Bokomo-brekfisbrief; 26/08/08: Skuins Freek kreefslag

  • 0

 

As die kreef ondermaat is, moet dit teruggegooi word; so sê nou-se-dae se wet mos. Maar skuins Freek kreefslag het in ou jare, voor dié soort wette geleef. Hy is aan die einde van elke skooljaar teruggegooi vir nog ʼn jaar in dieselfde standerd; en so plus-minus elke derde jaar eers een klassie hoër opgeskuif. Want Freek - soms Frekie - was lyer aan ʼn rare sindroom, iets soos kretinisme of Downs of wat ookal; die naam het my ontgaan. Hy is gebore met webvoete; velle tussen die tone - niks met LitNet en internet te doene nie, wat toe nog nie bestaan het nie - en het ʼn besondere klein skedel gehad met ʼn baie lae haarlyn op die klein voorkop. Sy oë was ook baie na aan mekaar en nie presies ewe hoog nie.

 

Ek probeer nog ʼn geheel maak van die fragmente herinnerings aan Frekie, as slagoffer van omstandighede. Sy lewe het oral agteruit beweeg; vandaar dalk die bynaam `kreefslag'. Hy kon nooit regtig soos ons ander klomp, vryslag vorentoe in die lewensstroom swem nie. Sy siektetoestand het sy omstandighede anders bepaal.

Vir ons, wat Frekie hier so in standerd een van agter af ingehaal het, was hy ʼn heerlike bron van vermaak. Sy grappe en aapstreke in die klas het hom egter dikwels die gelag met drie van die `bestes' laat betaal. "Buk, Freek!" moes ons dikwels hoor; soms self ook, saam met hom. Dan het ons die kweperlathoue op die bas voor jou getel soos aftellings by die lansering van ruimtetuie dekades later, jou sitvlak ywerig gevryf na jou beurt, en probeer om nie te huil nie. Toe was daar nog `manne' in wording.

Maar Frekie was taai geslaan. Het eenkeer selfs aanhou buk na mnr Alberts al klaar was en het kamma verbaas gevra of `meneer dan al begin het', toe dié sê hy kan maar gaan sit.

In 1945 se koers, teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, was dinge maar skraps vir ons. Dit was dae van petrolkoepons en geheime meelsiffies in die kombuise, want witbrood bak was strafbaar. Al was daar dalk in die stede reeds iets soos spesiale onderwys vir mense soos Frekie, was Morgenzon net te ver die hoëveldglooiings in om aan so iets te dink. Almal was oorlog-arm. Hempies van uitgewasde meelsakkies was algemeen, maar skoon. Trots begin mos by self opstaan uit die as. So, skewe Freek kreefslag moes maar in die gewone skool gehou word, ondanks sy akademiese nulprestasie.

Almal het kaalvoet in die skoolbanke gesit. Skoene is selde gedra. Maar Frekie kon glad nie skoene aan sy voete verduur nie. Toe dit later in beter tye amptelike skooldrag word, was hy rasend toe hulle hom wou forseer om skoene aan te pas. Dit was tóé dat mnr Alberts ook uitgevind het hoe om Frekie te beheer; iets wat die kweperlatte nooit kon regkry nie. Hy het naamlik by een aanpas-sessie sy knipmes uitgehaal om ʼn merk aan die tonge van die paar skoene te maak wat Frekie toe uiteindelik pas, kompleet asof hy skaaplammers merk: swaelstert, winkelhaak, halfmaantjie van agter, om later te kan eien, want met verdrag sou hulle Frekie moes inbreek, so een oefening per week.

Dit was egter fataal. Toe Freek die mes hier by sy voete sien, het hy opgevlieg. "Nee nee!" het hy geskree en weggehardloop. Hy het glo gedink mnr Alberts wil die webvelle tussen sy tone oopsny. So het ds Griesel later uitgevind - wonderlike ou vader van ons kuddetjie - toe hy Freek weer kon oorhaal om terug te gaan skool toe.

Toe ons in standerd een begin Engels leer, was daar menige amusante weergawe van die wêreldtaal uit die monde van Boerkindertjies. Uitspraak was ʼn taai tameletjie, en daar is geoefen en geslyp vir die vale. Veral toe dit bekend geword het dat ene mnr Orban, direkteur van onderwys, ons skool sou besoek om twee nuwe klaskamers in te wy. Ook aan koorsang en voordragte is ywerig geoefen; die man moes besing word, ons het hom waardeer, nie met petrolbomme `bespring' soos later jare gedoen is deur `bemagtigde' studente wat skole afbrand of medeleerlinge dood met swaarde en skêre nie. Ons was nog op ons plek gehou.

Maar mnr Alberts kon geen vordering maak met Freek kreefslag nie, want dié kon klaarblyklik selfs Engels in trurat sit deur lukraak Zoeloe-woorde in te gooi - ʼn taal wat mnr Alberts nie verstaan het nie. Dit het yslike hiate in kommunikasie tydens die opvoeding van Frekie gelaat as die meneer eers mooi moes dink of Frekie se woorde nou eintlik Zoeloe, of dalk gevorderde Engels was. Waarom die meneer so oortuig was dat die heer Orban juis - van almal in die klas - vir ou Frekie sou vra om ons groep se vaardighede, na inenting met die `vyandstaal', uit die Engelse leesboek te demonstreer, is nou nog nie duidelik nie. Iemand kon mos maar net vir Orban sê, as hy dan nie self kon sien Frekie is ... e ... `anders' nie.

