Bokomo-brekfisbrief; 26/07/2010: Ons val Marokko binne - of so vermoed die owerhede!

  • 0

Ons is op die oomblik in Agadir in Marokko. Agadir is ’n vakansiestad teen die Atlantiese Oseaan met baie toeriste, veral uit Europa, hierdie tyd van die jaar. Die weer is lekker en ons het besluit om ’n paar dae te bly om die voertuie te diens, (ja dis al weer 10 000 km sedert die vorige diens in Lambarene!), wasgoed te was en die binnekant van die voertuie weer ’n bietjie te orden. Ons woon in ’n baie netjiese en moderne kampeerterrein met al die nodige fasiliteite soos wasmasjiene, elektrisiteit en lopende water by elke kampeerplek ens.

 

Ons binnekoms in Marokko het met ’n groot geskarrel plaasgevind. Tydens die voorbereidings van die reis het ons vir elke voertuig ’n volledige stel vlaggies laat maak van elke land waardeur ons sal reis, wat ons toe voor ons vertrek uit Louis Trichardt op ons voertuie geplak het. Volgens die reisplan sou ons vanaf Mauritanië deur Wes-Sahara na Marokko reis en het ons gevolglik ’n plakker van Wes-Sahara se vlag (wat geredelik op die internet beskikbaar is) ingesluit in die versameling vlaggies. Nadat ons vir 2 ure aan die Mauritanië-kant van die grenspos gestoei het om al die formaliteite af te handel het ons uiteindelik by die grenspos aan die Wes-Sahara  kant van die grens aangekom. Daar vind ons toe uit dat Marokko op ’n tydsone van 1 uur later as Mauritanië opereer en dat dit toe reeds 19:00 in Marokko is en die grenspos dus gesluit is. Ons word toe gedwing om in die stuk niemandsland tussen Mauritanië en Wes-Sahara te kamp wat eintlik een groot vullishoop is. By gebrek aan enige verdere keuses het ons toe maar die beste van die saak gemaak en die aand lekker gekuier. Op die foto hieronder kan die lieflike omgewing waarin ons gekamp het, gesien word.

 

Die volgende oggend 09:00 meld ons toe by die grenspos aan waar die geboue en infrastruktuur baie mooi en goedversorg voorkom. Terwyl ons wag dat die immigrasie en doeane administrasie afgehandel word kom ons agter dat die polisie ’n groot belangstelling in ons voertuie ontwikkel het en begin al hoe meer mense na ons voertuie kyk en lang besprekings in Arabies voer. Uiteindelik word daar foto’s van ons voertuie geneem en word ons ingeroep vir ondervraging. Ons groot oortreding blyk toe te wees dat ons verdink word daarvan dat ons simpatiseerders van die Polisario-front is wat hulle beywer vir ’n Wes-Sahara wat onafhanklik is van Marokko omdat ons vlaggies van Wes-Sahara op ons voertuie geplak het. Na etlike ure kon ons hulle oortuig dat ons uit onkunde opgetree het en nie bewus was daarvan dat daar nie so iets so Wes-Sahara bestaan nie en dat alles as Marokko bekend staan. Ons moes hulle op die kaarte wat ons het wys dat die kaarte Wes-Sahara as ’n aparte gebied aandui en dat ons dood onskuldig gedink het dis ’n onafhanklike gebied wat net onder Marokkaanse gesag funksioneer. Om toe seker te maak dat ons nie ’n staatsgreep beplan met wapens wat ons insmokkel nie, moes al ons voertuie deur ’n X-straal masjien ondersoek word en is die voertuie ook uitgepak. Na bykans 6 ure is ons toegelaat om verder te reis nadat manne in privaat klere en strak gesigte persoonlik die Wes-Sahara plakkers van ons voertuie kom verwyder het en vernietig het. Die foto hieronder wys die plakkers met Wes-Sahara se gaatjie mooi oop!

 

Die tog deur die Sahara het toe voor ons gelê en het ons redelik verlig die voertuie noord gedraai en begin ry. Die Sahara is ’n ongenaakbare omgewing met ’n sterk wind wat permanent waai maar dis nogtans ’n ondervinding wat ons bly was ons kon ervaar maar nie van voorneme is om dit gou weer te herhaal nie.

 

Weereens het ons voor en na elke dorp Polisie padblokkades gehad en by sommige dorpe het hulle ons verwag en selfs vir ‘n gedeelte vergesel! Die waarskuwingsteken hieronder is nogal iets unieks van dié omgewing aangesien daar oral troppe kamele is wat oor die pad loop en hulle min aan die enkele voertuie steur wat verbykom.

 

 

 Na 3 dae se lang ure ry het ons uiteindelik die Sahara agter ons gesit en in Agadir aangekom wat baie soos Durban is met goeie infrastruktuur, winkels en mooi strande. Van hier gaan ons via Marrakesh, Casablanca en Fes na Ceuta vanwaar ons die veerboot na Spanje gaan haal vir die Europese been van die reis.

Ons vertrou alles is nou weer terug na normaal daar by julle na die sokkerwêreldbeker. Sovêr ons met mense gepraat het en die pers dopgehou het, het Suid-Afrika ’n hoogs suksesvolle toernooi aangebied en is ons trots op ons land.

Groetnis,

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top