Bokomo-brekfisbrief; 25/03/2010: Foto's - toe en nou

  • 0

 Gister, vroegaand, stuur ‘n vriend vir my so 24 foto's op Facebook. Dis van die heerlike dag wat hy en sy ma by ‘n Natuurreservaat deurgebring het. Ek geniet die foto's, maak kommentare, sommer net daar en stuur vir hom ‘n boodskap terug. Al hierdie dinge gebeur in rofweg ‘n uur nadat hulle tuisgekom het. Hy bly in Pretoria en ek in die Kaap.

As mens ouer word laat hierdie dinge jou terugdink. Eintlik laat alles mens terugdink. Om mee te begin, dink ek aan hoe klein ons wêreldjie geword het. Sowat dertig jaar gelede was so ‘n foto-nemery ‘n heel ander storie.

Om mee te begin het mens baie meer suinig te werk gegaan met ‘n filmrolletjie, dit was duur. Mens kon nie net sommer ‘n foto uitvee nie. Nee, as dit geneem was, was dit geneem. Behalwe dat ‘n filmrolletjie duur was, was ontwikkeling ook nog duur. Toe kom die wonder van ‘n digitale kamera. Jy kan nou kliek en kliek vir ‘n vale. Hoe meer foto's jy neem, hoe groter is jou keuse. Wat jy nie wil hê nie, vee jy net eenvoudig uit en dis verby. Geen koste nie. Jy hoef ook nie te wag totdat al die foto's op ‘n rolletjie eers klaar geneem is nie.

Daardie jare het ons nog op ‘n plattelandse dorpie gebly. Wanneer jou filmrolletjie vol was, het jy dit apteek toe geneem. Hulle het dit weggestuur, per pos, na die naaste groot dorp wat self ontwikkeling gedoen het. Jy het drie weke gewag vir die foto's om terug te kom. Mens kon gewoonlik nie wag om daardie pakkie oop te maak nie. Wanneer jy daarna gekyk het, was jy verbaas oor sekere foto's wat jy geneem het. Dit was al so lank gelede, jy kon dit skaars nog onthou!

Maar, omdat ons niks anders geken het nie, het ons energiek voort gekliek. Dit was immers ‘n groot verbetering op die bokskamera om nie eens te praat van die dae toe die fotograaf nog onder ‘n groot swart doek moes inklim nie!

Lidia

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top