Volgens my was ds JD Kestell - die beroemde "Vader Kestell" - die grootste Kovsie van almal.
Kestell was leraar te velde van die Oranje-Vrystaatse magte tydens die Anglo-Boere-oorlog. Hy het nóóit wapen gedra nie. Sy boek wat ná die oorlog in Duits verskyn het (in Afrikaans vertaal as Met die Boerekommando's) bly een van die aangrypendste verslae oor wat oorlog alles aan gewone mense kan doen. Kestell se medemenslikheid, sy sin vir humor, sy inbors, sy nederigheid, maar ook sy lacrimae rerum - sy mededoë vir almal wat ly en swaarkry - bly ontroerend en opheffend.
Kestell was 'n geleerde man. Hy was geskool in die klassieke en het tale soos Duits en Frans vlot gepraat. Sy kunssin het nie net uit sy skryfwerk geblyk nie - 'n foto wys hoe hy 'n beeldjie uit klei boetseer.
Sy gawes het hy tot die beswil van sy mense - die verarmde Vrystaters - ingespan. In 1909 bring hy 'n arbeidskolonie, Goedemoed, op die been, en later is hy aktief betrokke by die Helpmekaarbeweging, met 'n oproep dat almal moet saamwerk om armoede te bekamp. Kestell voer aan dat die oorsaak van armoede ook by die welgesteldes gesoek moes word. "Veral die welvarende maatskappye het mense in hul fabrieke en ondernemings ontoereikende lone betaal ten einde hul winste en diwidende te vergroot."
Hy bring weeshuise tot stand, en beywer hom vir moedertaalonderrig. Hy was 'n stigterslid van die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Van 1916 tot 1934 was hy voorsitter van die beheerkommissie van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein en die stigter van die Oorlogsmuseum op die terrein.
In 1920 volg Kestell dr Johannes Brill op as die tweede rektor van die Universiteit van die Vrystaat. In sy inhuldigingstoespraak aan die sowat 150 studente sê Kestell dat, ofskoon dit die ideaal is om "die hele siklus van wetenskaplike vakke" te beoefen, opvoeding ook "die opvoeding van die mens in die ganse kompleksiteit van sy wese en bestaan" moet insluit. Nie net die verstand nie, maar ook die hart moet in aanmerking kom. "Mense met 'n ernstige lewensbeskouing" wil nie "alleen aan die verstand nie, maar ook aan die karakter aandag gee". Sy "oorgawe aan Christus" is 'n saak van erns.
Die reeds bejaarde Kestell reis in 1921 en 1922 na 42 Vrystaatse dorpe om die inwoners aan te moedig om hul kinders na die Universiteit te stuur. Sy pogings werp vrugte af: in 1925 styg die aantal studente tot 413.
Soos algemeen bekend, was Kestell een van die vyf vertalers wat in 1933 die Bybel in Afrikaans laat verskyn het.
Na die Groot Depressie is Kestell - toe reeds by die tagtig jaar oud - aktief betrokke by die stigting van die Reddingsdaadbond, wat weer eens daarop gemik is om verarming by sy mense te probeer teëwerk.
Vandag sou mens seker met reg kon sê dat Kestell met 'n wyer oog na al die mense in die Vrystaat moes gekyk het. Hy moes al die mense, wit en swart, se belange op die hart gedra het. By nabetragting sou 'n mens seker so kon sê, ja. Maar ons lewe nou in 'n ander tydvak, met ander idees, en dis maklik om retrospektief wys te wees.
Kestell se onkreukbaarheid, sy "hart", sy onvermoeide ywer ten bate van ander, en iets wat net as "edelmoedigheid" beskryf kan word, bly staan.
'n Navolgingswaardige voorbeeld vir Kovsies se nuwe rektor, sou ek sê!
Marietjie Luyt
Bronne:
1. John Daniël Kestell 1854-1941. MCE van Schoor, 1992. Oorlogsmuseum van die Boererepublieke
2. Met die Boerekommando's. JD Kestell, vertaal deur DPM Botes. 1999. Protea Boekhuis


