Doer uit die jare van die Duitse regering in ons land, het van die ou Schutztruppe besluit om eerder in die land aan te bly as om terug te gaan Duitsland toe [ons woestyn het steeds hierdie effek op meeste mense] en het plaasgrond by die regering aangekoop om daarop te gaan boer. So het oom Heinz se ou pappie hulle grond bekom en stelselmatig begin om 'n werkbare beesplaas uit te kap in die berge van die Khomas Hoogland. Drade is gespan, berg op en berg af. Alle pale en draadrolle is met behulp van donkie en muil aangery tot waar donkie en muil nie meer kon nie, en vandaar met die hand verder gedra. Sy lyn- en kampdrade het sulke perfekte reguit lyne getrek deur die ruwe landskap.
Toe waai die Duitse regering en die SA-regering vat oor. Oupa-hulle was lank reeds lus vir land noord van die Oranje en toe die geleentheid opduik om hier 'n plaas te bekom, toe spring hulle vir die geleentheid. Hier neffens mekaar in die berge het Duitser en Boer unieke vriende geword. Omdat dit so moeilik was in daardie dae om van die een plaas na die ander te kom, want paaie het nie bestaan nie, het hulle maar in die werkery so op die plaas 'n punt daarvan gemaak om gereeld 'n draai te gooi by hulle gemeenskaplike grens. Kry hulle mekaar daar, dan kuier hulle en gesels die ou wêreld se probleme vir die bietjie wat hulle daarvan geweet het en kon hoor oor die draadloos. By elke hoekpaal van die dié gemeenskaplike grens was 'n klipbaken gestapel en as jy weet watter klip om te verwyder, dan vind jy 'n bottel schnapps daar saam met twee blikbekertjies. Niks soos 'n kleine-kleine om die geselskap te olie nie!
Die tradisie is deur Pa en oom Heinz voortgesit na die ou mense se dood. Soos die lewe maar egter gaan, het dinge meer modern geraak en het hulle stelselmatig 'n bergpaadjie gebou waarmee mens van die een plaas na die ander kon ry ... as jy 'n 4x4 het en wéét hoe om die ding te ry. Aanvanklik het ons almal ge-Jeep, maar jy kan mos eintlik niks op die ding laai nie. Toe kom die Landrover en sake verbeter ... tot op 'n punt, soos julle sal weet, want 'n Landrover het sy eie sake. Genadiglik, toe slaan die Japsnese 4x4's uit en toe die Hilux en die Cruiser ons tref, toe's dit vinnig ghoebaai vir al wat 'n Landrover is ..... behalwe vir oom Heinz wat aan sy ou Landroverbakkie geklou het soos 'n neet. Mens sou dink dat 'n Duitser wat só presies met die boerdery is, lankal die lig sou kon sien met die ou Landrover en al die probleme, maar g'n niks sulke dinge nie. Elke keer as die ou stuk drek breek, dan maak hy hom net weer reg.
Op daai moeilike bergpaadjie tussen ons plase was daar natuurlik 'n hek en so gereeld soos klokslag verloor oom Heinz se ou Landie sy brieke daar en ry hy daai hek in sy moer in. As hy afkom teen die berg en hy pomp-pomp die Landie se brieke en daar's g'n teken van 'vat' nie, dan druk hy die Landie se neus teen die houthoekpaal om dit so tot stilstand te kry. Baie keer dan breek die hoekpaal en die hek word gebuig. Pa het al gedreig en gesoebat, maar elke keer word die hek reggemaak en ek weet van selfs een keer se 'kompensasie' in die vorm van 'n elandbul wat van daai kant af gekom het. Elke keer moes die hek ook gesweis word en het later soos 'n laslap-gedoente gelyk. Duitser se kind wou egter niks hoor van om van daai ou Landrover ontslae te raak nie.
Miskien moet ek julle nou voorstel aan oom Heinz? Hy is so 'n lang maer man, donkerbruin gebrand deur die veld se son. Hy het net kakieklere gedra wat vele nommers groter was as hyself. Tipies Duitser het hy 'n breë leerbelt gedra om sy broek op te hou en dié het hy vasgetrek om sy middel sodat die broek effe benoud hoog in sy kloof opgetrek sit. Omdat die broek so groot is, is die pype wyd en lyk hy altyd half aardig met sy lang dun bene wat daar uitsteek.
