Zero het soggens met haar Tata werk toe gegaan. In die biblioteek het sy agter die skerms verdwyn. As jy in ’n biblioteek werk, so is gesê, moet jy lief vir mense wees. Sy was nie. Sy was lief vir boeke.
By die werk het masjiene al hoe meer die pret bederf. Sy het nie van woorde op skerms gehou nie. So kan ’n mens brokkies inligting naslaan, maar om intens te lees, moet dit gedrukte teks wees. By die werk en tuis het sy meelewend gelees.
Sy het sonder televisie en met min meubels klaargekom. Boeke, ’n gemakstoel en stilte was haar paradys. In die winter het ’n kniekombersie bygekom. Sy het nie gereis op soek na iets nie. Sy het die paaie van die gees bewandel en uitgekom waar sy ook al wou wees.
Oor hoe mense lewe en oor die wêreld het sy gelees; oor die werklikheid in al sy skakerings. Sy het gewonder waarom alles is soos dit is; veral wat en waarom sy is. Sy het probeer verstaan waarom sy nie inpas nie.
Haar ouers (hulle van was Niemand) en baie ander mense het gedink sy is ’n niksnut. Haar kleredrag het aan haar ’n vlooimarkvoorkoms gegee. Dit was vir haar lekker om ingat te wees. Sy het op klein skaal maar met oorgawe volgens haar waardes gelewe.
Sy is arm en sonder seremonie dood. Sy het geen kind of kraai agtergelaat nie. Toe hulle haar wou inspit, kon hulle dit kwalik suksesvol doen; miskien vanweë die grootsheid van haar verdwene gees. Sy het hoër gereik as die vrugte wat laag hang. Dalk is dit ware rykdom.
Johannes Comestor


