Bokomo-brekfisbrief; 25/05/2010: Die Bees se naam is Belsebul

  • 0

Ek kan onthou as kind hoe daar met osse geploeg is. Herre, die tyd staan nie stil nie.

Nou, die inspan-storie is nogal ‘n gedoente as jy nie WEET nie. Jy draai nie ‘n sleutel nie. Jy moet elke halsstarrige bleddie os in die juk kry. Sommige is heel rustig oor die storie. Goed geleerd en staan klaar reg. Sien selfs uit na die werksdag. Sela.

Sommige osse is baie soos van my werknemers. Sommige wil net nie. Wil nie werk nie. Wil nie stilstaan nie. Wil nie. Hulle moet gemotiveer worre.

So sit ek op ‘n miershoop langs ‘n perdewa en kyk hoe my Oupa en syse manne van naam vroegoggend en ek bedoel so teen vyfuur op ‘n koue oggend, osse inspan. Dis osse, rieme en kettings en jukke en skeie en ploegerasiemasjiene.

Een blikskottel (Daar is altyd een.) is net nie lus vir die gedoente nie. Hy bly staan soos net ‘n bees van ‘n bees kan staan. Weier om in die juk in te gaan. My Oupa kom sit hier langs my. Bekyk die os sooo. Die werkers trek. Hulle fluit. Hulle klap met die langswepe. Hulle kry so ‘n skelm skop in as die Oubalie nie kyk nie. Die os bly vierkant staan. Hulle praat mooi. Die os kyk weg doer in die verte in. Hy gaan vandag nie werk nie. Dis syse afdag.

‘Oupa, is die os nie dalk siek nie?’ Vra ekke.

‘Nee. Makeer boggerol. Lui. Hy maak soms so. Het ‘n probleem met gesag. Sy naam is Belsebul.’

Jiems die voorman kom vra raad.

‘Daai fokkieng os wil nie.’

‘Jou taal. Ek sien.’

‘Skuus. Ons moet hom los.’

‘Nottendêm. Ek gaan hom nie sy sin gee nie. Hy moet werk. As ons hom los is ons een ploeg kort. Kry hom aan die gang, magtag.’

‘Ek maak so.’

Jiems is in ou taal, ‘n ‘voorslag.’ Dit beteken hy kan omtrent op sy eie boer. As dit nie was vir ‘n paar kleine swakhede nie. Hy suip soos ‘n vis. Raps soos ‘n konyn. Rook boom soos ‘n skoorsteen. En hy het net een tand. Skuins voor.

Jiems staan nader. Met ‘n doelgerigtheid. Die soort gerigtheid wat groot manne bangmaak. Dis nou ‘n saak van eer. Hy stap om die dierasie. Bekyk hom.  Bekyk sy hoewe en sy skof. Sy wye horings en die wit vlekke op sy lyf. Hy kyk hom in sy oë wat wit in die kaste rol. Hy ruik syse asem wat warm wolke uit sy nat snoet blaas. Hy trek ‘n bosluis af van sy nek af. Hy stap om hom. Praat. Die soort van gesprek tussen twee wat ‘n keerpunt bereik het.

‘Jou os. Jou moerse bul van ‘n os. Jou bees. Jou Belsebul.’

 Jiems trek sy broek so ‘n balknyp hoër op. Spuug so ‘n bruin sopperigheid eenkant toe. Trek die gordel ‘n gaatjie stywer. Ek hoor my oupa onderlangs lag.

Jiems gryp die bees se stert en byt. Hy sink daai een tand weg in die bees se stert!

Vader van genade.

Daai bees bulk en skyt tegelyk! En toe, ja en toe, is die hel los! Die bees storm en skep na wat ook al beweeg! Alles en almal laat spat in verskillende rigtings. My Oupa duik met my op die wa. Die osse wat reggestaan het, hol die wye vlaktes in. Groot manne gil en lag in gelyke maat!

Eenkant staan Jiems. Hy buk tel sy beesbekakte hoed op. Daar is die dag nie geploeg nie.

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top