Bokomo-brekfisbrief; 26/10/08: Stemme uit die graf

  • 0

Die spoorsnyer hou sy hand in ’n gebalde vuis bokant sy kop omhoog. Die Casspir se luide grom verskraal tot ’n hoorbare brom. Langs die eerste Casspir kom nog drie tot stilstand. Nuuskierige koppe loer oor oop dakke uit en radio’s knetter met gesprekke tussen die vier groepleiers.

“Die spoor is vars, Kilimano reken ons is 10 minute agter hulle, tyd om die gunships te scramble.”

Oral is geluide wat gereedmaak vir oorlog. Patroonbande in die .30 en .50 Browning’s word nagegaan en weer nagegaan. Die locking pins op die mounts word uitgehaal en links en regs geswaai in denkbeeldige vuur. Magasyne word uitgehaal, geskud en weer in wapens geplaas. Wapens word gespan en seker gemaak daar is ’n patroon in die chamber, weer en weer. ’n Stille lag klink senuagtig en gesprekke is gedemp. Adrenalien pomp.

Skielik bars alle hel los. ’n RPG-7 projektiel haal die voorste Casspir dadelik uit, sy motor verwronge staal. Saam met dié donder onmiddellik uitroepe van pyn. Instinktief neem maande en jare se opleiding oor en die drie oorblywende Casspirs kom soos een in beweging. Geweervuur en voertuie maal in ’n dolle deurmekaarspul tussen die bosse deur. Stof reik die hoogte in. Sweet, bloed, kruit gemeng met adrenalien, jaag asems.

Tussendeur knetter die radio’s onophoudelik.

“Kontak, kontak!!”

“Vorentoe, links – agter jou. Nee! Agter die miershoop. Skiet die bliksem, skiet!!!”

“Ek sien hom nie!”

“Toemaar, *Charlie het hom!.”

“Zulu Foxtrot is uit, beskerm hom. *Jaco is jy orraait?”

“Weet nie, twee van my manne is ernstig gewond, een dood. My drywer is sonder bene en ek dink ek is die maag getref.”

“Here!! Daar is nog twee agter jou. *Karel beweeg links en plaas jou tussen Jaco en die bliksems. *Botes, daar bombshell hulle, skiet, skiet!!”

“Zulu, Zulu, ons het cassavas!”

Die kontak is verby so vinnig as wat dit begin het. Geweer rook hang sinister oor gebroke liggame tussen die stof.

Ek spring van my Casspir se dak en hardloop na Jaco se voertuig. Hy hang oor sy .50 Browning met ’n vinger steeds op die snellermeganisme, terwyl bloed ’n straaltjie teen sy ken afloop. Een kyk in sy dowe oë vertel my Jaco is nie meer nie. Ek sak op my knieë neer en sit verdwaas na hom en opkyk. My vriend van 4 jaar is weg! Sy stem is stil.

Net die vorige aand het hy nog vertel dis sy laaste trip. Sy vrou verwag en noudat hy pa gaan word wil hy uit die oorlog. Hy’t vertel dis ’n dogtertjie. Ons het ’n stille bier gedrink terwyl elkeen van ons met ons eie gedagtes besig was. Voor elkeen na sy slaapsak gedraai het, het hy my in die oë gekyk, my hand in syne in ’n wurggreep geneem en gevra of ek die kind se peetpa sou wees.

“Geen groter eer,” was my antwoord.

Vanoggend, 24 jaar later, gaan kuier ek weer vir my vriend. Ek sit aan die voetenent van sy graf. Sy dogter het ’n wit roos in haar hand wat sy op die klein kopsteen neerlê. Die wit polisiewapen teen die donker graniet maak die damwal bars. Vir die eerste keer in 24 jaar huil ek. Ek huil oor my vriend, oor sy dogter sonder pa, maar bowenal – ek huil omdat hy verniet die hoogste offer betaal het.

’n Óú man

NS Name met * vooraan is doelbewus verander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top