Bokomo-brekfisbrief; 27/03/2011: Stagneer

  • 0

Ek sit aan tafel by die skool-reünie. Almal om my spog met hul grade en avonture van ’n leeftyd, man van die soort wat jy net van lees in daai adventure magazines op die CAN-rakkie. Dit voel asof my keel toetrek en die wynfontein lyk nou heeltemal te vêr van waar ek sit.

Ek is nou maar net die vaal vervelige mannetjie wat op skool gematrikuleer het, nooit gaan studeer het nie, maar sommer dadelik begin werk het. Ek was net vir ’n jaar oorsee want ek het my geldjies soos ’n goeie kind gespaar vir daardie ketel wat twee jaar gehou het en die yskas wat aanhoudend vasvries tot so ’n mate dat jy nie eens meer die laaie kan ooptrek nie. Ek het glad nie eens behoorlik 100km gereis van waar ek gebly het nie. Het ook nie eens foto’s om te wys van die tyd daar nie en het ook geen vriende oorgehou nie. Ek het maar by myself gehou.

Ek het teruggekom en bly nog steeds in dieselfde area as waar my skool was en ek het in die groef van die stadsrotte verval deur elke dag amper twee ure stad in en uit te worstel. Ek is onder debt review en was agt jaar laas met vakansie. Ek het nie eens genoeg geld vir ’n pizza, ’n bier, en ’n lekker DVD nie, so ek toets my kennis deur te kyk of ek eerste die antwoorde van Noot vir Noot op ’n Vrydagaand kan uitskree met ’n glasie R20-wyn in die hand.

Magtig man waar en wat het ek verkeerd gedoen om so op te eindig? Ek het nie eens die moed gehad om verder as my grootword dorp te trek nie. Ek het nog nooit rek- of valskerm gespring nie, my grootste uitdaging was ’n stap teen ’n koppie uit!

En Facebook, moet my liewer nie voor die profielblad sit met al daardie glimlaggies en foto’s van vakansies en mooi troues nie. As vriende kom kuier en vra of hulle my troufoto’s kan sien dan lieg ek sonder om te bloos en sê dat dit verlore geraak het met ’n trek en dat die fotograaf oorlede is. Daai foto’s was betaal uit ’n arm man se sak en dit wys dit ook. Almals taan en glimlag met skewe tande en boepensmae. Daar was nie ge-photoshop nie, heng ek dink nie eens die fotograaf het behoorlik geweet waar sy flits-knoppie gesit het nie.

E kry elke oggend werk toe en luister na dieselfde CD’s wat ek op hoërskool gekoop het, want daar was nog net nie weer geld om nuwes te koop nie. My gedagtes staan stil by daardie pragtige verlowings en troufoto’s van ’n ou skoolvriend en die opgewondenheid in die stem van ’n ou skoolvriendin wat nou by die see woonagtig is en elke dag na werk op die strand gaan piekniek hou.

’n Taxi ry amper my neus af, ek skop remme en dink ... Mmm, iets om vanaand om die etenstafel te vertel ...

Shantelle

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top