Ek het verlede week ’n wyle in die Kaap deurgebring. Ek was die meeste van die tyd by ’n paar kampusse en spesifiek die Universiteit van die Wes-Kaap gewees. Aangesien ons so rukkie gelede ’n indiepte gesprek oor Afrikaaps op SêNet gevoer het, het ek nogal my oor op die grond gehou om so bietjie van hierdie unieke dialek te hore te kry.
Groot was my verbasing om bykans nêrens eers ’n Afrikaanse woord te hoor nie. Ek het geen probleem om in Engels te kommunikeer nie, en ek is nogal geneig om gewoonlik eerste met mense in Engels te kommunikeer, totdat ek aflei hulle is Afrikaans. Tog is dit ietwat van ’n ander storie in die Kaap. Elke keer as ek optel dat die persoon se Engels uiters swak is en dan uit hoflikheid oorskakel na Afrikaans word ek aangegluur. Die gesprek sukkel dan maar voort in Engels.
Ek is oortuig dat Afrikaaps vervang is met Englikaaps. Ek besef dit is nie die geval in Oesterland en ander kleiner plekkies in die Wes-Kaap nie, maar die Kaapstadse metropool het darem wraggies heeltemal verenglikaaps. Englikaaps word rongegooi asof dit uit die mode raak, maar dit lyk asof bitter min mense werklik Engels kan. Die ergste is dat die jongmense en studente met wie ek te doene gekry het, geensins Afrikaans in enige formaat kan of wil praat nie. Ek het etenstyd op ’n bankie gesit en luister hoe groepies vriende met mekaar probeer praat en dit het my baie laat dink aan die paar Gautengers hierbo wat nou grand probeer wees om hulle bloedjies te verengels.
Ek het al baie die horries gekry as ek hoor hoe ons bure se 7- en 9-jarige kinders buite in die tuin speel en dinge soos "Damien I will frow you wif dus frusby" kwytraak. Mammie en Pappie is eintlik Poggenpoels, maar groet mens ook net in stotterende Engels en kyk jou skeef aan as jy Afrikaans praat (om hulle tegemoet te kom). Daar is natuurlik meriete daarin om jou kind in Engels op te voed, maar hel as jy nie self Engels kan praat nie, stel hom eerder bloot aan Engelsprekendes voordat jy hom die lewe instuur met ’n basiese begrip van net een taal! Leer dan eerder by Thembi hier langsaan wie se vierjarige dogter gereeld in duidelike en verstaanbare Engels my siel kom versondig.
Dit is dieselfde tendens in die Kaap. My ore het op ’n stadium getuit oor die verskriklike aksent en swak taalgebruik wat die mensies in Engels probeer gebruik. Engels is nogal ’n taal wat baie aksentgedrewe is en ek het al geleer dat ek binne ’n sekere geselskap outomaties sommige uitsprake begin gebruik. In Amerika, leer mens gou om "Whaa-err" in plaas van "Water" te sê, en in Brittanje tel mens so paar Queens English-dingetjies op.
Na sowat ’n uur in die Kaap het my aksent en woordeskat in so ’n mate vervlak dat ek nou nog skaamkry om Engelse kliënte te bel!
Ag nee magtag man. Mense moet ophou om hulsef te skaam vir Afrikaans. Daar is baie mense in Suid-Afrika wat met gemak beide Engels en Afrikaans kan praat. As jy ’n tweedetaalspreker van Engels is, het jy geen rede om jou te skaam vir jou aksent as jy in Engels kommunikeer nie. As jy egter jouself as ’n eerstetaalspreker van Engels probeer voordoen en weier om Afrikaans te praat, slaan jy jou naam met ’n plank as jy nie eers ’n basiese Engels onder die knie het nie. Dalk moet ons by die swartmense leer. Hulle is gewoonlik vlot in verskeie tale, en die kwaliteit van Engels wat in Gauteng in die besigheidswêreld gepraat word, sal die Englikapenaars laat skaamkry.
Groete
FB


