Bokomo-brekfisbrief; 26/01/09: Ontmoet Wim Braamse, ’n Nederlander met ’n onblusbare passie vir Afrikaans

  • 0

 

 

Ons taal en alles wat daarmee saamgaan, is soos altyd, hoogs relevant. In die lig van die briewe oor Afrikaans wat die afgelope paar dae verskyn het, moes ek eenvoudig skryf om vir julle te vertel van ’n e-pos vriend wat ek laasweek vir die eerste keer persoonlik ontmoet het.

Op 27 Oktober 2008 sien ek op LitNet se voorblad ’n skakel na Kuier@LitNet vir Wim Braamse, ’n Nederlander wat tans in Stellenbosch woon en met “lotgenote” wil kontak maak. Nuuskierig oor wat presies ’n lotgenoot is, maak ek die skakel oop.

Daar begin sy brief in keurige Afrikaans soos volg:

“Ek is ’n Nederlander (56 jaar jonk) wat sinds 2001 in Suid-Afrika bly. Ek is hier omdat ek die land geniet, die verskillende kulture en die uitdagings wat die land gee.

Ek het in Kaapstad, Kimberley en Kuruman gebly, en het nou ’n blyplek in Stellenbosch, waar ek saamleef met ’n besigheidsvrou met drie tieners.

Veral in die Noord-Kaap het ek baie gewerk met gestremde kinders en mense met diabetes (ek is self vir 46 jaar ’n diabeet). In Kaapstad was ek betrokke by die kinderdiabetesklinieke van die Rooi Kruis Kinderhospitaal en Tygerberg-hospitaal.

Ek kry ’n pensioen uit Nederland, maar wil graag my kennis en ervaring deel met mense wat minder bevoorreg is as ek. En daar is baie in Suid-Afrika!”

My belangstelling was dadelik geprikkel, want ek en my man het ook bande met Stellenbosch, Kaapstad, Kimberley en Kuruman en reis periodiek na Nederland. Skryf, sê die nuuskierige agie in my – vind uit hoe sy kop werk. Hy is dalk net nog een van hierdie Europese slimjanne wat dink hulle weet wat in Suid-Afrika aangaan, maar sê nou net hy is nié?

Ek skryf toe en ontdek Wim is absoluut gaande oor Afrikaans. Sy landgenote daarenteen, vind Afrikaans ’n “aardige babataaltje”. In 2001 tydens ’n vakansie in SA het hy met aandag na die taal begin luister. Dit was vir hom so luisterryk en uitdrukkingsvol, dat hy homself die doelwit gestel het om vir ’n tyd hier te kom woon en die taal aan te leer.

Hy het gekom, en is in 2009 steeds hier. Dmv ’n paar e-posse kom ek meer te wete van ’n veelvlakkige man met baie familiebagasie. Op een vlak is hy, tipies Hollands, baie reguit en draai geen doekies om nie. Op ’n ander vlak is ’n sagte marshmallow wat al baie seergekry het in die lewe en nie skaam is om sy emosionele kant ook te wys nie.

Een oggend verlede week kry ek ’n oproep van Wim. Hy kom later na my dorp se Mall vir inkopies, het ek nie lus en tyd vir ’n vinnige koppie koffie by Rossini’s nie?

Hy wag reeds in die oranje hemp wat hy beloof het om aan te trek sodat ek hom maklik sal uitken. Die man wat daar sit, lyk kleiner en ouer as die indruk wat sy stem oor die telefoon wek. Hy sit en lees koerant met ’n cappuccino voor hom. Dit voel skielik so ongemaklik om ’n vreemde man hier te ontmoet dat ek oorweeg om verby te stap en te laat weet ek kan dit nie maak nie. Maar op daardie oomblik kyk hy op, besef ek is seker die lotgenoot, en begin huiwerig groet.

So koffiedrinkende raak die gesels al hoe makliker, en die kuier rek na langer as ’n uur. In goeie Afrikaans, weliswaar met ’n kenmerkend-Nederlandse aksent, vertel hy hoe hy net geweier het om Engels te praat sedert hy in Suid-Afrika woon. Hy het gekom om die taal te leer en dit sou hy doen - aanvanklik met behulp van drie woordeboeke, ’n notaboek en pen wat hy oral saamgeneem het. Hy gebruik steeds die woordeboeke wanneer hy skryf om seker te maak die spelling is korrek. Ek hoor watter wonderskone taal is Afrikaans, hoeveel meer beskrywend en gevoelvol hy homself daarin kan uitdruk as in Nederlands. Sy oë skiet vol trane as hy vertel hoe aangegryp hy is deur Antjie Krog se Country of My Skull. Ja, hy het agtergekom Suid-Afrika se opset is veel meer ingewikkeld as wat mense van ander lande kan besef of verstaan. Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam het hy nog nie gelees nie, maar reeds ál sy ander boeke. Op die oomblik is hy besig met Deon Meyer se 13 Uur.

