Tien jaar gelede het jy as ‘n vrolike swart wollerige bondeltjie in my lewe ingebons. By die hondeskool was jy altyd die mooiste hond wat die meeste aandag getrek het. Jou opgewektheid en lewenslus het gemaak dat jy my baie keer amper onderstebo gepluk het.
Soos die tyd aanstap, het jou vel begin uitslaan en jeuk. Snags het jou houthuisie geskommel en geklop soos jy lê en krap. My hond, ons het alles probeer ... natuurlike druppeltjies wat ons by ‘n kwaksalwer gekry het, kortisoon, antibiotika, verskeie sjampoes, vleislose diëte, operasies om die reuse swamme wat op jou rug ontwikkel het, te verwyder. Jy moes jou manlikheid ook inboet toe dit op daardie plekkie ook begin sweer het.
Ten spyte van al jou ellendes het jy maar oopbek bly lag en my soos ‘n skadu gevolg ... só lojaal. Op wandelinge het mense altyd gestop om jou te bewonder. Jy was ‘n pragdier ... groot met swart lang hare en sielvolle oë wat blink soos nat lukwartpitte.
Gister het ek gesien jou gô is uit en ek en manlief het die sware besluit geneem. Laas nag het jy vir oulaas langs ons bed geslaap en ek kon jou deurnag hard hoor asemhaal. Vroeg vanoggend het jy soos gewoonlik heerlik geëet. Dis een ding wat jy met oorgawe kon doen. Ek het sommer vir jou ‘n halwe pakkie rooiworsies gevoer, soveel koekies as wat jy kon eet en jou laaste happie was ‘n stukkie brood met botter. Daarna het ek jou rooi opgeswelde oë saggies met ‘n nat lap gewas en jou vir oulaas versigtig gekam oor jou geknopte lyf. Jy het op jou gunstelingplekkie gaan lê sodat ek die heel laaste keer vir jou op my klavier kon speel.
Die tyd het gekom en ek het jou halsband aangesit en jou versigtig in die motor gelaai. Met my hande om jou nek het ek vir jou dankie gefluister omdat jy so ‘n edel wese was.
Al wat nou oorbly is jou leë kas, komberse, beskuitjies en jou kosbakke.
My hond, ek gaan jou vreeslik mis!
‘n Baie hartseer Perdebytjie
(Nee man, nou het jy my in trane! Sterkte, dis 'n aaklige ding. Webvoet)


