Bokomo-brekfisbrief; 26/09/08: Dood

  • 0

 

Nou dink ek die afgelope paar dae so aan die dood. Veral na Oom Hans (raMavenster) se dood. En ek wonder by myself wanneer is iemand werklik dood.

Wanneer is iemand vir my dood? Jy sien, ek treur al oor sekere mense nog voordat hulle omgeval het en opgehou het met asemhaal. Hulle vlees is nog hier, maar die gees het lankal reeds na 'n ander plek gegaan. Of dalk het hulle gees net na 'n plek gegaan waar hulle nie meer met my konnekteer nie. Dit bly egter nog steeds vir my werklik dat hulle nie meer hier is nie. Daarom treur ek oor hulle of moet ek eerder sê dat ek rou?

Dan weer is daar dié mense wat besluit dat ek vir hulle dood is en dat hulle daarom niks met my te doen wil hê nie. Meestal is my houding jeens diesulkes 'n "fok-jou" houding. Daaroor treur of rou ek nie eens nie. Dit gaan oor my kop en ek mors geen energie daarop nie.

Daar is egter ook daardie mense wat werklik fisies doodgaan en wie se dood my raak. Soos my twee boeties wat doodgebrand het toe ek nog klein was. Hulle was nog vir 'n paar dae na die brand lewend, maar ek kon hulle nie gaan besoek nie. Ek kon hulle nie gaan groet of vertel hoe lief ek vir hulle is nie. Wanneer het hulle vir my doodgegaan? Toe hulle weg is en ek hulle nie meer kon sien nie? Toe hulle doodgaan en Ma huilend by die huis kom en sê hulle is dood en word Donderdag 12h00 begrawe? Of toe hulle begrawe word? Of toe die tannie op die onthaal na die begrafnis vir my sê ek moenie meer so huil nie, sy weet presies hoe ek voel en dit sal beter word en ek besluit: jou moer, man (Moes seker gewees het: vrou), hoe kon jy ooit weet hoe ek voel?! My kop het vrede gemaak daarmee dat hulle dood is en dat hul lyding tot 'n einde gekom het, maar my hart wens baie dae dat hulle nog hier moes wees om my lewe te vul en ek wonder baiekeer hoe kon dit gewees het. Hulle bly in my gedagtes maar ek weet hulle is dood.

Oom Hans se dood het my ook laat besef dat daar 'n ander hoek op hierdie saak kon wees. Soos met my oupa. Ek weet dat hulle naby aan die dood is. Die liggaam wil nie meer nie. Die dokter sê: Dis net 'n kwessie van tyd. En dan gaan hulle op 'n dag dood. En jy is hartseer. Hulle lewe egter net al hoe groter in my gedagtes. Die herinneringe word net al hoe mooier. Hulle word net al hoe sterker, doen net al hoe beter dinge, hul voorbeeld leef om my te lei. Is hy dan werklik dood?

Teenoor party dooies is dood vir my dood. Geen emosie, geen gevoel. Net die empiriese feit. Die liggaam funksioneer nie meer nie. Daar lê die liggaam. Koud. Gevoelloos. Tot niks meer in staat. DOOD. Soos wanneer jy by 'n ongelukstoneel verbyry met 'n liggaam bedek met 'n kombers.

Wanneer is iemand dan nou eintlik "dood"? Dalk moet ek eerder vra wat is die ergste dood: Wanneer die gees sterf of die liggaam?

 

'n Stem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top