Bokomo-brekfisbrief; 25/01/09: Fietas, vir Douw en Oom Daan

  • 0

 

 

Hey, engeltjies

Oom Daan, Douw, die Fietas wat ons as studente geken het van 1967 tot 1970 en joune verskil ietwat. Die Goudstadse Onderwyskollege (Gokkies) was in Auckland Park, by die gasfabriek, en baie na aan Fietas en Jan Bom. Die mense daar was arm, blouboordjie werkers, sommige met kosblikke en dikwielfietse, maar die misdadige element was grotendeels al weg, en die laer middelklas huisies het behoort aan mense wat eerlik gewerk het, met ‘n effense scam of twee deur ‘n paar meer enterprising siele, maar nie te erg nie..

Daar was winkels in Fietas waar jy enigiets teen ‘n afslagprys kon kry, en mens sal nooit weer of dit grys area goedere was nie (gesteel), maar die winkeleienaars het eerlik gelyk en geglimlag en moeite gedoen vir goed wat mens skielik moes hê vir ‘n kollege-taak, ens. Dit was amper soos die R5-winkels deesdae, of Excitement stores, met alles wat jy nodig het, vriendelike staf, en nog meer.

Ons het ook soms liefdadigheidswerk in Fietas gedoen, as ‘n studenteorganisasie, en waar daar nood was, verligting gebring met voorrade, besoeke en ondersteuning. Daar was een tannie, wat op 96 steeds alleen in haar huisie gebly het, self gekook het, op stoele geklim het om haar gordyne reg te hang, en ‘n groentetuin gehad het wat met die bestes kon meeding. Maar dan klink dit nogal soos my skool-musiekonderwyseres, Juffrou Donges, wat op ons 40-jarige skoolreünie nou die dag op Centurion met ‘n Rolls Royce aangery is deur Ben Lieb, die groot gees agter die okkasie, sy het die skoolbiblioteek gerun en sang en musiek gegee, en bestuur nog self haar eie kar! Sy dra steeds effense hoë hakke, haar pragtige ringe en juwele, en deftige klere en snyerspakkies, soos destyds. ‘n Ware dame toe, en nou. O ja, sy is 98 … amper ‘n honderd geseënde jare oud. En sy het ons almal onthou … op 98! As ons almal maar net so grasieus en pragtig kon oud word!

Waar Fietas aan die bokant van die Kollege was, was Makouvlei aan die onderkant. Ook ‘n inkopiesentrum, en studentemekka. Tussen Fietas en Makouvlei was studentelewe vreemd, interessant en nooit vervelig nie. Ou Ma Hamman (Sonja Herholdt se skoonma) het ons dames soos goud opgepas, maar met ligflitse van Panorama-koshuis af na die manskoshuis op die bult, was dit moontlik om tog met die koshuis studente owerhede (vloerprimaria) se goedkeuring, ‘n ou mandjietjie van sesde vloer af te laat afsak sodat die Dirty Dozen (waarvan Buks een was!) Fietas toe kon gaan met Groot Dirk du Preez se sat Renault, en ‘n paar botteltjies iets en baie pakke warm slap tjips vir die dames se gangpaartie kon gaan koop. Die geld is in die mandjie, die mandjie gaan af, af, af, en kom vol terug, en gaan op, op, op. Ek dink Ma Hamman het geweet, maar ten minste was ons veilig in die kamers na 8 saans en die hangover van die drie verskillende bottels booze waarvoor ons saamgeclub het, gemeng en saam met blikke ingelegde vrugte en bottels lemonade in ‘n groot plastiek asblik gegooi en gemeng as punch, was ons probleem, nie hare nie.

So, Oom Daan, en Douw, Fietas het nostalgiese herinneringe aan ‘n wonderlike tyd toe mens nog drie uur snags sonder vrees in Hillbrow kon loop, toe mens na plekke soos die Silver Chalice en Belle Napoli en die Skyline Hotel toe kon gaan en nugter en heel tuiskom as studente en jong getroude mense. Those were the days, my friend, we thought they’d never end, but last forever and a day … en nou, nou is die einde in sig. Sewentig jaar, as jy baie sterk is, tagtig. Ek is 60. Sestig is nie vir sissies nie, en die volgende tien of twintig of een of twee gaan ‘n fees wees, want elke dag is ‘n blessing en ‘n bonus. Viva Life, Viva Love! Ja okay, Maya, ek weet dis die titel van een van my voorgeskrewe skoolhandboeke vir Graad 11- kortverhale, couldn’t resist it, sorry …

Joy en Blessings

Leandré

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top