Bokomo-brekfisbrief; 25/08/2010: Storie sonder 'n punt

  • 0

Ek en W was (soortvan) vennote.

Hy en V was vir 28 jaar saam, maar dinge het daardie tyd begin lol, want sy was eintlik nie meer lief vir hom nie en het half uit haar pad gegaan om dinge na ‘n punt toe te dryf. En dit het hom klaargemaak, want hy was ‘n sensitiewe siel, maar op die ou einde het hy toe tog maar die bul by die horings gepak en haar geskei. (Tot my vreugde, want sy was 'n ou heks en ek het ook nie meer geweet waar om te kyk as hy in die aande ná werk met ‘n glas in die hand in sy kantoor aan't snik geraak het nie.)

Een aand stap ek by hom in waar hy besig is om dosyne klein klêssiefaait-advertensies uit ‘n tydskrif te knip en op ‘n kartonbord in sy kantoor te plak. “En nou, W?” vra ek laggend “Wat maak jy nou?”

“Nee,” beduie hy stilweg, “ek’t besluit hierdie alleenwees–geite gaan nie werk nie. So, ek gaan al die vrouens in hierdie advertensies bel, dinge van ‘n kant af deurwerk en aanhou totdat ek iemand ontmoet wat vir my ‘n maat kan wees.”

Ek’t maar half skepties gestaan, want self is ek maar bietjie van ‘n romantikus en glo nie jy kan regtig ware liefde vind deur so sistematies te werk te gaan nie. Nietemin, hy het (soos met meeste dinge) sy eie kop gevolg en kort ná ons twee se paadjies (besigheidsgewys) geskei het, het ek gehoor hy’t ene T ontmoet en die tweetjies is getroud. Dit was sowat 12 jaar gelede.

Omtrent 3 jaar terug, trek ek weg uit die omgewing en besluit om W en sy vrou (wie ek nog nooit ontmoet het nie) oor te nooi vir ‘n braai. For old times sake. Ek hou hulle dop - albei in hul mid-sestigs, maar soos twee verliefdes wat hul lewe lank saam was. Sy dra sy sigarette in haar handsak en raas gemaak kwaad as hy begin rondkrap vir ‘n rokie. En terwyl ons gesels hou hulle handjies en kort-kort druk die een die ander half ongesiens – sommer net om te sê: “Ja, ek kuier lekker, maar ek is baie bewus van jou teenwoordigheid en ek kan nie wag nie tot ons twee later alleen huis toe gaan nie.”

Ek was verstom en ek moes by myself sit en glimlag. Wie sou kon dink dat W op sy ouderdom sy ander helfte sou raakloop en dit boonop via die blêrrie klêssefaaits?

Vanaand ontdek ek toevallig W se telefoonnommer tussen ‘n klomp papiere en besluit om hom te verras met ‘n oproep. “Haai, Daan, jislaaik!” seg hy opreg bly  “hoe gaan dit met jou en die vrou?”

“Nee wat, heel goed, dankie!” antwoord ek “En met jou en T?”

Stilte.

“Nie so goed nie” sê hy uiteindelik sag “Sy’t kanker gehad en sy’s Meimaand dood.” Dan huil hy weer  hartverskeurend soos toe V hom gelos het en ek weet weer nie wat om te sê nie.

“Dankie vir die bel, Daan … sorrie hieroor … ek moet nou gaan … hou kontak.”

Kliek.

Ek sit half verslae en al waaraan ek kan dink is die plakbord destyds met die name en foonnommers in sy kantoor. Toe hy sy trots in sak gesteek het en teen alle odds DIE EEN loop soek en vind het. Ook sy gebroke stem op die foon vanaand en die onverklaarbare knop wat nou in my keel sit.

Shit.

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top