Dit lyk my jy het nes Swys 'n bloutjie geloop met 'n pyp. Daardie pyp wat hy destyds in Londen gekoop het, is vir my erg verdag. Hy het nie verwys na die maroen Rolls Royce wat altyd voor Dunhill se winkel geparkeer was nie. Daardie jare was dit een van Dunhill se "trademarks". Alfred Henry, dis nou die ou man se seun, het gespog:
If the customer comes to you with a Volkswagen, you go home with a Rolls Royce. But if he comes to you with a Rolls Royce, you go home with a Volkwagen.
As tipies Engelse snob het hy geen kanse gevat nie. Hy het seker gemaak één van sy RR'e is altyd voor sy winkel geparkeer. Of Swys daardie doelbewuste maroen geparkeerde RR voor Dunhill se winkel misgekyk het óf nie, dit weet ek nie, hy het niks daaroor geskryf nie.
'n Redelike goeie Dunhill het in die vroeë sewentigs so tussen ₤16 en ₤18 gekos. Dit was baie geld. Maar as mens so 'n bietjie roekeloos was, kon jy tog een koop. Destyds was die wisselkoers heel anders as vandag. Met R3 kon mens £2 pond koop. Ai, hoé het die tye nie verander nie? Slegs R4 het jou vyf Amerikaanse dollar in die sak gebring.
Ek het self ook pype gekoop wat nét nie lekker rook nie. Dis iets wat jou nogal omkrap. Jy's vies vir jouself oor die gemors wat jy gekoop het, of jy's vies vir die ou wat rubbish aan jou afgesmeer het. Swys se brief het my gaan laat rondkrap in my kaste. Êrens het ek 'n pyp gebêre vir 'n pyproker wat 'n lekker pyp kan geniet. Ek het dit wraggies gekry. My eerste "ordentlike" pyp, 'n Dunhill wat ek in 1970 gekoop het.
Deur die jare het ek baie pype weggegee. Uiteraard eers daardie goed wat nie lekker rook nie. Maar toe ek ophou rook, het ek ook my lekker pype begin weggee. 'n Pyp is nie 'n ornament nie. Dit moet gerook en geniet word. Daarom het ek dit weggegee. Ongelukkig het die meeste daarvan tog ornamente geword. Mense het oopgehou pyprook. In plaas van in my eie kas, lê dit nou ongebruik in iemand anders se kas.
Ek wou graag vir Swys daardie pyp stuur maar wou eers seker maak dit gaan gerook word. Hy het nie op my vraag reageer nie. Daardie pyp lê nou op my schnauzies se "grooming table". Eintlik is dit my seun se verouderde tekenbord maar werk uitstekend as skeertafel. Dis lekker groot en baie verstelbaar. Die einde van die maand moet daardie tafel skoon wees. Hopelik is die koue verby en kan ek weer begin met my brakkies se tweeweeklikse skeerdery.
Daar het jy dit, Jan Rap. Ek aanvaar jy hou daarvan om saans rustig op 'n leunstoel te sit en suig aan 'n heerlike pyp. As dit wel só is, is ek seker daar is maniere om daardie pyp by jou te kry. En ja, indien jy wonder, daar is "strings attached". Dit moet nét gerook word.
Die pyp wat jy in die Kaap gekoop het, nou ja, vergeet van die Kaap. Hoekom jy jou pyp in die eerste plek in die Kaap gekoop het, is miskien jou verdiende loën. Daar is mos redes hoekom 'n Transvaler van die Kaap dink wat hy dink. Ek lei uit jou brief af jy's 'n Johannesburger. Vat daai pyp na Wesley's toe. Iemand daar sal vir jou kan sê of jou Savinelli eg is. Ek dink 'n Italianer is net té trots om nie sy naam op iets te sit wat hy met groot sorg gemaak het nie.
Mooi loop
Schnauz


