Bokomo-brekfisbrief; 25/04/09: My verkiesingsdag

  • 0

 

 

Dag Melt

Ek dag ek sal my ondervindings die afgelope verkiesingsdag met jou en jou lesers deel, omdat ek glo dat my verhaal een van hoop is, iets wat ons almal tans in groot dosisse benodig.

Omdat ek niemand vertrou nie, en daar weer geen duiwewedrenne op TV was nie, het ek besluit om die stelsel te toets deur op vyftien verskillende plekke vir vyftien verskillende partye te probeer stem.

Gewapen met 'n botteltjie naellakverwyderaar, my vermommingskit en 14 gesteelde ID-boeke uit my dae by BOSS, het ek tou gaan staan by verkiesinglokale vanaf Muizenberg in die suide tot Laaiplek in die noorde. In die swart areas het ek my soms as 'n wit liberaal, soms as 'n Lutheraanse priester vermom, omdat ek werklik nie weer kans gesien het vir die schlepp van skoenpolitoer verwyder, soos in 1994, nie. In die wit areas het ek my onder andere as 'n eiendomsagent, 'n afgetrede voorradeklerk, 'n manlike verpleër, 'n paaldanseres en 'n kegelbalspeler - om maar net 'n paar te noem - vermom.

My dag het 03h00 begin en 23h00 geëindig, maar dit was dit werd: ek het eerstehands vasgestel dat ons verkiesingstelsel regtig uitstekend werk. Ek is net by drie lokale nie uitgegooi nie, en dit was lokale waar ek die verkiesingsbeampte 'n paar rand in die hand gestop het. By die een lokaal, waar ek as myself, met my eie ID tou gestaan het (en vir my eintlike party, KISS, wou gestem het), is ek uitgegooi omdat ek volgens die buitelandse waarnemer verdag gelyk het. Bid jou dit aan. In Bellville is ek uitgegooi toe ek nie die drie belangrikste komponente van 'n gesinchroniseerde ratkas vinnig genoeg kon opnoem nie (ek verstaan nou die Eerste Gebod van Bellville - jy moet ses dae vir jou kar werk en die sewende dag op hom - beter), en in Bishopscourt omdat ek nie die Spencer-kinders se name met presies die regte intonasie kon uitspreek nie. Kop omhoog, en voete nog hoër, is ek uitgehelp onder die afkeurende blik van St Helen se dissipels.

In Hanover Park was my alias reeds oorlede, maar was hulle nogtans bereid om my tegemoet te kom totdat iemand opgemerk het my "28's tjap" is verkeerdom.

In Stellenbosch kon ek nie lank genoeg die pretensie van intellektualisme voorhou nie, en in Observatory het my "Boerekryger"-vermomming verhoed dat ek eers tot die tou toegelaat is.

Jammer, Melt, ek sal later verder moet vertel, tyd is nie my vriend nie.

Groete

Die Dementor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top