Bokomo-brekfisbrief; 25/03/09: Die bakhand-sindroom

  • 0

 

 

Op ʼn baie onlangse tog deur Botswana na Namibië het die ongeluk vir my en manlief getref. Ons was al oor die halfpad van ons reis na Swakopmund toe ons getroue ou werkesel-4x4 die gees gaf tussen êrens en nêrens! Die ou dier het ons al deur Namibië, sentraal-Kalahari, Savuti, Moremi in die Okavango, Chôbe, Zambië, Lesotho en male sonder tal, Krugerwildtuin toe geneem. Met so ʼn paar honderdduisend kilometers op moes daar seker éen of ander tyd iets verkeerd gaan.

Ons was nog so lekker onderweg op die Trans-Kalahari-roete in die middel van Botswana, so twintig kilometer verby die dorpie Kang. Dis ʼn lieflike pad en die omgewing is asemrowend ... pure Kalahari-sandveld bome en struike. Dit was ʼn wonderlike reënjaar in Botswana en orals staan alles geil. Langs die pad is plate en plate geel blomme. Orals is duisende skoenlappers. Ek het nog nooit so iets gesien nie! Min besef ons dat hierdie einste skoenlappers ons reisvlerke sou kortknip.

Eers hou die lugverkoeler op met werk en terwyl ons nog bespiegel of die gas op is, sien manlief dat die temperatuurmeter deur die dak skiet. Bolle rook peul by die enjinkap uit en hy gil dat ek die brandblusser moet kry. Ons is altyd goed voorberei, maar dié keer is die brandblusser goed toegepak. Ek duik soos ʼn atleet met my vyf-en-vyftigjarige lyf dwarsoor die agterste sitplek en klap vervaard swaar tasse en ander goed eenkant toe asof dit seepbelle is en ruk die brandblusser uit. Agterna was ek vol blou kolle en snye. Die adrenalien het egter goed gewerk!

Gelukkig was die vlamme toe darem net stoom! Met bitter min water (ons het weereens opgeslip, want ons vat gewoonlik baie) is ons toe nou lelik in die moeilikheid. Daar het presies vyf motors en bakkies van albei kante af gekom ... dis ʼn baie stil pad en dit was laatmiddag. ELKE ENKELE een het gestop en gevra of hulle kan help. Intussen het een ou vir ons gaan water haal en ons het vir almal gesê ons is reg.

Die watertoevoegsels het egter niks gehelp nie en ons ou "dier" het net aanhou verhit, heel waarskynlik van miljoene vlindervere in die verkoeler! 'n Volgende bakkie stop toe en bied aan om ons te sleep na die naaste dorpie twintig kilometer terug. Dit was ʼn min dae-trippie teen tagtig kilometer per uur met ʼn slegs drie meter lange sleeptou! Eish, my synuwys was gadaan!

Hulle sleep ons toe tot by ʼn oulike herberg in Kang. Manlief bied honderd Pula aan vir dienste gelewer en daar word dit vriendelik van die hand gewys. Die mense seg dat hulle ons wou help, uit en gedaan. Ek het baie skaam gekry, want hoekom wil ons altyd ʼn swart mens betaal as hy iets vir ons doen?

Ek en manlief kom tot die gevolgtrekking dat ons vreeslik beledig sou voel as iemand ons wil betaal vir hulp wat ons aanbied. Deur dit te doen, voed ons net die bakhand-sindroom en ʼn gevoel van minderwaardigheid by ons swart broers en susters!

Ons was twee dae uit en tuis, terug agterop ʼn sleepwa ná eenduisend seshonderd kilometer en een spoedboete! Maar dit was nog steeds ʼn wonderlike ervaring en ons het geen vuil wasgoed gehad nie, net die twee dae se kleertjies. Voorwaar ʼn bargain vir ʼn moeë huisvrou!

Groetnis,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top