Beste SêNetters
Hiermee ’n klein waarskuwing aan dié wat hulle wil laat verlei.
Naweke doen almal mos dinge waarby hulle nie deur die week uitgekom het nie. Ek sit sonder SêNet, lees die enkele Brekfisbrief van Antjie Somers en hul rare ondervinding by ’n kampeerplek. En ek dink aan Naomi se kommentaar onder aan ’n brief - dat SêNet ’n 'veilige verslawing' genoem kan word. Alles goed en wel, maar as die Sê oor ’n naweek nie bestaan nie, kan jy net sowel waagmoedig raak. (Al is dit sonder ’n Ford Escort cum V8.)
Toe laai ek my krukke in die Corsa en sit af na die grot van genot.
Die parkeerterrein is so te sê vol. Ek wurm tussen ’n slap Merc en ’n gehawende bakkie in. In die verte kom ’n bussie aan. Dis ’n gesukkel om in te kom en plaas te neem tussen ’n klomp strak gesigte. Niemand sê ’n dooie woord nie.
In die genotgrot is dit net een malende massa, masjiene wat raas en flitsende liggies wat jou vertel hoe maklik jy sommer R695 000 met 5c kan wen.
Ek stop by die eerste oop stoeltjie, reg langs ’n ander ouerige dame. Haar gesig is net so stug soos die van die passasiers in die bussie. Heel vriendelik vra ek hoe hierdie storie werk. Kry een vuil kyk terug en word op Engels toegesnou: "Don't bother me, I'm counting." Wat sy nou eintlik count, bly duister vir my, toe druk ek maar ’n knoppie ... en weer en weer en wéér. Die eerste 20 sent is daarmee heen en van R695 000 is daar g’n sprake nie. Dan probeer jy desnoods ’n ander 5c-masjientjie.
Maar toe ek opstaan om aan te beweeg, gebeur die allerverskriklikste ding. My langbroek se rek gee mee en daar staan ek met krukke in my hande – en broek op die vloer. So vinnig as moontlik buk ek af om dit weer om die lendene te probeer kry. Nie één énkele mens is eens bewus daarvan nie. Almal se oë is vasgenael op die skermpies voor hulle.
Een van die werkers sien darem my amper-naakte verknorsing raak en bied ’n klein haakspeldjie aan om die langbroek mee vas te steek. Sy help my na die volgende ry stoeltjies en vra of ek ’n kalmerende drankie wil hê. Ek kry ’n botteltjie Bonaqua Apple & Mint. Langsaan sit ’n man met iets heelwat sterker as enige gebottelde water. Hy neem sulke diep teue uit sy glas. En hy vloek en skel strykdeur terwyl hy die groot knop moerig kap. Dit laat my terugdink aan Antjie Somers en daai kleintjies wat so in tale gepraat het. Hulle sou wragtag ’n paar woorde by my nuwe buurman kon leer.
Vir die volgende halfuur sit ek saam met die hoopvolles en knoppies druk, kry soms ’n hele rand, net om dit weer vinnig te verloor. Met moed wat algaande soos my broek in die skoene sak.
En toe, ewe skielik ... is daar niks. My R50 is ingesluk deur die monster.
Op pad terug huis toe stop ek by ’n kafee en treat myself met ’n goedkoop suigstokkie. ’n Blêrrie sucker verdien niks meer as dit nie 🙁
Daar's bitter min dinge wat kan lieg soos ’n TV-advertensie. Wees gewaarsku, manne wat die grot van genot wil besoek: by hierdie een was daar niks te wen en geen sexy meisies te sien nie – net ’n ou-vrou stripshow!
Vermanende groete
Ellen