Die staan was nog orraait, maar die sitslag was 'n gedoente. Soos dit 'n veldman betaam, is hy veel meer gemaklik op sy hurke en het hy, as hy in ons huis in die sitkamer kom sit, ook maar so vorentoe, wydsbeen op die punt van sy stoel gesit. Dit het natuurlik gevolge gehad. Daai wye pype het niks gedoen om te keer dat sy harige balsak weerskante by die broek se pype uitpeul nie en dit was altyd vir my ure se pret om vir die meisiekinders grootoog te maak en dan hulle oë te lei na dié vertoon toe, en dan blóós hulle. Dan kyk hulle so doelgerig by die vensters uit na die horison en vermy oogkontak met my teen alle koste. Nie dat plaasmeisiekinders stupid is en nie weet hoe die lewe werk tussen die geslagte nie, maar om dit darem hier so in die sitkamer uitgestal te sien, is érg!
Intussen het een van die seunskinders pelle gemaak op die rugbyveld met 'n outjie wat in die Tegniese Skool Pionier in Windhoek was. Hy was 'n weeskind en opstropolis met alles in die lewe se onregverdigheid waarteen hy in verset was en het meer daarom in 'n Tegniese Skool beland eerder omdat hy so bietjie agter die ander kinders was. Hier het hy goed leer sweis en het hy vandag een pragtige werkswinkel en besigheid aan die gang en is besig om stinkryk te word. Uit dankbaarheid vir die kuiers op die plaas en die biltong en goete in sy kosblik wat saamgegaan het terug koshuis toe, bied hy toe een dag aan om die ou hek vir 'n slag ordentlik te gaan regmaak, veral omdat oom Heinz op daardie oomblik in Duitsland was om by sy kinders te kuier.
Die seuns het orals ou stukke yster bymekaargemaak en het 'n netjiese storie gemaak van ons hek. Hulle het twee stukke ou staal-boorcasings in die hande gekry en hulle lekker diep ingegrawe met koevoet en pik en geplant as hekpale. Toe't hulle dit vol met beton gegooi en toe 'n nuwe heg gesweis met pype en drade en dié aan die pale gehang. Ons het nog spesiaal gery om te gaan kyk hoe lyk die mannetjie se werk en was baie beïndruk.
So ʼn paar weke later, sit ons een Vrydagmiddag laat en koffie drink en 'n beskuit kou, toe ek 'n man oor die berg op die pad sien aangedraf kom en sien toe deur die verkyker dat dit oom Heinz se een man is. Hy waai met die arms en toe hy by ons kom, toe vertel hy ons uitasem dat daar 'n groot ongeluk by die hek was en dat ons moet kom help, want sy oubaas het baie seer gekry. Vervaard het Pa en ek so 'n paar man bymekaar geskrou en is op die Cruiser hek toe.
So van ver af kon ons nog 'n effetjie van 'n stoom sien trek by die Landrover waar dit teen die hekpaal gestaan het. Sy voorbumper was geknak en die verkoeler stukkend gedruk. Die hek hang oop van die slag, maar makeer niks nie. Die nuwe hekpaal het ook skaars 'n nerf op. Eenkant egter, staan oom Heinz so gebukkend en spring so af en toe op sy hakke soos 'n boerbok. Pa is vinnig uit die Cruiser uit om sy ou pel te gaan bystaan. Die Duitser beduie met arms wat swaai en daar gaan Pa aan die lag dat die aarde behoorlik dreun! Hy was naderhand so lam gelag dat hy homself op 'n rots moes gaan sitmaak. Elke keer as ek by Pa probeer uitvind wat aangaan, dan lag hy net weer en kan omtrent nie ophou nie.
Later het ons darem die storie uit hom uit gekry: Die ou Landie se brieke se gepompery het niks gehelp nie en toe hy die Landie se bumper voor teen die hoekpaal druk soos hy maar altyd maar maak, toe stop die fokken ding dood. Hy kap sy kop teen die plat voorruit 'n moerse knop op, sy lyf buig die ou draadstuurwiel en sy 'privates' krul hier om die stuurstang! Dis die dat hy sulke bokspringe gemaak het om sy ghoens weer op hulle regte plekke te kry.
Maar het so 'n Duitser gevloek? Hou wou terstond weet wie's die dom donner wat 'n hoekpaal vol beton gaan gooi!
Twee weke later, toe oom Heinz op die paadjie na ons aangery kom en die son flits van sy blinknuwe Cruiserbakkie, giggel Pa en sê: "Dat dit darem nou daai twee lang balle van hom moes vat om anderkant die Landrover se stuurstang te moes hande klap om hom te oortuig om van daai ou stuk drek ontslae te raak!"
NAMIB


