OK (sug!). Laat ek begin deur te sê dat ek nog nooit iemand was wat geglo het in spoke nie. Ek het altyd maar gesê "regtig", en hier diep binne gelag.
My dogtertjie is nou drie jaar en tien maande oud. Ons is baie bewus van wat sy aan blootgestel is, en kyk sy omtrent nét goedgekeurde animasierolprente en programme soos Barney. Op TV is daar te veel geweld, en selfs as dit familie-vriendelike programme is, dan is daar nog goed soos WWF advertensies tussenin.
Begin Desember het ons na ‘n nuwe huis getrek. Heelwat groter as ons vorige huis, maar ook heelwat ouer. Gizelle was van die begin af glad nie gelukkig met die nuwe huis nie. Ek het nie geweet ‘n kleintjie kan so kwaad raak nie. Vir omtrent twee weke wou sy nie met my of Soutie praat nie. Dinge het egter ontspan (dog ons), tot my Ma kom kuier het. Een aand van nêrens sê sy vir my Ma sy hou nie van die nuwe huis nie, want dis vol mense. Sy praat ook skielik die heeltyd van Brigitte, haar maaitjie van vier wat blond is, en dood is. Waar de fok hoor sy sulke goed?
Vrydagaand is dit net ek en sy. Ons lê lekker op die bank en kyk The Jungle Book, en weer uit nêrens sê sy vir my sy hou nie van die nuwe huis nie. Ek vra vir haar hoekom sy nie van die nuwe huis hou nie. Sy sê die huis is baie stout. Ek vra toe vir haar weer hoekom hy stout is. (Nou, enigeen wat ‘n kind van daai ouderdom ken, sal weet dis nie maklik om iets uit hulle te kry nie.) Weer sê sy net die huis is stout. Nou hier kom die part in waar ek amper in my broek kak. Soos sy dit sê, gaan die lig in die sitkamer af vir ‘n paar sekondes, weer aan vir ‘n paar sekondes, weer af, en flikker toe so ses of sewe keer aan en af. Toe is dit weer aan.
Na al die hoendervleis weg was, vrae ek haar weer wat's fout met die huis. Sy reken iets van glas, en wil daar na niks meer sê nie.
Wat de fok doen ek? Dis nie normal nie. Sy is ‘n gelukkige kind wat net liefde ken. My vrou wil trek hieroor. Waar kom Gizelle aan die naam Brigitte (soos in Duits)?
Soos julle kan sien, het ek baie vrae. Ek wil nie hê my liefie moet in vrees leef nie. Sy is tog nog steeds oor die algemeen ‘n gelukkige kind. Ons het ‘n kinderhuis, 'n plek van veiligheid vir kinders oorkant die pad van ons en langs dit ‘n begraafplaas. Die mense wat in ons ou huis ingetrek het, het hulle eerste naweek in hulle nuwe huis gevier, toe die man ‘n hartaanval kry en in die sitkamer sterf. Is dit als net goed wat toevallig gebeur het?
Dit als "freak" my uit. Ek glo aan dit wat ek kan sien en voel. Tog sê my dogtertjie wat nog nie eers vier is nie, al die vreemde dinge, en gebeur die "weirdste" goed om ons.
Wat dink julle? Is dit als maar net toevallig, of is daar iets groters aan die gang?
Beste wense,
Bobbejaan
(Ek hoop almal lees en gee wyse raad. As ek jy was het ek maar weer die Property Guide aangeskaf. Sterkte! Webvoet)


