Mev M het weliswaar nou nie die boud- en stoelprobleme gehad van die heer Deon Knobel nie, nee, haar probleme was wel boud-benoud, maar dit was op ʼn totale ander histeriese vlak tydens die bekendstelling van die Groot Verseboek. Die genotvolle aand het vir haar byna in 'n Kafkajaanse aand geëindig toe sy haar handsak plus beursie, diverse kaarte, ID en haar Tarentaal verloor het.
Haar storie soos oorvertel aan my:
Mev M en haar geliefde het die luisterryke halle van die Iziko-kunsmuseum betree om die bekendstelling van Groot Verseboek by te woon. Sy het haar swart handsak op een van die talle hoge stoeltjies geplaas. [Dit was glo ietwat swaar om haar skouer weens die gewig van beursie se sente en die Tarentaal daarin.]
Sy en die geliefde drink hulle wyntjies, eet versnaperinge, gesels hier en daar en al fladderend beweeg hulle so effens weg van die stoel af.
Mev M draai later om en sien ʼn blouoog baby raak op iemand se skoot sit. Sy snap dadelik dat dit die digter Danie M en sy kunssinnige mooi vroutjie se eersteling moet wees. Omdat Mev M onlangs haar eerste kleinkind ryker geword het, vrek sy deesdae oor babas. Sy tel die dogtertjie van 6 maande op. Die kind gryp haar hare vas. Sy gesels met die moeder en koer vir die kind. Sy gee die kind terug. Sy stap terug na die geliefde.
Die geliefde wil 'n interessante storie vir haar gou vertel wat hy pas gehoor het ... Wag, onderbreek sy hom, kom ons gaan rook, wil net my handsak kry ...
Sy stap terug na die stoel toe waar sy die sak gelos het. Prof Joan sit daar en Mev M vra rond oor haar handsak. Die Prof en niemand anders wat daar sit weet van so 'n handsak nie.
Mev M se angsvlakke styg maanhoogte. Geliefde is ontsteld. Die musiek dreun en mev M sukkel om kalm te bly. Hulle begin soek, vra uit, lig tafeldoeke op, loer onder eettafels in, die wyntafels en die boekstalletjie met al die geblikte boeke op. Hulle bekyk alle handsakke met die kleur van nag, maar nee, die handsak is nêrens te siene nie.
Jeanne Goosen simpatiseer en vertel van haar inkopiesakke wat met iemand anders s'n in 'n trollie deurmekaar geraak het en hoe gemors dit was om dit uit te sorteer.
Die gaste beweeg na 'n saal toe waar Brink sy toespraak hou. Mev M en geliefde gaan onverpoosd voort om die sak te soek. Haar hele kleine lewe is mos in die sak. Sy is later hoogs ontsteld en drink sommer drie glase rooi wyn namekaar.
Sy vra geliefde om van sy sel af háár sel te bel. Hy bel aanmekaar. Die sel lui en lui. Sy dink dat 'n gatecrasher of dief miskien die handsak in die Tuine neergesmyt het, slegs die geld gevat het, wat gelukkig min is [want mev M is mos nou op pensioen], en toe laat spaander het. Maar watse dief sou dan hier rondsluip tussen hierdie weltalige bekroonde en onbekroonde digters?
Sy verdink skielik verskeie mense, die caterers, die museumpersoneel, 'n digter wat moontlik sy of haar mes in het vir haar om een of ander onsinnige of duistere rede, dalk 'n armoedige digter wat geld vir skryfbehoeftes benodig, dalk 'n versteurde digter wat met haar lipstiek 'n vers teen die mure van die museum wil uitkrabbel. 'n Digter wat 'n makabere belangstelling het in die intieme sintaksis van haar ID-boekie?
Want sien, angs hits die verbeelding aan en laat die paranoia hoogty vier. Hulle mis die groot toespraak van Brink. Hulle hou aan bel. Sy laat selfs 'n boodskap vir die dief: indien jy na hierdie stemboodskap luister ... ek is Mev M, dis my sel wat jy vashou. Ek soek my handsak. Jy sal vergoed word indien jy my handsak vir my kan terugbring. Bel net my geliefde op sy selnommer ...
