Almal van ons dink sekerlik met tye terug aan vergange se dae. So dink ek vandag aan 1968. Destyds het ek nie juis gedink dat dit ʼn besonderse jaar was nie, maar noudat ek terugkyk, was dit tog ʼn wonderlike jaar.
Waarom?
Omdat ek dit so goed kan onthou vergeleke met die ander jare van my kinderdae. En ek wonder sommer wat het van al daardie mense geword en wat hulle deesdae doen. Ons het in Desember 1967 Grootvlei toe getrek toe my pa by die kragstasie werk gekry het. Dus het ek standerd 4 op Grootvlei Laerskool begin in 1968. My klasonderwyser was mnr Piet Pretorius, wat sommer my held ook was vir daardie jaar. ʼn Onnie wat sy klas nooi om saam met hom te gaan visvang was en is seker nou nog baie raar.
Van die kinders wat in my klas was daardie jaar, het Ryno Hattingh nogal naam vir homself gemaak lateraan in die lewe, as ʼn gewilde filmster. Ek dink nou aan Kiepie en Kandas en nog baie ander. Ryno was my maatjie en ons het na skool baie saam gespeel. Daardie dae was dinge soos tops, albasters en kennetjie nog baie gewild. Ons het saam aangesluit by die "padvinders" (boy-scouts) en het saam rugby gespeel. Ryno se ma was vir my so ʼn mooi vrou. Ek kan haar nou nog in my geestesoog sien in daardie "Triumph 2000" waarin sy ons rugby toe ens vervoer het.
Ek onthou nog die onvoltooide motorboot wat in hulle garage gestaan het. Ons (ek en Ryno) het ure lank daar gesit en drome droom oor hoedat ons dit eendag gaan klaarmaak en op die water daarmee gaan ry. Ek wonder of die boot toe ooit gevaar het?
Ek onthou nou ook hoedat ons geoefen het vir die "Operette". Ryno kon soos ʼn nagtegaal sing en ek was self nie sleg nie. Maar hy het my uitgestof en die rol as hoofsanger losgeslaan in "Die Seerower". Ek hoor nog die liedjie in my gedagtes "heb je wel gehoord van het zilveren vloot, het zilveren vloot van Spanje?".
Ai, die herinnerings kom nou so duidelik terug.
Ek kan nie meer al die kinders (nou grootmense) se name onthou nie. Daar was twee tweelinge in ons klas. Ryno, Mario, Martin en André is van die seuns wat ek nou so vinnig aan kan dink. Edith (op wie Ryno ʼn crush gehad het), Elsabe (op wie ek stilweg verlief was), Daleen en Estelle is van die meisies wat ek onthou.
Tertius Meintjes, wat ook nogal naam vir homself gemaak het, was toe nog klein, seker so in graad een of twee. As ek reg onthou, was Tertius se pa die skoolhoof gewees daardie jare. My standerd 4-klasfoto en die een van ons rugbyspan het ek ongelukkig verloor in ʼn trek iewers, nadat ek dit vir jare lank soos goud opgepas het. ʼn Onvervangbare stukkie stille getuienis van my mooiste jaar ooit is daarmee heen!
Ek wonder soms hoeveel van daardie jaar (1968) se standerd vier-mensies is nog in die lewe oor. Ongetwyfeld my beste jaar ooit.
Maar waarom voel my keel nou skielik so half snaaks? En wat skort nou skielik weer met die simpel bril dat ek omtrent niks kan sien nie?
Cowboys don't cry ...
Groetnis.
Neels (Husky) Visser


