Bokomo-brekfisbrief; 26/10/09: Outydse kos

  • 0

Neil Kroese se Brekfisbrief het ook my gedagtes laat rol.

My ma het van die Sandveld af gekom, van ‘n plaas wat aan die see gegrens het. Mense wat kon kosmaak. Al daai lekker kosse, Neil, dié ken ek ook. Al het ons in die ou Transvaal beland, kan ek so goed onthou hoe ek na die etes, na skool uitgesien het. As ek so op my ou groot dikwiel fiets met die hengse carrier waarop my skooltas so groot soos ‘n naweektas van nou vasgemaak was, huis toe gery het, het ek al begin wonder. Van al die lekker kosse, was tamatiebredie my gunsteling. Maar ek moet sê die kerriekos het kort-kop agter geloop. Dis nie kerriekos soos ons dit vandag ken nie, nee, dit was met vleis en sopboontjies gemaak. Die boontjies het gesorg vir die melerige tekstuur. Daar het net aartappel, miskien een wortel in gekom. Stysel? Nee, toe was ons nog nie so bewus van sulke dinge nie. Wanneer ek dan by die huis gekom het en een van die twee kosse (geregte klink so verkeerd!) was op die tafel, het my vreugde die hoogte in geskiet.

My ma het nie juis ingegaan vir poedings nie, ek dink dis seker maar oorblyfsel van die depressiejare. Sy het wel graag gestoofde, gedroogde geelperskes saam met haar bredies gemaak. Later van jare het sy en die Transvaalse buurvrou, elke, liewe Vrydag twee koeke gebak. 'n Sjokoladekoek en 'n Lemoenbloeisel koek. Die koeke was in die helfte gesny en elkeen het die helfte van elke koek gekry. Gemmerbier het sy nooit gemaak nie, maar die resep daarvoor het my suster van haar skoonfamilie af oorgebring. Ek het dit male sonder tal gemaak, kompleet met die 'handvol' rosyne wat daar ingekom het. Rosyne met pitte in. Dié resep sal ek graag met jou deel, Neil. Ek het ook in my jongdae pynappelbier en ook koringbier gemaak. Geen van die biere het juis 'n skop ingehad nie.

My skoonma het ek maar net vier jaar geken, toe het sy die tydelike met die ewige verwissel. In daardie tyd het ek haar net vier keer gesien, dit was met elke vakansie wat ons afgekom het Kaap se kant toe. Ek is met ‘n uitgeweke Kapenaar getroud. Hy is, as die jongste van agt kinders, op Prins Albert gebore en getoë. Ek is baie verbeeldingloos in Bellville gebore! My skoonma het weer ‘n wonderlike, outydse sagopoeding gemaak. Haar dogters, toe was drie van die vyf ook in Transvaal, was altyd so hartseer dat hulle nooit die resep gekry het nie. Ek het een vakansie, wat ons eers later sou weet die laaste een sou wees, langs haar by die kombuistafel gaan sit en neerskryf toe sy haar beroemde sagopoeding gemaak het en geskryf want daar was nie ‘n resep nie. Dit het haar oneindig plesier gegee, dat ek in haar ‘gewone' resep belanggestel het. Sy is twee weke daarna aan beroerte dood. So het ek dan altyd, spesifiek wanneer die skoonsusters kom kuier, hulle ma se sagopoeding vir hulle gemaak.

Mens behoort hierdie dinge vir die nageslagte te bewaar.

Lidia

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top