Hello, Swys
Net éérs ʼn vinnige vragie. Rook jy nóg gereeld pyp? Ekself het mos opgehou rook.
Die ontdekking van dié dinge wat die lewe lekker maak, soos byvoorbeeld kaas en wyn, is gewoonlik te danke aan iets wat êrens verkeerd geloop het. Só is ook agtergekom wat die mees ideale materiaal is om ʼn pyp mee te maak. Iets het êrens verkeerd verloop!
ʼn Franse pypmaker het op ʼn baie ongeleë stadium sy meerschaum gebreek. Soos jyself agtergekom het, behoort so ʼn terugslag mens nie té droewig te maak nie. Dié goed rook net nie so lekker soos ʼn gewone pyp nie. Maar 30 - 40 jaar terug het mens tog ʼn meerschaum in jou vesameling pype nodig gehad. Geen pyproker met styl sou daardie jare met ʼn ghoen in sy mond in die foyer van die Staatsteater betrap wou word nie. Daardie jare was formele drag nog die in-ding.
Niks het by ʼn tuxedo gepas soos een van Andreas Bauer se klassieke "billiards", nie. Kry sommer hoendervleis as ek aan daaraan terugdink. Daai barnsteen-steel ... die kleur van die kop. Om die oorspronklike wit van die kop só ʼn goudbruin te kry, was nie maklik nie. Maar ai, lekker rook ofte not, jy het soos ʼn koning gevoel met daardie pyp in jou mond.
In die 1850's was meerschaum ʼn heel ander storie. As jou pyp breek, en meerschaum is nie beskikbaar om 'n nuwe pyp te kerf nie, dan was jy in die knyp. Die klei- en porseleinpype wat vantevore die mees algemene rookding was, was nie meer aanvaarbaar nie.
Met die gemors van 1814 vergete, en na die terugkoms van sy oorskot, het Napoleon ʼn amper kultusstatus onder die Franse gekry. ʼn Blote besoek aan die Les Invalides was vir baie nie genoeg nie. ʼn Pelgrimstog na Korsika, sy geboorteplek, was die enigste wyse om hulde te bring aan hulle gestorwe keiser. Op só ʼn pelgrimstog het daardie Franse pypmaker sy meerschaum gebreek. Sonder ʼn rookding was Napoleon toe maar net weer die Kleine Korporaal en was die opgewondenheid waarmee hy sy reis onderneem het, daarmee heen.
Een van die plaaslike boere het hom oor hierdie man se jammerlike gemoed ontferm en vir kom ʼn ander pyp gekerf. So beïndruk was hy met sy nuwe pyp, dat hy specimens van die hout waarvan dit gemaak is, saamgevat het Frankryk toe. Vinnig het dit versprei, en teen die 1870's was meerschaum se dae as ideale pypmedium verby. "Bruyère", dis maar net die Franse weergawe van die Engelse term "briar", was van toe af aanvaar as die ideale materiaal om ʼn pyp van te maak.
Nog net iets kort oor Alfred Dunhill. In 1924 verskyn sy boek met die baie beskrywende titel, The Pipe Book. Na sy dood skaaf sy seun daaraan en in 1969 verskyn Alfred Henry se hersiene uitgawe van sy pa se boek. Ek kan my nie die herrie voorstel as daardie boek vandag weer uitgegee word nie. Kyk net bietjie hieronder hoe omskryf daai stywelip van 'n Alfred H Dunhill Esq die pyprokers van Suidelike Afrika.

(Die titel van die boek waarin hierdie illustrasie verskyn is The Pipe Book deur Alfred Dunhill. Die kaart kom uit die hersiene uitgawe wat in 1969 uitgegee is.)
Mooi loop.
Schnauz


