Bokomo-brekfisbrief; 27/04/2010: Cadac, Alladin, Lister en Price's

  • 0

 

Getroue staatmakers.

Lank voor Eskom nog behoorlik op dreef was het hierdie manne en manninne lig, warmte en krag verskaf. Lank voor neonligte het Alladin met sy eenvoudige lampolie-konsep die nag bietjie makliker gemaak. Cadac en Alladin was mos vir vroegaand. Die Lister vir deur die dag (hy gee krag vir die ys en vrieskaste) en Price's vir ligte-uit. Soms, as die gekuier in die nanag inbeweeg het, het jy met daardie ghoef-ghoef van die Lister aan die slaap geraak.

Annerdag het ons mos hoeka oor mooi geluide gepraat en ek wonder: Is 'n Lister se rustigheid nie een van die mooiste geluide op aarde nie? Ek weet van 'n paar mense wat lelik seergekry het om so 'n Lister aan die gang te kry. Want werk jy nie reg met die slinger nie kan jy net 'n vinger of vyf verloor. Maar 'n Lister het mos 'n manier om vir ewig te hou. Annerdag het ons hoeka 'n Lister loop uithaal by oom Dawid in Witsand. En na soveel jare se stilstaan het daardie Lister basies net bietjie spookpis nodig gehad om weer behoorlik te loop. En loop hy nie!

Cadac is mos 'n ander tipe staatmaker. Wys my die man of manin wat nog nie aan die slaap gesis is deur daardie mmmmmm, shhhhhhhhhh van 'n 100CP Cadac-lampie nie en ek vreet my laptop op muis en al. Want nie net is hy 'n bron van lig nie, maar op 'n koue wintersaand iewers hier aan die Blou Dam kus is hy ook 'n bron van warmte. Doer langs die Breede as die Suidoos met lang dreigemente kom het 'n karavaan iewers op 'n sandduin gestaan met ruite toegewasem van net een Cadac-gaslampie.

Alladin. Dalk is ek oor sentimenteel. Maar ek onthou daardie halwe skaduwees destyds op Ga Twane. Want 'n Alladin-lamp was mos amper soos 'n Cadac behalwe dat hy nie geraas het nie. En tog het ek my eerste boek gelees by so 'n lamp. My eerste storie gehoor oor oor Alpha centauri en al die ander sterrehelde plat op my rug met 'n Alladin doer op die stoep winkend. Dis met 'n ou Lister se krag en 'n Alladin se lig waar ek die heel eerste keer met ene mnr Chopin en Mozart en dergelike manne kennis gemaak het. En moenie vergeet van 'n sekere me Maureen Moore nie. Want soos ek verstaan het was sy en me Callas die mooiste vroue naas my eie moeder gewees. Wel. Tot die TV en me Purdy bygekom het.

Price's. Mmmmmm, ander storie. Want Price's het mos sulke laaaang skaduwees gegooi waar jy hulle nie wou gehad het nie. En dis langs so 'n einste Price's waar ek een van die eerste lewenslesse geleer het toe ek my vrees vir donker verwoord het. Ra Mavenster het toe geantwoord met die mees basiese antwoord: Wat is donker? Donker is slegs die afwesigheid van lig. En sedert daardie aand het ek geen vrees vir ons vriend die donkerte gehad nie. Tog, ek onthou hoe 'n Price's-kers heelnag kon brand en sommer nog lank daarna. Deesdae se Price's blyk nie van dieselfde kaliber te wees nie, of dalk verbeel ek my. Kan jy glo dat 'n enkele Price's nou deesdae byna R2.50 kos?

Ek sit hier by my designer-kaggel met my Ozzie-houtvuur (ons slag die uitheemse Ozzies hier in Oesterland, moenie jy worry nie, Francois) en toe dog ek: Sit af die Neonlig. Doof die designer energiebesparende Eskom-gefinansierde gloeilampe. Ek gaan haal my Cadac- lampie uit wat letterlik jare laas gesis het. En glo dit as jy wil hy het net so tien sekondes of wat gevat om daardie lieflike woeffff te uiter (as jy nie weet waarvan ek praat nie sal jy heel waarskynlik nooit weet nie) en toe gevat soos slegs iets soos 'n Ford (of 'n hupse vrou) kan doen. En ek dink terug aan wie hierdie einste lampie van lig voorsien het. As ek reg onthou is een van die manne wat rondom hierdie einste lampie gesit het nou 'n regter in ons hoogste hof. Sy pa was 'n trotse predikant. En dalk het een of ander visserman ook destyds by einste lampie daar langs die rivier kom hitte soek.

Tegnologie is inderdaad 'n wonderlike ding. Dis net, ek hou nie daarvan dat ons alles oorboord gooi net omdat ons vorentoe wil gaan nie. Ek kyk na die glas van die doodgewone Cadac-lampie. Die goed bars die oomblik wat jy hom doodmaak. Alladin is lankal iets vergete. Dis oudmodies. Buitendien is die sakkies onverkrygbaar. En laat ons nou nie in argumente verstrengel raak nie: 'n Prace's-kers is beslis nie meer wat dit was nie.

Ek sit hier by my kaggel en ek wens dat jy hier was. Nie om te praat nie. Om net hier te wees. Want stilte is dikwels veel beter as die mooiste woorde. Veral as jy net die geluid van 'n Cadac-lamp en die veraf geraas van die Blou Dam in jou ore het. Want net een maal in jou lewe maak jy daardie konneksie met iemand. 'n Konneksie wat die vleeslike oortref en 'n verbintenis bo die normale bewerk. Ek droom en sal vir ewig bly droom. Niks fout met drome nie, is daar?

Ek wens nie nou vir al die rykdom op aarde of selfs 'n fraksie van die geluk nie. Ek wens vir, ag toemaar. Soos Koos beduie het van gebalsemde goete ...? Veel eerder tien minute se saligheid as 'n ewigheid daarsonder. Dankie in elk geval vir die paar minute. Al het ek dit nie waardeer nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top