Bokomo-brekfisbrief; 27/01/2011: Wiskunde-onderrig en om buite die boks te dink

  • 0

Die vraag wat ek myself baie dikwels vra is watter tipe onderwyser is ’n goeie wiskunde onnie. My dogter en ander slim kinders kies snaaks genoeg die kwaaiste onderwyser. Die tipe mens wat nooit smile nie en die kinders mag nie piep terwyl sy/hy praat nie. Ongelukkig ken sy/hy nie die kinders se name nie, nevermaaind hulle omstandighede. Dié onderwysers kry uitstekende resultate elke jaar. Miskien moet ’n wiskunde onnie so kwaai wees sodat die kinders net werk. Volgens Malcolm Gladwell in sy boek Outliers doen mense baie goed as hulle baie oefen. Kinders moet so bang wees vir die onnie dat hulle elke dag hulle huiswerk doen.

Ongelukkig was ek nie daardie tipe onnie nie. Ek vra sommer nou verskoning vir al die kinders wie se potensiaal ek in die laaste 30 jaar opgeneuk het. Toe uitkomsgebaseerde onderwys ingestel is, was ek in my element want dis in elk geval hoe ek altyd skoolgehou het. Ek is nie die deursnee linkerbrein sistematiese wiskunde onnie nie. Ongelukkig het ek ’n kreatiewe streep.

My vraestelle (vir graad 8 en 9) was altyd vol prente en stories. Die doel van uitkomsgebaseerde onderwys was om leerders te leer om te dink. Ongelukkig is die manier hoe dit toegepas is verkeerd hanteer. Die leerders het te maklik punte gekry en die werk is drasties verminder. In wiskunde is kinders aangemoedig om self te ontdek, maar dan is hulle metodes geleer in plaas van probleemoplossing. By die skool waar ek skoolgehou het, was leerders in klasse gedeel volgens hulle punte. Dit was ’n goeie sisteem, want mens kon baie verryking en ekstra werk met die top-klasse doen en met die swakste klasse doen jy net die basiese sillabus sodat jy seker maak hulle bereik ten minste hul 40%. Die probleem is, wanneer ek vir ’n slim klas ’n probleem gegee het om op te los wat anders was as die wat hul reeds gedoen het, het hulle letterlik na ’n minuut opgegee. Hoogstens 3 of 4 leerlinge sou met die probleem sit en aanhou probeer totdat hulle dit opgelos het. Jongmense weet nie meer hoe om probleme op te los nie.

Wanneer ons spoed-afstand-tyd-probleme behandel het, het ek altyd ’n kaart van Suid Afrika onderstebo op die bord geteken. Sodra ek begin met: “’n Vliegtuig vlieg van Johannesburg na Kaapstad”, gaan dosyne hande op: “Mam, your map is upside down!” dan antwoord ek hulle: “Who says so?” en vra vir hulle hoe dink hulle lyk die aarde vir ruimtevaarders as hulle vanuit die ruimte na ons kyk. Sien hulle ’n perfekte kaart met Europa aan die bokant? Ek hou meer daarvan dat Suid-Afrika bo is. Hulle kon dit nie hanteer nie. Dit was vir my ’n genot om hulle te leer om buite die boks te dink. Hulle het ook kwaad geword as ek hulle aanmoedig om self by ’n oplossing te kom en weier om vir hulle die antwoord te gee.

Dit het my in die moeilikheid laat beland. Wanneer ons sirkels behandel het, het ek vir hulle my teorie van tyd verduidelik. Dat God buite die sirkel van tyd is en ons binne in almal op pad na die omtrek is. Wanneer jou tyd verby is, is jy buite die sirkel by God. Alhoewel almal se lyn wat hy loop nie ewe lank is of gelyktydig gebeur nie kom ons tog almal op dieselfde oomblik daar, want daar is geen tyd nie. As jy buite die sirkel is, is die verlede, hede en toekoms gelyk. Ons het interessante gesprekke daaroor gehad totdat ek daarvan aangekla is dat ek oor my geloof praat. (Deur ’n baie rebelse moeilikheidmaker.) Ek is ook vriendelik gevra om by die sillabus te hou, want my klasse het die werk wat ons doen met hul maats s'n vergelyk. Die vraag is; wie is die beste onderwyser, die ene wat die leerders soos papegaaie leer en goeie punte produseer of die een wat hulle leer om te dink?

Daar is ’n ander probleem wat nog meer kommerwekkend is. In die verlede moes onderwysers ’n akademiese graad behaal, asook ’n onderwysdiploma, om hoërskoolonderwys te gee. Vandag doen die studente ’n 4 jaar-graad in onderwys. Die akademiese vakke is nie noodwendig dieselfde standaard as ander grade nie. Hulle doen nie wiskunde, chemie en fisika saam met die ander BSc-studente nie. ’n Proefstudent by my skool kon nie eers die graad 9-wiskunde doen nie, ek moes alles aan haar verduidelik het. Dit laat my wonder of die laagtepunt in onderwys nie dalk nog op pad is nie.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top