Melt,
Dit klink vir my of jy jouself ook in ʼn kulturele moeras bevind. Een wat bestaan uit ʼn mengelmoes van souse wat afsonderlik as afronding van smaaklike disse dien, maar wanneer dit soos nou om jou bruis en borrel met elke voel-voel tree, nie lekker op die palet lê nie.
Die onlangse gebruik van woorde/terme/bedoelings soos amnestie, klassestand, sensuur, beskermde intellektueles, professionele jaloesie, moddergooiery, persoonlike aanvalle in bydraes tesame met die toelaatbaarheid al dan nie op die Sê van onderhoude met, of inligting oor ander kunstenaars/kunsvorme wat deur LitNet aangebied word, is die rede vir bogenoemde metafoor.
Ek is nie ʼn hoofstroomdeelnemer nie maar gee tog my beskeie mening:
ʼn Ou Meksikaanse gesegde lui: “Gesprek is voedsel vir die siel”. Hierdie is tog seker ook ʼn sosiale gespreksforum? Individue neem, namens hulself en soms namens bepaalde groepe, hier aan gesprekke deel met, bo en behalwe die bestaande voorwaardes soos deur LitNet vasgestel, sekere gedeelde gemeenskaplike eienskappe, waardes en norme as ondertone wat parameters toets, bevestig en vasstel met verloop van die proses.
Ten spyte daarvan dat voedende/opbouende/ gesprekke af en toe deur sekere elemente ontaard in “food fights”, soos een deelnemer dit stel, sou ek liewer die venyn ignoreer en verkieslik aansit by ʼn tafel waar heelwat disse beskikbaar is as om aan te sit vir ʼn maal wat net uit een bestanddeel bestaan. Daarmee bedoel ek nie dat die rentmeesters mekaar nie moet herinner aan die wenslikheid om met respek vir self en ander in debat te tree nie. In hierdie verband sien ek jou, Melt, as hoof-rentmeester wat as voorbeeld hom goed van sy taak kwyt.
ʼn Gegewe groep se interaksie word weliswaar onder andere deur daardie groep se kultuur gereguleer. Elke kultuur besit eie waardes en norme. Die vraag ontstaan nou of alle deelnemers dieselfde kultuurgroep verteenwoordig? Indien nie, bly een kulturele element tog gemeenskaplike besit van almal hier: Afrikaans – al besig ons dit vanuit verskeie verwysingsraamwerke met variërende mate van sukses met inagneming van “dinamiese” standaarde. Ons behoort uit eie waarde nie persoonlike beledigings (soms onder die dekmantel van spraakvryheid) rond te slinger nie. Vir my is die geleentheid om te kan Sê reeds ʼn bevrydende voorreg. Wát en hóé ek dit sê, is ʼn verdere voorreg wat aan verantwoordelikheid gekoppel is. Die reg tot eie/groep se opinie dek nie vanselfsprekend die verdraaiing van feite om stellings/ontkennings te staaf nie. Die vryheid om te kies wat ek wil/sal lees is ʼn “ongrondwetlike” reg wat dalk verband kan hou met fragmente van my kultuur. Die openbare gebruik van kragwoorde demonstreer (volgens my) geensins dat ʼn deelnemer voldoen aan die “vereistes” van spraakvryheid nie. Met my ongeslypte Afrikaans, maar tog as gemeenskaplike besit van kultuurgoedere, voel ek tuis hier. Dit moet seker ook dan vir die groot kanonne van ons letterkunde ʼn skuilnaam-bedekte foltering wees om groentjies soos ekself se bydraes te verduur. Maar weet dit – ek aspireer om met gebruik en oefening my vaardigheid ook op hierdie omstrede forum te slyp. Dus is die “baanbrekers” se voortgesette professionele verteenwoordiging hier baie belangrik.
Laastens: Omdat daar betreklik min geleentheid bestaan vir gevestigde en nuwe talent wat in Afrikaans skep, om publisiteit te kry, plaas ek myself in daardie afhanklike kunstenaar se skoene. Ek het daarom geen gedagte om hulle van bekendstelling in eie kultuurgroep te ontneem nie en nooi hulle ewe windgat namens my rentmeester ook na hierdie veelsydige, omstrede, sinvolle, irriterende en vermaaklike forum!
Mag ons, Afrikaanssprekendes, se grondgebied sinvol ontwikkel en vergroot.
Mike Olivier


