ons een groot flank die bôl gekry en op pad na die doellyn toe, hol hy toe oor Gobabis se klein vleueltjie ... dié slaat winduit neer. Ou Louis draf toe terug om die man te kom help, toe sy horisonne baie donker word en toe hy opkyk staan daar 'n geweldige antie voor hom met 'muscles' wat doer onder haar bo-arms hang! Haar gesig is bloedrooi en sy haak af en klap hom kisboude met een hou!

Maar die skolerugby was boggerall in vergelyking met die senior manne. As klubs soos United en Wanderers in Gobabis gaan speel, dan weet die manne hulle is in vir 'n ding. Jy wen nie somaar net vir Gobabis op sy tuisveld sonder dat jy baie, baie moeite doen nie! In die aand, asof dit nie genoeg was dat hulle jou probeer vrekmaak het op die veld nie, dan versuip hulle die manne by die onthaal ook! Soos het oorle' oom Gert Muller en van sy pelle van Gobabis af gekom na die rugby een Saterdagaand en by die onthaal het hulle diep geskep. So met die grondpad langs tot by die hotel op Omitara waar omtrent net die hotel en 'n winkel was en daar het hulle die stof uit hulle kele gaan wegsluk. Oorle' Chris de Wet het in die kroeg gehelp die aand en hy was bekend daarvoor dat hy ook lekker kon saamgekuier. Omdat die dorpie so in moerlandspan geleë was en die ou karre van daai tyd het mos baie olie gebruik, het hy sommer so 'n paar blikkies olie tussen die drank agter in sy kroeg aangehou. Oom Gert het so 'n pienk Plymouth gehad met daardie 'whale tail' vlerke op die agterkant. Die ratte het jy oorgeskakel deur knoppe in te druk. Fênsie kar vir daai ty, soos dit 'n vooraanstaande prokureur betaam.

Daar was nege blikkies olie en oom Gert sê vir Chris hy moet almal oopmaak, sy Plymouth soek olie. So in die donker het hulle uitgeslinger na die Plymouth toe en nadat hulle die enjinkap oopgemaak het, toe sê oom Gert vir Chris hy moet maar die olie gooi want hy is meer nugter as hy.Hulle het g'n flits gehad nie. Nou het oom Chris vertel, toe hy die donker, blink vlek in die donker by sy voete sien uitloop, sou hulle besef dat hulle al daai olie skoon by die enjin verbygegooi het! Aag wat, seg oom Gert, daai Plymouth het Windhoek maklik gehaal met min olie en sommer nog vir heelwat jare sonder probleme sy ding gedoen. Wys jou net!

Ook die transformasie het ons getref en was dit hier rondom 1979 wat die eerste bruin klubspan 'n ligawedstryd op Gobabis moes gaan speel en beide kante was maar effe versigtig vir wat die middag gaan gebeur. Almal het mekaar so gevoel-voel en op 'n kol kry die Windhoekse span die bal en hulle laat loop hom die agterlyn af. Hulle het so 'n lekker senter gehad en die sny 'n breek en hy hol regdeur om sy drie te druk. Terwyl hy nog hol skrou die een boer hier van die pawiljoen af: "Keer die h........t! Hy hol weg!" Almal het gelag en die spanning was gebreek en alles was OK. Daai aand op die onthaal kry die afrigter van die swart span wat die wedstryd gewen het, sy hou in: "En daar dag julle boere toe ons gaan weghol en julle verloor die wedstryd!"

In die ou dae was rugby veel meer as net 'n spel om jouself mee te vermaak .........

NAMIB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top