Hulle vra oral rond, loer in agterkamertjies en store in, die caterers pleit onskuldig en bly vriendelik en ondersteunend, die museumpersoneel is ontsteld en loods 'n soektog, bied selfs aan om later die videoband te speel van die kameras wat die mense afgeneem het. Die toespraak is verby en die gaste stap die saal uit in die oop halle.
En toe huppel 'n vrolike streamline Melt mevrou M tegemoet. Hy bring die swart handsak triomfantelik vir haar, tot haar allergrootste vreugde.
Die storie agter die storie:
Iemand moes die handsak in gedagte in digter Danie se vrou, Karlien, se prem gesit het. Mev M erken dat sy self ook tydelik aan geheueverlies kon gely het en self die handsak daar gesit het, maar sy wil tog glo dat dit onwaarskynlik is, omdat haar laaste rekolleksie die stoeltjie was waar haar handsak gestaan het.
Maar miskien sou die heer Deon hierop lig kon werp op so 'n moontlikheid al dan nie. Die moontlikheid dat 'n ander gedog het dis haar handsak en toe sommer in die prem gesit het daar naby toe sy ontdek dit is nie hare nie, is natuurlik ook moontlik.
Nietemin, mev Karlien het later vier of vyf handsakke in die prem gehad! Toe die toespraak begin oor die Groot Verse, het haar vriendinne hulle bags gevat sodat sy haar blouoogbaby wat van skoot tot skoot verwissel het, kon terugsit in die prem. Maar een handsak het agtergebly en sy het geen clue gehad aan wie dit behoort het nie, maar slim vrou wat sy is, sit sy die handsak toe voorlopig heel onder in die prem in, op 'n dra-rakkie. Mev K stap toe deur die museum se lokale terwyl die toespraak aan die gang is, sodat baba nie die gehoor moet steur nie.
Mev K bewonder die skilderye. En daar hoor sy dit: die vreemde skor geroep van 'n tarentaal! Dis seker buite, dink sy eers. Daar hoor sy dit weer. Baby Blue baie opgewonde. Nee, dink mev K, dis seker 'n tipe installasiekuns, 'n skildery met 'n klankbaan wat begin speel as jy daar verby stap. Hoe oulik!
Wat mev K nie weet nie, is dat Mev M se sel die luitoon van 'n tarentaal se geskrou het. Want mev M vrek ook oor tarentale, bo en behalwe babas. Haar erf en dorp is vol van hulle. En toe haar seun in Lagos was 'n tyd gelede, het hy spesiaal 'n tarentaal-luitoon vir haar daar gekoop en op haar selfoon laat opsit. Mev M sal dus nooit van haar Tarentaal ontslae raak nie, selfs al kyk die mense haar geskok aan in die Spar as haar sel skielik afgaan.
Mev K is dus onbewus daarvan dat hierdie geluide uit 'n selfoon afkomstig is en sy gaan voort om Baby Blue tot bedaring te bring en die wonderlike welluidende skilderye te bewonder.
Toespraak verby, en mev K sluit weer aan by haar geliefde Danie en die ander gaste.
En toe skree Tarentaal gelukkig weer eens en Melt van LitNet hoor dit en hulle besef dit kom uit die swart handsak onder die prem en Melt weet toe al dat Mev M haar sak soek en hy sê vir mev K dis mev M se sak hierdie en hy vat die handsak en gaan gee dit vir mev M waar sy wingerdsuur en ontsteld die dreunende halle intuur.
Die vreugde was groot, dis mos haar goedjies daai. En om dit alles te verloor is 'n rompslomp en 'n vloermoer soos min. En as dit is wat die Groot Verse aan haar doen, sal sy nooit ooit weer 'n gedig skryf nie.
Sy het reeds ʼn lysie van al die items in haar kop gemaak wat sy sou verloor het.
Sy was natuurlik die meeste bekommerd oor haar Tarentaal. [En die vorige een het sy juis in haar wasmasjien verloor ...] Want om so 'n luitoon te kry is mos nie maklik nie. En Lagos is baie ver ....of is dit al hier beskikbaar?
Met die handsak toe weer veilig oor die skouer, het sy na haar geliefde toe gedraai: Jy wou nog laas iets interessants vir my vertel ...
Groete
Mev M se Vriendin


