Bokomo-brekfisbrief; 25/09/09 'n Boere-oorlogstorie

  • 0

Ek het onlangs PG Du Plessis se roman, Fees van die Ongenooides gelees. Aanvanklik was ek maar bra skepties. Was regtig nie lus om nog 'n roman oor die Tweede Boereoorlog te lees nie. Maar toe vang die boek my. Amper onverhoeds. En dis beslis die lees werd, vir die wat dit nog nie gelees het nie. Dit het my baie laat dink aan my eie persoonlike familiegeskiedenis.

Anders as PG is ek te jonk om 'n Oupa of Ouma te gehad het wat deel was van die Boereoorlog. My oudste Oupa was gebore in 1902 en hy is oorlede toe ek vier jaar oud was. Sover ek kon vasstel was nie een van my voorsate ooit woonagtig anderkant die Oranjerivier nie. Waarom weet ek nie. Ek glo darem nie hulle was 'n spul Hanskakies of Hensoppers nie!

My grootouers aan my moederskant het beide van die Ladysmith area in die Suid-Kaap gekom en mekaar ontmoet in Stellenbosch. My grootouers aan Vaderskant het mekaar iewers in die Noordweste ontmoet. (My oorlede Ouma se weergawe van hulle ontmoeting was myns insiens altyd onder verdenking.)

Maar dis ook aan hierdie Ouma aan wie ek een van die roerendste ware verhale uit my familiegeskiedenis te danke het. Haar Pa was 'n Britse soldaat wat uitgestuur is om op die koppies iewers in Namakwaland uitkyk te hou vir moontlike boeremagte. My oumagrootjie was 'n nooi van Zyl en my oupagrootjie het skynbaar op haar Pa se plaas uitkyk gehou. En dis waar hulle mekaar ontmoet het.

My Ouma was hulle oudste kind en is in 1903 gebore. My oupagrootjie het Afrikaans geleer praat en was 'n algemene handelaar op die dorp. Sy winkel staan vandag nog daar en word tans bedryf deur 'n neef van my Pa. Skynbaar het my oupagrootjie nooit weer terug gekeer Engeland toe nie. Die vyf kinders het Engels met hulle Pa gepraat en Afrikaans met hulle Ma.
Hierdie Oupagrootjie het elke jaar geld geskenk aan elke godsdienstige denominasie op die dorp aangesien hy gevoel het dat hy geen een bo die ander kon begunstig nie. Ek het slegs drie van sy kinders geken, insluitende my Ouma.

Sy oudste seun, Boy, is vroeg in die negentigs oorlede. Hy was een van die mees liberale mense wat ek in my lewe geken het. Baie wel belese en oopkop soos die Noord Kaapse vlaktes. En ook iemand wat nooit oorsee was nie. Tog vreemd hoe party mense 'n liberale uitkyk op die lewe kan ontwikkel sonder om fisies die wêreld te gaan verken.

Hoe dit ookal sy, nou na die lees van die roman, vra ek myself weereens af: watter stryd moes my oupa en oumagrootjie nie gevoer het om so gou na die oorlog te trou en dit oor groepsgrense nie. Dalk is daar ander LitNetters wat ook interessante verhale het oor die boereoorlog. Dit strek veel wyer as wat ons altyd besef.

Groete,

Ludolf Parker

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top