Sy mondhoeke bewe wanneer hy vertel van ingewikkelde familie-aangeleenthede wat sy verblyf hier bemoeilik. Sy volwasse kinders hoop hy sal teruggaan Nederland toe. Hy dink nie hy kan weer teruggaan na daardie oorgereguleerde bestaan nie – Suid-Afrika is waar hy die res van sy lewe wil bly. Hier maak hy ’n verskil, ook onder minder bevoorregte kinders met sy opvoedingspraatjies en klinieke vir diabete. By die eerste praatjies het min mense opgedaag. Hy was verbaas oor die swak belangstelling. Toe begin hy agterkom mense is nie daar nie hoofsaaklik omdat hul nie vervoer of geld vir vervoer het nie. Dan moet hy dit “eenvoudig” na hulle neem. So neem hy toe inderdaad sy praatjies, klinieke en kennis na minderbevoorregtes en oningeligtes, en Wim die fietsende suikersiekteberader, raak mettertyd ’n bekende gesig van die Rooikruis Kinderhospitaal tot in Khayelitsha.

Hy leef eenvoudig en lig. Al sy besittings moet kan inpas in die motor wat hy later aangeskaf het om makliker en gouer by meer plekke te kan uitkom. Ek kom agter daar was ook baie dae wat dit sleg met hom gegaan het. Hy is juis tans op ’n laagtepunt na die verbrokkeling van sy verhouding en spreek gereeld sy sielkundige. Terwyl hy daaroor praat, lyk hy so broos, moeg en emosioneel uitgelewer, dat ek nie kan verhelp om te vra of dit nie tog tyd geword het vir hom om terug te gaan na sy land waar omstandighede vir hom met sy eie gesondheid veel makliker sal wees nie. Nee, kom die antwoord beslis. Hier voel hy nuttig en waardevol en kan iets beteken. Hy voeg by dat ek nie die vreugde sal verstaan van iemand wat agterkom daar bestaan iets soos ’n diabetes toets-toestel nie, want ek het nie diabetes nie.

“En sê my, hoe moet ek weer sonder Afrikaans leef? Ek sal geheel verskeur wees daaroor. Jy wat ook in hierdie taal skryf en dit liefhet behoort dit tog te verstaan?” kom dit driftig, effe beskuldigend. (Nou julle, ek is nie ’n klip nie. Hierdie moedige man van Oranje en sy liefde vir Afrikaans trek op daardie oomblik soos suurdeeg in my in, ook in my oë wat so lastig begin brand dat ek moet wegkyk).

Ek probeer nog my stem vind om dankie te sê dat hy so lief is vir my moedertaal, toe bedank hy my dat ek hom aanvaar net soos hy is en ingestem het om hom te ontmoet.

Met hierdie skrywe wil ek nou sê: Dank je wel, Wim, dat jy saamveg vir die taal wat jy beskou as ’n absolute voorreg om te kon leer praat. Jou entoesiasme maak my tegelyk trots en skaam en is ’n inspirasie vir almal met Afrikaans as moedertaal. Die voorreg van die ontmoeting was myne.

Voorspoed, mag jou gesondheid jou toelaat om sommer nog lank Afrikaans te praat en nuttig te wees.

Hoogagtende groete

Douwleen Bredenhann

NS – Ek was tot dusver die enigste persoon wat op Wim se navraag oor “lotgenote” gereageer het. Hy wil nou Afrikaanse klasse begin neem om sy uitspraak te verbeter en ook nuwe vriende te ontmoet. Hy is taamlik eensaam en kan sekerlik doen met ’n paar nuwe vriende, veral in Stellenbosch en omgewing. Indien ander SêNetters met hom in verbinding wil tree, hier is die skakel na sy volledige oorspronklike brief op Kuier@LitNet.

Wees gewaarsku, hy is kompleks, maar beslis die moeite werd om te leer ken!

(Hierdie skrywe is voorgelê aan Wim Braamse en deur hom goedgekeur)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top