Wat egter baie duidelik was, is dat Freek ʼn sinnetjie moes lees wat op "heart" eindig; iets soos "with my whole heart". Maar dit kon ou Frekie nie, glad nie. Woord vir woord het mnr Alberts hom laat spel en dan uitspreek. "Mmm aaai," spelle hy.

"Ja, jaaa, mooi man," moedig die pedagoog vir Freek aan, en loer skigtig rond dat Stoffel tiekiebrood nie weer vir Freek iets verkeerds voorsê nie. Hy reken as Frekie die dinge self uitredeneer gaan hy dit dalk op die dag van Orban, onthou.

Dan stamel Frekie dapper voort. "Whole" word gedekodeer tot "Wwww hiiii ôôôô llll ..." En skielik blaker hy triomfantelik uit, "Ek weeeet! Dis maai hol. Wif maai hol ... ee ... dinges, meneer!" En daai `dinges' is toe nou "heart."

Maar die knoop het eintlik juis by "heart" gelê. Na almal klaar gegiggel het en Frekie geswel het van trots dat hy ons ʼn slag kon laat lag, het mnr Alberts se geduld ook die ‘fin de siecle' stadium begin bereik. Toe die kweperlat uit die langkas kom, het die gelag bedaar. Meneer Alberts was nou daarvan oortuig dat Freek weer met sy aapstreke begin om ons ander te laat lag. Later het ek eers besef dat dit al prestasie was wat die arme drommel kon bied om soms aanvaar te word. Foeitog, elke mens wil glo mos maar gehê word, hy tog ook!

Alle snaaksighede het plotseling opgehou, die verkeerdvoorsêers het skielik akuut lat-bewus geword. Freek wat deur die sinnetjie geworstel het, moes nog net ʼn `eksegese' van die woord "heart" gee. Die meneer se wenkbroue het gewys die grapkassie is gesluit. Die kweperlat was soos ʼn dirigent se baton in sy hand en het almal behalwe Freek in die swygkoor laat sing. Rottangs en latte het hom koud gelaat, en toe meneer hom weer foneties help spel, bekyk Frekie die woord skeefkop soos ʼn hoender wat wonder of hy ʼn erdwurm of ʼn slang se stert sien, en sê: "Hiart, meneer, daar staan geskryf ‘hiart'!"

Maar die teleurstelling - "Nee nee nee, Frekie man, dis nié `hiart' nie. Probeer weer."

Maar Freek hou voet by stuk, daar staan `hiart', en hy loer gluipoog vol ingehoue verwagting rond toe daar iewers weer ʼn giggellaggie klink.

Mnr Alberts het dramaties geraak. Freek soú uitvind - self - hoe mens "heart" op Engels uitspreek, het hy besluit. Hy bedink ʼn nuwe strategie, sit die kweperlat neer, kyk Frekie stip in die oë, stamp hom ʼn paar keer met die wysvinger op die linkerhelfte van sy borskas, en sê: "Frekie, wat sit hier?"

Sou Freek sê `hart', sal hy dalk weet die woord word feitlik eenders uitgespreek in albei tale. Dan moet hy net die hele sinnetjie aanmekaarflans, en mnr Orban kan kom. Hy stamp weer met die vinger op die regte plek en herhaal afgemete: "Toe, wat sit hier?"

Freek koes egter soos vir ʼn swaard, kyk aapagtig rond en sê: "Huhhh ... êêê ... êê," en begin dan skielik bulderend lag: Hu-hu-hu-haaa! Hy het al ʼn duidelike snor gehad, en ʼn hadida-stem wat daarby pas.

Dit was nou net genoeg van Freek se grappe. Meneer Alberts kon niks verder meer verduur nie. Die kweperlat het in twee gebreek toe Freek die hou sien kom, wegbuk, en die lat een van die banke in stede van sy agterstewe tref.

Toe onthou onse meneer skielik die webbe tussen Frekie se tone, en sy histeriese vrees, die dag met die merkery van die skoene. Hy steek ewe dramaties sy hand in sy sak. Frekie grynslag en knipoog nog vir ons, maar toe verskyn die blinklem, swarthef Joseph Rodgers in mnr Alberts se hand. Met groot teatrale gebaar knip die onnie die lem oop. Kil kyk hy Frekie diep in die oë, sy stem ysig; die Joseph Rodgers in sy regterhand, sy linkerhand stadig aan die strek in die rigting van Frekie se kaal voete.

"Vir die laaste maal, Freek van Eeden," sis die meneer en stamp weer op Frekie se borskas, links, waar die hart sit. Dan hard, baie hard: "WAT SIT HIER!"

Freek kon nie ontsnap nie. Hy klim bo op die bank, maar mnr Alberts sien sy plan en druk die venster toe. "Freek van Eeden," bulder hy, die mes nou oop en gevaarlik naby Frekie se gewebde tone bo-op die bank. Die wysvinger deurboor die siel, indien dan nie die borsholte nie: "WAT SIT HIER!"

"Nee, ‘seblief, meneer, ek sal sê. Moenie meneer, moenie!"

"Nou sê dan. Wat sit hier?"

En in benoudheid tot die dood toe, gil Freek kreefslag vir die man met die mes: "Dis, dis ... MY TIET, meneer!"

Johann de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top